Is tuisonderwys wettig?

Opsomming: Tuisonderwys is wettig. Ongelukkig weier onderwysamptenare om die wet te gehoorsaam en hulle hou vol om die regte van kinders en hul gesinne te skend. Ten einde die regte van hul kinders te beskerm, het duisende tuisskolers al by die Pestalozzi Trust aangesluit. Die Trust ondersteun hulle om die regte van hul kinders te beskerm.

Tuisonderwys was nog altyd wettig in Suid-Afrika.

In die laaste dekades voor 1994 is tuisonderwys egter toenemend onderwerp aan strenger en strenger beperkings. Teen die einde kon tuisonderwys slegs beoefen word (en is dit slegs beoefen) onder uiters beperkende vereistes wat deur die regering gestel is. Slegs ’n handjievol gesinne kon voldoen aan die vereistes.

Hierdie situasie is deur die tussentydse grondwet omver gewerp.

Die nuwe grondwet het “die reg op onderwys” gewaarborg, maar iets wat dikwels nie begryp word nie, is dat die reg op onderwys nie beteken dat almal die reg het om onderwerp te word aan die staat se idees van wat “onderwys” is nie. Die reg op onderwys beteken dat elkeen die reg het om te kies

  1. of hy/sy onderwys wil ontvang;
  2. watter tipe onderwys hy/sy wil ontvang;
  3. wanneer hy/sy onderwys wil ontvang;
  4. waar hy/sy onderwys wil ontvang;
  5. van wie en saam met wie hy/sy onderwys wil ontvang; en
  6. hoe lank hy/sy onderwys wil ontvang.

Volwassenes oefen hierdie reg vryelik uit, maar in die geval van kinders moet die ouers die onderwys van die kind lei, bepaal en beveilig. Let wel: Die grondwet en die internasionale reg vereis dat die ouers die onderwys van die kind moet lei en bepaal – nie die onderwyser, die skoolhoof, die onderwysdepartement of onderwysminister nie. Die enigste gesag wat ’n ouerlike beslissing oor die onderwys van ’n kind tersyde mag stel, is ’n geregshof en dan slegs nadat bewys is dat die ouers strydig met die beste belange van die kind optree.

In beginsel is die reg op onderwys dus die reg om ’n mens se onderwys vryelik te kies.

Die grondwet laat egter toe dat die staat die vrye uitoefening van die reg op onderwys beperk, op voorwaarde dat die beperking

  1. in ’n wet uitgevaardig is;
  2. wat op almal van toepassing is; en
  3. wat billik en geregverdig is.

Hiervolgens het die Parlement in 1996 die nuwe Suid-Afrikaanse Skolewet aangeneem, wat sekere beperkings plaas op die vrye uitoefening van die reg op onderwys deur kinders (nie deur volwassenes nie, hoewel hulle dieselfde reg op onderwys as kinders het). In 2005 het die Parlement ook die Kinderwet aangeneem. Hierdie wet gee uitvoering aan wat die grondwet en die internasionale reg vereis met betrekking tot die onderwys van kinders.

Die SA Skolewet vereis van ouers om elke kind na ’n skool te stuur of om die kind te registreer vir onderwys tuis, tensy die ouer geldige redes het om nie een van die twee te doen nie. Ouers wat nie hieraan voldoen nie, kan vervolg word en by skuldigbevinding gevonnis word to ’n maksimum van ses maande tronkstraf of ’n boete.

Die Kinderwet, daarenteen, bevestig die grondwetlike beginsel dat ouers die plig en die reg het om die onderwys van die kind te lei, te bepaal en te beveilig op ’n wyse wat in die kind se beste belang is. Ouers wat hierdie plig versuim, kan vervolg word en by skuldigbevinding gevonnis word tot ’n maksimum van tien jaar tronkstraf en ’n boete.

Waarom is daar probleme as tuisonderwys wettig is?

Tuisonderwys is volkome wettig maar ernstige probleme ontstaan omdat onderwysamptenare weier om die wet te gehoorsaam. Hulle stel onbillike en ongeregverdigde voorwaardes vir die registrasie van tuisleerders ooreenkomstig die SA Skolewet. In die meeste gevalle is hierdie voorwaardes in stryd met die beste belange van die kinders.

Duisende tuisskolers het al by die Pestalozzi Trust aangesluit sodat die Trust hulle kan ondersteun wanneer die onderwysowerheid hul regte en pligte belemmer om hul kinders te voorsien van daardie onderwys wat in die beste belang van elke kind is.

%d bloggers like this: