Om te begin

Hoe begin ek:  Moets en Moenies

Onthou: Tuisonderwys is eintlik eenvoudig. Dit is NIE ’n ingewikkelde proses nie. As jy jou kinders kon leer om “dankie” en “asseblief” te sê, en om die potjie te gebruik, kan jy hulle tuisskool.

A  Stadig oor die klippe!

Wees rustig – vat dit baie stadig. Uitvoerige navorsing en nog meer uitvoerige ondervinding het getoon dat kinders nie “agter sal raak” by hul maats in die skool as hulle ’n lang “vakansie” neem weg van die boeke af nie.

Om met tuisonderwys te begin is vir die meeste gesinne ‘n tyd van spanning en verwarring. Die gevolg hiervan is dat ouers geneig is om terug te val op hul eie ondervinding van skole om vaste grond te vind. Hulle werp alles in die stryd om so gou moontlik aan die gang te kom, en om onverpoosd die aflosstokkie by die skool oor te neem. Ouers wat dit doen, maak gewoonlik duur foute wat baie tyd, stres en trane verg om uit te sorteer.

B Moenie nou koop nie!

Probeer om vir ten minste ses maande niks te koop om jou kinders mee te “onderrig” nie.

Moenie begin deur ’n voorafverpakte kurrikulum te gaan koop nie. Kurrikulum koop is nie die eerste tree op jou tuisskoolpad nie, maar wel die laaste stap in die proses.

Die rede is dat tuisonderwys nie gaan oor wat ma (of pa) aan die kinders leer nie. Dit gaan oor wat die kinders self leer. En ons weet uit dekades se navorsing dat die meeste kinders (in skole en in tuisonderwys) nie veel leer uit skoolboeke nie.

Sulke “skoolgoed” trek almal se aandag af, en skep die illusie dat die kinders leer – omdat moeder haar dapper doodswoeg om die kinders geleer te kry.
Skole, veral in Suid-Afrika, word georganiseer en beheer rondom die handeling van onderrig or instruksie. Die rede daarvoor is nie omdat instruksie tot leer aanleiding gee nie, maar om die eenvoudige rede dat instruksie gesien en beheer kan word. ’n Mens kan ’n onderwyser sien onderrig gee, maar leer vind onsigbaar plaas. (Dink vir ‘n oomblik na oor jou eie leerervarings – dit is ‘n subtiele, interne proses.)

Maar moet jou nie te veel bekommer oor die verskil tussen onderrig en leer nie; wees net bewus daarvan, en vertrou dat jy dit weldra sal begin verstaan namate jy ’n meer gesoute tuisskoler word.

C Wat moet ek dan doen?

  1.   Gesels met mekaar en leef saam. ’n Kind leer die heel meeste uit gesprekke met sy ouers en ander volwassenenes. Dit is iets wat geen geld kos nie; dit kos net tyd van jouself – tyd wat jy opsy sit vir gesinsgesprekke en gesprekke met elke kind. Die doel van die gesprekke is om mekaar se ideale en belangstellings vas te stel. Moedig jou kind aan om sy belangstellings na te volg – uit sy belangstellings sal sy beroep(e) waarskynlik eendag ontwikkel.

Betrek jou kinders by jou lewe – neem hulle saam as jy besigheid gaan doen, en leer hulle alles wat jy weet en wat jy kan doen. As jy mooi daaroor dink, het jy soveel vaardighede wat jy buite die skool en kursusse om geleer het, wat die lewe jou geleer het, soos hoe om met mense klaar te kom. Dit is hierdie tipe werklike lewensvaardighede wat hulle nodig gaan hê wanneer hulle self ouers word.

Leer jou kinders weer ken, en begin weer as ’n gesinseenheid funksioneer.

  1. Bestee jou geld aan LEER, nie aan ONDERRIG nie

Gebruik jou geld om jouself (en jou man/vrou) eers te “tuisskool”, terwyl jou kinders die slegte gewoontes en valse verwagtinge afleer wat in die skool in hulle ingedril is. Lees boeke oor tuisonderwys, woon werkswinkels by, sluit aan by die Pestalozzi Trust, by verenigings en ondersteuningsgroepe, en woon hulle vergaderings by. Deursnuffel veral die internet vir webblaaie en facebook-groepe oor tuisonderwys, en Google elke vraag waaraan jy kan dink.

Laat die kinders ook toe om te leer: neem hulle op opvoedkundige uitstappies, na museums en plekke van historiese of wetenskaplike belang, na plase en fabrieke, konserte ensovoorts.

  1.   Implementeer die Basiese Bestanddele van tuisonderwys

Die basiese bestanddele is die basiese “resep” vir alle onderwys. Jy kan daarby byvoeg, maar nie van hulle weglaat nie.

Dit is soos ‘n basiese broodresep: meel, water, suurdeeg en sout. As jy enigeen van hierdie bestanddele uitlaat, sal die resultaat nie meer brood wees nie, maar iets anders.

By die meel, water, suurdeeg en sout kan jy byvoorbeeld semels, rosyne, neute en baie ander dinge byvoeg, maar nie een daarvan is essensieel nie. Jy kan dit maar uitlaat, en jy sal nog steeds brood hê.

Net so is dit met die onderwys van jou kinders. Die vier basiese bestanddele van die aanbevole “kurrikulum” is:

  • Vrye tyd en die geleentheid om te speel of alleen te wees. Speel is die belangrikste wyse waarop kinders leer. Daarmee word bedoel vrye spel, nie georganiseerde spel nie. Dit sluit ook verbeeldingspeletjies in. Moedig hulle aan om te hardloop, te spring en bome te klim. ’n Klimraam is onontbeerlik; probeer om een te gebruik met dun pype, sodat hulle hande dit maklik kan vasgryp.

Speel ontwikkel hul liggame, wat noodsaaklik is vir die ontwikkeling van die senuweestelsel en die brein. Dit ontwikkel hulle waarneming, veral die driedimensionele waarneming. Dit ontwikkel hul begrip van ruimte, wat noodsaaklik is om wiskunde te kan verstaan. Dit ontwikkel ook hul verbeelding, wat die voorvereiste is vir alle vorme van kreatiewe denke, probleemoplossing, kuns, wetenskap en wiskunde.

  • Werk – Kinders moet werk en verantwoordelikhede in en om die huis aanvaar, asook in jou besigheid, as jy een het, en soveel moontlik in geselskap van die ouers. Selfs ‘n driejarige kind kan snippermandjies leegmaak en hul ouers help wanneer hulle gaan inkopies doen. Tieners kan as vrywilligers aanmeld by die DBV, by ouetehuise, of ander liefdadigheidsorganisasies, en hulle kan “skaduvakleerlinge” in verskillende beroepe word en by verskillende volwassenes leer.

Werk bring en hou kinders in aanraking met die regte lewe waar hulle as volwassenes sal funksioneer. Huis- en tuinwerk, inkopies, ensovoorts bevat omtrent alle wiskunde wat ’n kind in sy daaglikse lewe nodig sal hê vir die res van sy lewe. Dit berei die brein ook voor vir meer gevorderde wiskunde, indien die kinders daarna mik.

  • Lees vir jou kinders – ten minste een uur per dag, maar meer, indien moontlik. Dit geld vir kinders van alle ouderdomme. Lees stories (ongeveer 70%), biografieë (10%), reisverhale (10%), en boeke oor wetenskap, tegnologie, diere, die see, ensovoorts (10%). Terwyl julle die biografieë en reisverhale lees, hou julle ‘n aardbol en atlas byderhand, want julle doen dan eintlik geskiedenis en aardrykskunde. Maar dit is lewende geskiedenis en aardrykskunde, met regte mense daarin, met wie die kinders hulle kan vereenselwig.

Voorlees aan kinders van alle ouderdomme is waarskynlik die enkele belangrikste manier waarop ’n mens se denke kan ontwikkel. Charlotte Mason het geglo dat “idees die vodsel van die brein” is, en sy is reg. Die beste manier om kinders ‘n omgewing te skenk wat ryk is aan idees, is om vir hulle te lees. Dit is nou bo en behalwe die leeswerk wat ‘n kind op sy eie doen, en is selfs nog nodiger vir kinders wat disleksies is – dit voed hulle denke. Bespreek dit wat julle gelees het, informeel, en moet dit nooit in ’n begripstoets of enige ander toets laat ontaard nie.

  • Musiek en wiskunde. Hierdie twee is nou verwant – nie net wat betref akademiese prestasie nie, maar op baie vlakke.

(Daar word gesê dat die Grieke musiek beskou het as “die wiskunde van verandering oor tyd”.) Musiek is ’n belangrike aspek van geestelike en emosionele ontwikkeling. Stel kinders daagliks aan ‘n wye verskeidenheid musiek bloot: moedig hulle aan om byvoorbeeld saam te sing, te klap of te tel, of om saam te beweeg op die ritme van die musiek. As ’n kind ‘n instrument wil leer speel, moedig hom aan om dit te doen, en om musiekteorie ook te leer.

Abstrakte wiskunde kan nooit bemeester word tensy die kind konkrete wiskunde eers bemeester het nie. Dit beteken wiskunde met tasbare voorwerpe – tel hulle, hergroepeer hulle, versamel hulle, tel hulle op en trek hulle af. Dit is wat elke dag in ’n normale huishouding gebeur: tafel dek, wasgoed sorter, kosmaak (verdubbel, verdriedubbel of halveer ‘n resep), inkopielysie maak, inkopies doen, bone plant in ’n ry, ’n heining opsit, en so aan, ad infinitum.

“Formele” wiskunde moet so lank as moontlik uitgestel word. Wanneer (indien) jy met ‘n formele program begin, beveel ons nie die soort wiskunde aan wat “metodes” (of “resepte”) gee vir die oplos van probleme nie. Gebruik die geleentheid om jou kind die groot voorsprong te gee van dit wat konstruktiwistiese wiskunde genoem word (kyk by www.brombacher.co.za vir uitstekende materiaal). Moet egter nooit angstig wees oor wiskunde nie – in die praktyk kan ‘n goed gemotiveerde tiener die hele skoolkurrikulum in ’n paar maande baasraak.

  1.  Berei jou voor op koersaanpassings!

Die basiese bestanddele hierbo is voldoende – jy het niks verder nodig nie, behalwe om jou kinders se vrae te antwoord (of liewer om die antwoorde saam met hulle te ontdek), en om geskikte materiale aan hulle te verskaf om die dinge te leer en te doen wat hulle vra om te doen – of dit kunsklasse, rekenaarprogrammering of boekhou is. Wat jy ook al doen, moet nooit die basiese bestanddele verwaarloos nie. Hulle bly noodsaaklik op alle vlakke van onderwys.

As jy die basiese bestanddele vir ses maande lank gebruik het, en as jy daardie tyd ook gebruik het om jouself ook te skool in al die verskillende benaderings wat daar beskikbaar is vir jou (en veral vir jou kinders), dan sal jy in ‘n posisie wees om meer gestruktureerde programme te kan kies indien nodig.

’n Mens moet in gedagte hou dat die navorsing bewys dat slegs 10.2% van tuisskoolgesinne “voldiens”- voorafverpakte programme gebruik, en dat hierdie syfer steeds afneem. Die eenvoudige feit is dat dit baie onwaarskynlik is dat enige voorafverpakte kurrikulum aan die individuele behoeftes van enige kind sal voldoen.

Wees dus gereed om iets nuuts te probeer wanneer jy tot die slotsom kom dat dit wat julle doen, nie werk nie. Moenie in ‘n program vasgevang word wat nie vir jou en jou kinders werk nie, en moenie bang wees om dit te laat vaar nie. Dit is die belangrikste rede waarom jy ingelig moet wees oor wat ander tuisskolers doen – sodat jy weet dat daar ander opsies ook bestaan.

%d bloggers like this: