Regsaspekte Rakende Mikroskole

Ons gebruik die term “mikroskool” hier om te verwys na enige kleiner privaatinstelling wat as ’n skool funksioneer, ongeag wat hy homself noem. Dit sluit in “leersentrums”, “cottage schools” en enige ander instelling waar kinders hul onderwys ontvang.

Opsomming: Elkeen het die grondwetlike reg om privaatskole te stig om kinders te onderrig op ’n wyse wat in die kind se beste belang is. Ongelukkig weier onderwysamptenare om die wet te gehoorsaam en hou vol om die regte van kinders en van privaatskole te skend. Ten einde hul regte en die regte van die kinders te beskerm het vele mikroskole by die Pestalozzi Trust aangesluit. Die Trust ondersteun hulle om die regte van die kinders en hul skole af te dwing.

    1. Mikroskole is nie “tuisskole” of “huisskole” nie. Die SA Skolewet spesifiseer dat tuisonderwys slegs van toepassing is waar elke kind sy of haar onderwys in sy of haar eie huis ontvang.
    2. Mikroskole is skole. Kinders wat hul onderwys ontvang op enige ander plek as in hul eie huis, woon ’n skoolby – ongeag watter naam die instelling vir homself kies. Let wel: ’n Skool wat ‘n “tuisskoolkurrikulum” gebruik, is nie ’n “tuisskool” nie; dit bly ’n skool.
    3. Daar is verskillende wette van toepassing. Die wette wat op skole van toepassing is, verskil van die wette wat op tuisonderwys van toepassing is. Daarom is dit gevaarlik om die terme met mekaar te verwar.
    4. Die enigste wettige mikroskool is ’n mikroskool wat ’n geregistreerde privaatskool is. ‘n Instelling waar kinders hul onderwys ontvang, moet ’n staatskool of ’n geregistreerde privaatskool wees. ’n Mikroskool wat nie by die toepaslike provinsiale onderwysdepartement as ’n privaatskool geregistreer is nie, is ’n onwettige privaatskool.
    5. Ongeregistreerde mikroskole loop ’n risiko. Die eienaars en onderwysers van ’n ongeregistreerde mikroskool kan vervolg word en by skuldigbevinding gevonnis word tot hoogstens drie maande tronkstraf of ’n boete. Ouers wat kinders na ’n ongeregistreerde mikroskool stuur, kan vervolg word en by skuldigbevinding gevonnis word tot hoogstens ses maande tronkstraf of ’n boete.
    6. Waarom is daar dan duisende ongeregistreerde skole in die land? Want:
      1. Daar is miljoene desperate leerders en ouers wat omtrent enigiets sal doen om ordentlike onderwys vir die kinders te kry.
      2. Onderwysdepartemente breek om elke hoek en draai die wet, wat dit vir baie skole onmoontlik maak om geregistreer te word. Maar intussen moet die kinders onderwys kry wat aan hul behoeftes voldoen. Hulle moet dit ook op die regte stadiums van hul ontwikkeling kry. Ouers wat versuim om hul kinders (volgens hul vermoë) die nodige onderwys te verskaf, kan vir tien jaar tronk toe gestuur word.
    7. Watter probleme is daar met registrasie? Dit sluit in:
      1. Baie lang vertragings by die verwerking van aansoeke deur onderwysdepartemente. Sommige skole (met honderde hulpbehoewende leerlinge) wag al ses jaar of langer vir registrasie.
      2. Onredelike (en dus onwettige) beperkings soos:
        1. Vereistes dat die skool ’n minimum getal leerlinge moet hê. In die meeste provinsies is die minimum 20 leerders – in ander besluit amptenare sommer op arbitrêre en onvoorspelbare wyse hoeveel kinders hulle gaan vereis.
        2. Administratiewe vereistes wat ’n baie swaar las op skole plaas en hulpbronne verorber wat vir die onderwys van kinders aangewend behoort te word. Dit sluit beide die registrasieproses self en die daaglikse administrasie van die onderwys in.
        3. Duur en moeisame maatreëls vir “gehaltebeheer” . Geregistreerde skole (insluitende mikroskole) moet deur Umalusi geakkrediteer word. Dit is baie duur, en daarbenewens moet die reis- en verblyfkoste van Umalusi se spanne amptenare ook nog ingereken word. Die akkreditasieproses self vereis ’n groot hoeveelheid administrasie en loop uit op heelwat beheer maar min of geen gehalte. Die vereiste vir akkreditasie by Umalusi word nie aan staatskole gestel nie. Dit diskrimineer dus ernstig teen private instellings.
        4. Diskriminasie teen privaatskole. Die standaard fasiliteite, bestuur en leerderprestasie wat van privaatskole vereis word, is van ’n veel hoër standaard as dit wat in staatskole vereis word. Artikel 29 van die grondwet verhoed egter die staat om hoër standaarde van privaatskole te vereis as die laagste standaard in staatskole. Hierdie verskynsel skend dus die grondwetlike regte van privaatskole.
        5. Die ongrondwetlike afdwing van die CAPS-stelsel. Umalusi kan slegs “gehaltebeheer” ooreenkomstig die CAPS-stelsel uitoefen. Daarom moet privaatskole wat by Umalusi geakkrediteer is (soos van elke geregistreerde skool vereis word) voldoen aan die vereistes van CAPS. Anders as wat baie dink, is CAPS nie net ’n kurrikulum nie. CAPS is ‘n akroniem vir “Curriculum and Assessment Procedure and System”. CAPS is dan inderdaad ’n omvattende onderwysstelsel wat min of geen afwyking deur geregistreerde skole toelaat nie en hulle ernstig belemmer wanneer hulle moet voorsien in die verskillende behoeftes van individuele leerlinge. Die vereiste om aan CAPS te voldoen, oorskry ook die vereistes wat die grondwet die staat toelaat om aan privaatskole te stel verreweg.
    8. Wat is die pligte van ouers? Die grondwet en die Kinderwet vereis dat ouers die onderwys van hulle kinders moet lei, bepaal en beveilig op ’n wyse wat in die kind se beste belang is. Ouers wat versuim om dit te doen, kan vervolg word en by skuldigbevinding gevonnis word tot tien jaar tronkstraf en ’n boete. Daarom loop tienduisende ouers die risiko om hul kinders by ongeregistreerde skole in te skryf, wat nie onderhewig is aan die moeisame en meesal onwettige eise wat die staat stel nie, soos in die vorige paragraaf beskryf.
    9. Wat kan gebeur met eienaars en ouers van onwettige mikroskole? Hulle kan vervolg word. Tot dusver het dit egter selde gebeur. Indien ’n mikroskool ’n lid van die Pestalozzi Trust is en hulle word deur amptenare lastig geval, sal die Trust in die eerste plek probeer om hulle uit die hof te hou deur hulle te help om die kwessies wat ter sprake is op te los. Volgens die ervaring slaag dit feitlik altyd. As ’n hofsaak nie vermy kan word nie sal die Trust die hofkoste dra. Indien dit gebeur, kan die volgende verwag word:
      1. Massiewe mediadekking, nie net plaaslik nie maar ook in die buiteland. As Suid-Afrika (wat volgens onderwysamptenare self een van die swakste skoolstelsels in die wêreld bedryf) mense vervolg omdat hulle goeie onderwys verskaf,  sal vele media-instellings dit besonder nuuswaardig vind.
      2. Grondwetlike eise. Die Trust sal enige aanvalle op goeie onderwys teenstaan op grond daarvan dat staatsbeperkings op die onderwys (waarvan sommige hierbo beskryf word) onbillike en ongeregverdigde skendings van die grondwetlike regte van die skool en die kinders behels.
  • Opsommend: Die Trust het advies ontvang dat die beperkings op en eise aan alle privaatskole, insluitende mikroskole, feitlik seker op grondwetlike gronde in die howe tersyde gestel kan word. Daarom sal die Trust op alle moontlike wettige wyses lidskole ondersteun wat hierdie inmenging van die staat weerstaan.
%d bloggers like this: