Tuisonderwys: Is assessering die oplossing?

Een van die groot probleme wat na vore gekom het tydens die vergaderings met die onderwysdepartement wat die Pestalozzi Trust bygewoon het, is dat die Departement van Basiese Onderwys ongelukkig was dat daar so min tuisskolers registreer vir tuisonderwys. Persentasiegewys is hoogstens 5% van die tuisskolers by die DBO geregistreer as leerders tuis.

Volgens voorgestelde nuwe, nog ongepromulgeerde wet en beleid vir tuisonderwys, waarna dr Simelane tydens die GDE Lekgotla 2017 verwys het, wil dit voorkom of die DBO hierdie probleem deur strenger regulering wil probeer oplos. Uitvoerige monitering en assessering, waartoe die ouers sal instem wanneer hul hul kind as tuisleerder registreer, word nou klaarblyklik deel van die tuisonderwysbeleid.

Assessering het ook ter sprake gekom in ’n kort reeks praatjies oor tuisonderwys, wat onlangs op RSG uitgesaai is (30 April 2017 en 7 Mei 2017 ). Die eerste praatjie dek meer algemene aspekte van tuisonderwys, terwyl daar in die tweede praatjie met Coleen Cronjé van Breinlyn en met prof Rita Niemann van Impak gesels word. Prof Niemann is die akademiese hoof van Impak, en noem dat daar volgens die nuwe tuisskoolbeleid, baie verpligte assesseringsvereistes aan geregistreerde tuisskolers gestel gaan word.

Dit is nie duidelik waarom ons as tuisskolers opgewonde moet wees oor hierdie stelsel van assessering nie. Dis ’n ander saak as mens ’n maatskappy het wat tjok en blok vol “kompetente” assessors sit, gereed om tuisskolers te assesseer. Dan sal jy ook opgewonde voel. Dink net aan die finansiële voordeel vir die maatskappy; dink net aan die ontsaglike hoeveelheid inligting wat mens oor die leerders, hulle ouers en hulle omstandighede inwin, in ’n land waar leerders gelurits of geëmis word en hul ouers gefica en gerica word.

Eenvormige assessering veronderstel eenvormige kurrikulum en eenvormige onderrigmetodes, wat lei tot die vorming van eenvormige leerders. Dit herinner aan die tipe taal wat uit die mond van die onderwysministers van die regerende party gehoor is: “We are gunning for the same critical outcomes – we are gunning for the same South African citizen” (Me Tidimalo Nkotoe in 2004 op Carte Blanche).

’n Mens wonder:
• Ouers kies leermateriaal sodat dit in die beste belang van hul kind sal wees. Die gekose leermateriaal sal moontlik nie ooreenstem met dié van die staat nie. Hoe sal assessering dan geskied?
• Sal hierdie intensiewe assessering in die leerder se beste belang wees?
• Sal dit toon dit dat LEER plaasgevind het?
• Sal hierdie tipe assessering betroubaar en geldig wees? Die assessors sal waarskynlik nie die kind of die leermateriaal ken nie.
• Is daar navorsing wat toon dat meer intensiewe assessering tot beter onderwys lei? Die leeruitkomste van die skole in Finland bewys byvoorbeeld die teendeel.

In die artikel “South Africa’s Outlaw Educators“ (Other Education: The Journal of Educational Alternatives, p 91) kom Leendert van Oostrum tot die slotsom:
The state’s attempt to control every form of education in South Africa subjects all learners to a dysfunctional and overregulated system – a kind of “death by management”. The system regulates teaching, but cynically indemnifies itself against any expectation that it will ensure learning.

Die oorregulering sal waarskynlik lei daartoe dat tuisskolers al hoe meer onder die radar gaan verdwyn, en al hoe minder leerders gaan registreer. Dit kan dus die teenoorgestelde uitwerking hê as wat die DBO waarskynlik in die vooruitsig stel.

Immers: gesinne wat die besluit neem om te tuisskool doen dit uit oortuiging, om ’n beter toekoms vir hul kinders te kan gee, en dit is in die eerste plek OUERS wat besluit wat in hul kinders se beste belang is, en NIE die staat nie. Tensy die staat kan toon dat die vereistes wat gestel word, versoenbaar is met die kind se beste belange, sal die ouers nie kan instem tot so ’n gewelddadige stelsel nie.

Terwyl skole die wêreld oor ’n nuwe fase ingaan en onderwys dikwels daaronder lei, is daar baie regerings wat meen dat die oplossing vir die onderwyskrisis net maar strenger monitering en regulering is, soos byvoorbeeld in Italië, in Duitsland, in sekere state in die VSA en in Engeland. Die Pestalozzi Trust sal die regte van sy lede en die van hul kinders beskerm deur ten sterkste beswaar te maak teen so ’n beleid van oor-assessering en oorregulering. Daarom raai ons ten sterkste aan dat lidgesinne voortgaan om hulle kinders volgens die beste belange van elke kind en in ooreenstemming met die godsdienstige en filosofiese oortuigings van die gesin op te voed. Die Trust sal namens sy lede alle pogings van die staat om in te meng met ouers se universeel erkende reg om dit te doen, teenstaan.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

%d bloggers like this: