So ver soos die Ooste van die Weste

Tuisskolers in Suid-Afrika beleef tans nog ‘n hersieningsproses van die beleid op tuisonderwys. Hierdie opsomming belig die belangrikste beleidsinisiatiewe met betrekking tot tuisonderwys voor en sedert 2004. Daar was verskeie sulke inisiatiewe: by elkeen is daar ‘n ophef gemaak van “konsultasies met belanghebbendes”, en met tuisskolers in die besonder.

By elkeen het dit egter ook geblyk dat die beleidmakers geen voorneme het om uitvoering te gee aan die unieke eienskappe van tuisonderwys as onderwyspraktyk nie. Inteendeel: Die onwankelbare doelwit is om tuisonderwys “in ooreenstemming” te bring met “die formele skoolstelsel”.

Ten spyte van die ongunstige regsomgewing het die Here dit vir duisende tuisskolers in die afgelope dekades moontlik gemaak om hul kinders tuis te kan opvoed. Mag Hy die Trust en die tuisskoolgemeenskap ook help om te verseker dat ons kinders en kleinkinders in die jare wat kom steeds in vrede sal kan tuisskool.

Tuisskolers en die Onderwysowerheid

Direk voor 1994

Enkele gesinne is toegelaat om, onderhewig aan streng beperkinge, hul kinders tuisonderwys te gee as hulle die kinders vrygestel kon kry van verpligte skoolbywoning. So’n vrystelling is slegs toegestaan tot Graad 3, as die gesin meer as 60 km van die naaste skool gewoon het, en indien die kind(ers) onderwys ontvang het van ‘n onderwyser wat gekwalifiseer was om junior primêre onderwys te gee.

‘n Paar ander gesinne het hul kinders onwettig tuisonderwys gegee. Sommige van hulle is vervolg en is gevonnis tot opgeskorte tronkstraf. André en Bokkie Meintjes het verkies om in Desember 1993 tronk toe te gaan eerder as om hul kinders vrywillig aan die staat se onderwysstelsel te oorhandig. Hulle is enkele maande nadat die nuwe grondwet in werking getree het ingevolge die algemene amnestie vrygelaat.

Sedert die grondwetlike omwenteling

Sedert die grondwetlike veranderings was daar drie groot beleidsinisiatiewe oor tuisonderwys in Suid-Afrika.

  • Aanvaarding van die SA Skolewet

Die eerste inisiatief was die opstel van die nuwe SA Skolewet. Dit het in 1995 begin. In die eerste weergawes was daar geen voorsiening vir tuisonderwys nie en die klein getal tuisskolers is nie ernstig opgeneem nie. Toe duisende Amerikaanse tuisskolers egter aan die SA Ambassadeur in Washington skryf omdat daar nie uitdruklik voorsiening gemaak word vir tuisonderwys nie, het die regering se houding verander.

Die SA regering het destyds nog verwag om groot skenkings van Amerika te kry en die Amerikaanse openbare mening is as belangrik beskou. Daar is dus in die finale weergawe van die SA Skolewet voorsiening gemaak vir tuisonderwys. Dit was net ’n paar jaar later dat Mnr Mandela gekla het dat Suid-Afrika slegs “peanuts” van die Amerikaners gekry het.

Teen daardie tyd was die wet egter reeds aanvaar. Die wet vereis dat elke tuisleerder by die toepaslike provinsiale onderwysdepartement geregistreer moet word – tensy daar geldige rede is om dit nie te doen nie.

LET WEL: Dit is nie die SA Skolewet wat tuisonderwys in Suid-Afrika “wettig” maak nie. Die Grondwet impliseer noodwendig dat elkeen die reg het om tuisonderwys vir homself of vir sy kinders te kies. (In werklikheid beperk die SA Skolewet die vryheid van tuisonderwys). In die beginjare was dit egter noodsaaklik om eksplisiete wetsbepalings te hê om aan amptenare, ouers en die publiek te bewys dat tuisonderwys “wettig” is.

  • Beleid oor die registrasie van tuisleerders 1999

Die tweede belangrike gebeurtenis was Mnr Kader Asmal se beleidsinisiatief in 1999. Tuisskolers is oor die beoogde beleid “geraadpleeg” omdat die wet dit vereis. Die minister se afvaardiging het egter feitlik geen aandag gegee aan die insette van die tuisskolers in die proses nie. Die resultaat was die huidige beleid oor die registrasie van leerders vir tuisonderwys, wat op 23 November 1999 gepromulgeer is.

Die beleid van 1999 verteenwoordig van die mees indringerige en beperkende beleidsdokumente oor tuisonderwys in die wêreld. Die Pestalozzi Trust het dan ook aan die minister geskryf en hom verwittig dat hierdie beleid daartoe sou lei dat die beleid oor tuisonderwys in die howe bepaal sou word en nie in die minister se department nie. Gelukkig het die Grondwetlike Hof in 2001 in die saak van Harris bepaal dat enige beleid wat uitgevaardig word in terme van die wetsbepaling waarvolgens hierdie beleid gepromulgeer is, nie ‘n wet daarstel nie, en dat so’n beleidsbepaling nie afgedwing kan word nie.

Die uitspraak van die Grondwetlike Hof het nie die onderwysamptenare gestuit nie. Vir die volgende vyftien jaar het hulle volgehou dat die beleid van 1999 “die wet” oor tuisonderwys is. Deur dit te doen, pleeg hulle minagting van die hof, en tuisskolers weier met reg om hul kinders onder sulke onwettige voorwaardes by die onderwysdepartemente te registreer. (Volgens die amptelike data was 98% van tuisleerders teen 2014 nie by die onderwysdepartemente geregistreer nie).

Gedurende die jare 1999 tot 2016 was daar slegs een poging om tuisskolers te vervolg. In Februarie 2000 het die polisie van Villieria, met Beeld agterna, vir Doddie Kleynhans probeer arresteer. Sy was ‘n arm en sieklike moeder van nege wat haar twee jongste kinder getuisskool het. Hulle was nie by die provinsiale onderwysdepartement geregistreer, soos deur die SA Skolewet vereis word nie.

Die Pestalozzi Trust se regsverteenwoordiger het vertoë aan die aanklaers gerig, wat die saak laat vaar het. Die blyk dat die owerheid besef het dat hulle wet en beleid nie sou standhou voor die howe nie, en in die daaropvolgende jare kon die Pestalozzi Trust ‘n stokkie steek voor alle verdere pogings om tuisskolers te vervolg.

  • Hersiening van die wet en beleid – sedert 2005

In 2005 het die Departement Basiese Onderwys (DBO) advertensies geplaas vir tenders vir navorsing oor tuisonderwys in Suid-Afrika. Die begroting was baie klein en die voorskrifte baie beperkend. Die Wits Education Policy Unit het die tender verower en het in 2008 hul verslag ingedien. Gegee die beperkinge waaronder die navorsers moes werk, het die verslag daarin geslaag om die tuisskoolgemeenskap van destyds te beskryf, en hul aanbevelings was meestal billik.

Tussen die jare 2009 en 2013 het die jaarverslae van die DBO telkens verwys na ‘n proses wat in werking was om die wet en beleid oor tuisonderwys te hersien. Die verklaarde doel van die hersiening was om die minister se drang te bevredig om tuisonderwys in ooreenstemming met “die formele onderwysstelsel” te bring. Die besonderhede van hierdie “proses” is egter vir tuisskolers heeltemal geheim gehou.

Die huidige hersieningsproses

In Augustus 2014 is omtrent ‘n dosyn verteenwoordigers van tuisskoolorganisasies regoor die land vir samesprekings met die elf onderwysdepartemente uitgenooi. Die samesprekings oor die hersiening van die wet en beleid is geskeduleer vir Oktober.

  • ‘n Konsep-besprekingsdokument

Die “konsep-besprekingsdokument” wat bespreek sou word, is eers ‘n week voor die tweedaagse vergading aan die tuisskolers beskikbaar gestel. Tuisskolers is dus ‘n week gegun om te reageer op ‘n dokument wat die onderwysdepartemente sewe jaar geneem het om saam te stel. Alle aspekte van hierdie konsepdokument het uitvoering gegee aan die minister se begeerte om tuisonderwys in ooreenstemming te bring met “die formele stelsel”.

Benewens die feit dat die beprekingsdokument op so’n kort kennisgewing beskikbaar gestel is, was dit heeltemal onaanvaarbaar vir die verteenwoordigers van die tuisskoolverenigings. Tuisonderwys sou in uitvoering van die dokument op baie maniere ondergrawe word. So is daar byvoorbeeld voorgestel dat alle tuisleerders geregistreer moes wees by “geakkrediteerde” kurrikulumverskaffers wat die tuisonderwys namens die staat moet “monitor”.

  • Tuisskolers stel hul saak

Weens die onaanvaarbaarheid van die konsepdokument het die tuisskolers nie eens daarop gereageer nie. In plaas daarvan het hulle die twee dae wat tot hul beskikking was gebruik om onderwysamptenare te onderrig oor al die belangrikste aspekte van tuisonderwys. Hulle het die duidelik gemaak dat min tuisskolers sou voldoen aan ‘n voorgeskrewe kurrikulum (wat ongrondwetlik is) en dat tuisskolers sterk gekant is teen verpligte assessering.

Uit die aanbiedings van die tuisskolers was dit duidelik dat die voorgestelde beleid doodeenvoudig nie met enige sukses ingestel sou kon word nie. Trouens, Dr Trevor Coombe het namens die departemente verklaar dat hulle van vooraf sou moes gaan dink oor die saak. ‘n Volgende vergadering is geskeduleer vir Januarie 2015.

  • Uitgestelde vergaderings

Die vergadering wat vir Januraie gereël is, is uitgestel tot Februarie. Daarna is die Februarievergadering onbepaald uitgestel. Uiteindelik het die volgende vergadering in Julie 2015 plaasgevind. By hierdie vergadering het Dr Coombe ‘n heeltemal nuwe konsepdokument namens die departemente voorgelê.

Hierdie dokument het soos die dag van die nag van die vorige verskil. Dit het gespreek van ‘n deeglike begrip van wat tuisskolers gedurende die eerste konsultasievergadering voorgelê het. Daarbenewens het die dokument uitgegaan van die aanvaarding dat die tuisskolers se voorbehoude meriete het en het tot die gevolgtrekking gekom dat baie navorsing gedoen moet word voordat ‘n beleid gefinaliseer kon word. Hierdie dokument kan as een van die mees ingeligte beleidsdokumente oor tuisonderwys in die wêreld beskou word.

Die een vals noot wat gedurende hierdie vergadering opgegaan het, was ‘n opmerking deur die voorsitter van die vergadering, Dr Simelane. Hy het beweer dat alle kinders onder die voogdyskap van die staat staan (“children are wards of the state”). Dit is heeltemal vals. Kinders kom slegs onder die voogdyskap van die staat wanneer ‘n bevoegde hof dit so beveel. Dit gebeur wanneer die kind niemand het om hom te versorg nie of indien daar bewys is dat die ouers onbevoeg is. In alle ander gevalle staan kinders onder die voogdyskap van hul ouers of wettige voogde. Simelane het ook tydens die vorige vergadering reeds gelykluidende opmerkings gemaak.

Hierdie weergawe van die besprekingsdokument was die eerste teken in al die jare van enige poging deur die amptenary om die opvoedkundige aard van tuisonderwys te verstaan.

Dit het egter ook gou geblyk dat dit waarskynlik die laaste was.

Hierdie dokument het tuisskolers die hoop gegee dat daar ‘n tydperk van onderlinge vertroue tussen beleidmakers en tuisskolers kan volg. Hierdie hoop het egter baie gou weer beskaam.

  • Tuisskolers word nie meer “geraadpleeg” nie, maar word gekoöpteer

Na die twee “konsultasie”-sessies wat oor twee jaar gestrek het, en wat op hul beurt gevolg het op ‘n voorbereidingsproses van sewe jaar het die DBO skielik haastig geraak en begin met ‘n proses om die hersiene beleid vinnig af te handel.

Drie tuisskolers is, in hul persoonlike hoedanigheid, genooi om deel te wees van die werkgroep van omtrent dertig mense wat vir die taak byeengeroep is. Die oorgrote meerderheid was amptenare van onderwysdepartemente, maar daar was ook verteenwoordigers van Umalusi, ISASA (Independent Schools Association of SA – wat nog nooit tevore enige belangstelling in tuisonderwys getoon het nie), Impak, sowel as Mev Sophie Breytenbach, ‘n baie ervare klaskameronderwyser, wat haar kleinkinders getuisskool het. Sy staan die klakkelose gehoorsaamheid aan die eise en grille van onderwysamptenare voor, ongeag of dit in ooreenstemming is met die wet of nie. (Dit is opmerklik dat die kleinkinders, na ‘n paar jaar van die onderwys wat hierdie ouma verskaf, op hul eie versoek in skole gesit is.)

Die werkgroep is geskeduleer om maandeliks, van Oktober tot Maart, te vergader. Die eerste vergadering is bygewoon deur Leendert van Oostrum en Joy Leavesley, die twee tuisskolers van Gauteng wat uitgenooi is. Bouwe van der Eems, die derde genooide, was nie in staat om op kort kennisgewing van Kaapstad af te reis nie.

Van die afskop van die werkgroepvergadering in Oktober is dit baie duidelik gemaak dat ‘n ander dinamiek aan die werk was. Tydens sy inleidende opmerkings het die voorsitter (dieselfde dr Simelane), daarop aanspraak gemaak dat kinders aan die staat behoort (“children belong to the state”). Hy het voortgegaan om dit duidelik te maak dat alle teenwoordiges nie daar is om hul eie belangegroepe of gesinne te verteenwoordig nie – hulle verteenwoordig niemand behalwe die DBO nie.

  • Tuisskoolverteenwoordigers onttrek aan die werkgroep

Hierdie ontwikkelinge het die twee tuisskolers baie ongemaklik gemaak. Dit het baie gou duidelik geword dat die beleid wat geskryf word nie die baie positiewe aanbevelings van die laaste besprekingsdokument van Julie 2015 sou volg nie. Inteendeel, die gesprekke is daarop gemik om die oorspronklike oogmerk van die onderwysminister gestand te doen – om tuisonderwys in ooreenstemming te bring met “die formele onderwysstelsel”. Dit was baie duidelik dat die oorspronklike, en heeltemal onaanvaarbare, besprekingsdokument wat in 2014 voorgelê is, die ware doelwit was.

Daar was ‘n paar stemme wat hiervan afgewyk het, insluitende dié van amptenare soos Mnr Louw van die Wes-Kaap. Al sulke verskille is egter gou gesmoor in die geraas van die amptenary op mars na die enigste ding wat hulle ken – om tuisondewys in die kanne en kruike van skoolonderwys te giet.

Dit was asof die vier dae van uitvoerige voorleggings deur tuisskolers en intensiewe besprekings van alle aspekte van tuisonderwys nooit gebeur het nie. Dit het vir die twee teenwoordige tuisskolers duidelik geword dat hulle slegs teenwoordig was sodat hul name op die finale beleidsvoorstel kon verskyn as “lede van die werkgroep”, om sodoende die indruk te skep dat tuisskolers die finale voorstel ondersteun.

Teen laatoggend van die eerste dag het die twee tuisskolers dus ‘n reses aangevra om met mekaar te konsulteer. Hulle het saamgestem dat hulle nie deel kan wees van die werkgroep asof hulle werknemers van die DBO is nie. Derhalwe het hulle die voorsitter in kennis gestel dat hulle nie meer beskikbaar was as lede van die werkgroep nie, maar dat hulle beskikbaar sou bly as adviseurs en inligtingsbronne wanneer hulle ook al benodig word.

Die tuisskolers het skaars vertrek voordat die vergadering verdaag is, hoewel dit vir die hele dag geskeduleer was. Die tuisskolers is ook nie daarna om verdere advies of inligting gevra nie.

  • ‘n Voet in die deur

Slegs een van die drie tuisskolers wat genooi is om aan die werkgroep deel te neem het nie onttrek nie – Bouwe van der Eems van Kaapstad, wat nie die eerste werkgroepvergadering bygewoon het nie. Hy kon ook nie vir die tweede vergadering in November na Pretoria reis nie. Karin van Oostrum, ook ‘n trustee van die Pestalozzi Trust, het ingestem om hom te verteenwordig by die vergadering in November.

Karin se indrukke van die tweede vergadering was dieselfde as dié van die twee tuisskolers wat gedurende die eerste vergadering onttrek het. Dit was asof die amptenare niks gehoor het van die baie ure se aanbiedings en besprekings sedert die vorige jaar nie. By hierdie tweede werkgroepvergadering was hulle nog steeds besig om te argumenteer oor wat tuisonderwys is. Karin het enkele sinvolle opmerkings en bydraes gemaak, maar dit was soos om te probeer water drink uit ‘n brandkraan – die amptenare het gewoon aangehou om te werk in die rigting van die enigste ding wat hulle ken – die staatskoolstelsel.

‘n Nuttige aspek van hierdie vergadering was dat die departemente se voorgestelde wysigings aan die SA Skolewet beskikbaar gemaak is. Die dokument het gewoon bevestig dat die minister beoog om tuisonderwys in die kanne en kruike van die staatskole in te dwing.

Hoewel sy besef het dat sy geen verskil sou kon maak nie, het Karin ingestem om ook die volgende vergadering by te woon. Op daardie wyse sou sy ten minste die notules kry, sowel as enige werkdokumente wat gesirkuleer sou word.

Die vergadering in Desember is gekanselleer, en die volgende vergadering sou laat in Januarie plaasvind. Twee dae voor die Januarievergadering het Karin die gewysigde beleidsvoorstelle en die voorgestelde wetswysigings ontvang.

  • Die laaste tuisskoolverteenwoordiger onttrek

Toe sy die gewysigde beleidsvoorstelle sien, het Karin die sameroeper van die werkgroep ingelig dat sy nie verdere vergaderings van die werkgroep sou bywoon nie.

Sy het die sameroeper in kennis gestel dat die voorgestelde model van tuisonderwys baie ver verwyderd is van die werklikheid van tuisonderwys in Suid-Afrika en ander lande. Die model is gegrond op die idee dat onderwys bestaan uit die onderrig-handeling, terwyl  tuisonderwys feitlik altyd ten doel het om die leer-handeling optimaal te laat verloop. Dit vereis dat tuisonderwys buigsaam, aanpasbaar en innoverend moet wees.

Karin was van mening dat dit baie onwaarskynlik is dat ‘n beleid soos die een wat beoog word deur tuisskoolgesinne aanvaar sou word en dat dit waarskynlik daartoe sou lei dat nog meer gesinne dit onmoontlik sou vind om hul kinders as tuisleerders te registreer.

Hoewel sy dankbaar was vir die baie ure wat amptenare na ons aanbiedings geluister het, het Karin gevoel dat ons klaarblyklik nog nie daarin geslaag het om die beleidmakers in te lig oor tuisonderwys as ‘n gesonde, geldige en baie suksesvolle onderwyspraktyk nie.

Sy het ook die oortuiging uitgespreek dat dat die beoogde dokument geen vertroue sou skep dat onderwysamptenare genoeg van tuisonderwys begryp om tuisonderwys te ondersteun of te monitor nie.

  • Terug by die begin

Daar is beoog dat die konsepdokument tydens die vergadering van 29 Januarie gefinaliseer sou word, om teen einde Februarie aan die Uitvoerende Raad van die Departement voorgelê te word. Dit beteken dat die laaste bona fide-tuisskolers eers van die proses onttrek het toe dit duidelik was dat daar geen realistiese verwagting kon wees dat hulle in staat sou wees om die rigting te verander waarin die beleid ontwikkel nie.

Dit het, trouens, duidelik geword dat, net soos in 1999, tuisskolers skynbaar “gekonsulteer” is (teen groot koste en moeite vir almal), net om terstond geïgnoreer te word. Die oorspronklike oogmerk van die minister, om tuisonderwys in ooreenstemming te bring met “die formele onderwysstelsel” het duidelik die hele tyd die doelwit gebly.

  • En wat nou?

Alle tuisskolers sal nou die geleentheid kry om by te dra tot die debat wanneer die wette en regulasies vir openbare kommentaar gepubliseer word. Daar sal vir alle tuisskolers geleentheid wees om geskrewe voorleggings te doen en om die voorstelle te bespreek met hul verkose verteenwoordigers op nasionale en provinsiale vlak.

Alle aanduidings is egter dat die die wette en regulasies wat uiteindelik aangeneem sal word onbillik, strydig met die beste belange van die kinders, ongrondwetlik, en dus ongeldig sal wees. Dit is waarskynlik dat die meeste tuisskolers, net soos in die verlede, tot die gevolgtrekking sal kom dat registrasie by die onderwysdepartement strydig is met die beste belange van hul kinders.

In daardie geval sal die Pestalozzi Trust, soos vandag, sy lede moet verdedig wanneer hulle vervolg word omdat hulle weier om sulke ongeldige wette te gehoorsaam.

Dit is inderdaad soos die spreekwoord lui: hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde!

2 thoughts on “So ver soos die Ooste van die Weste

  1. In Finland, met die beste skoolsisteem, moet alles onnies ten minste n meestersgraad he. Oraloor, het skole Darem biblioteke. Beide hierdie Kom dikwels kort y tuisskoling. Hoeveel professionele mense Kom uit tuis skoling?

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

%d bloggers like this: