Huis V&A: Tuisonderwys

V&A: Tuisonderwys

Wie en wat is die Pestalozzi Trust?

Die Trust is ’n geregistreerde openbare weldaadsorganisasie, wat sy lede ondersteun wanneer hulle in verband met hulle tuisonderwys met die owerheid in konflik kom.

Help die Trust alle tuisskolers wat in die moeilikheid kom?

Nee, net ons lede. As ’n lid oor sy tuisonderwys in die moeilikheid kom met die onderwysdepartement, welsyn of polisie, skakel die lid dadelik die noodnommer van die Trust. Die Trust verskaf dan individuele advies aan die gesin. Lede ontvang die noodnommer saam met hulle ledepakket.

Is die Trust geaffilieer met ’n kurrikulumverskaffer?

Nee, die Trust is onafhanklik van enige kurrikulumverskaffer. Die lede van die Trust gebruik ‘n wye verskeidenheid kurrikulums en onderwysbenaderings.

Is die Trust geaffilieer met die onderwysdepartement?

Nee, die Trust is nie verbonde aan die onderwysdepartement nie.

Registrasie

Registreer die Trust sy lede by die Departement van Basiese Onderwys?

Nee, die Trust is nie geaffilieer aan die onderwysdepartement nie en registreer nie sy lede by die onderskeie provinsiale onderwysdepartemente nie. Registrasie van ‘n leerder by die POD word deur die ouers self gedoen; ‘n derdeparty kan dit nie vir ‘n ouer doen nie.

Moet ek registreer?

Lees eers hierdie artikels en volg hierdie skakel. Volgens die wet moet skoolpligtige tuisskolers by hul provinsiale onderwysdepartement geregistreer word as tuisleerders. Om by die Departement te registreer, moet jy die aanlynvorm vir jou provinsie voltooi. Lees die Beleid goed deur wat hulle van jou verwag om te lees voor jy die vorm indien, asook die wetgewing wat op tuisskolers van toepassing is in SA.

BAIE BELANGRIK vir Lede: Stuur asseblief eers jou aansoekvorm om registrasie by jou Provinsiale Onderwysdepartement aan die Trust voor jy dit indien by die Departement, sodat ons die vorm vir jou kan deurkyk. Dit is ‘n diens wat ons aan ons lede verrig.

Lees hier hoe die wet gaan verander as die BELA Bill in sy huidige formaat as wet aanvaar word.

Wanneer jy die vorm van die Departement indien, moet jy kopieë hou van alles wat jy indien en ook ‘n bewys probeer hou dat jy dit gedoen het. Jy sal moontlik nie gou van die Departement hoor nie – daar is in die algemeen ʼn baie lang wagtyd om die aansoeke te verwerk. Laat weet ons egter asseblief as jy enige probleme daarmee het of geen reaksie kry nie, sodat ons dit onder hulle aandag kan bring. Kontak ons by defensor@pestalozzi.org as jy enige verdere vrae of het of advies nodig het.

Mag gesinne wat geregistreer is, by die Pestalozzi Trust aansluit?

Ja, hulle mag aansoek doen om lidmaatskap van die Trust, indien hulle nog nie rakende hul tuisonderwys in konflik gekom het met die onderwysdepartement,  die welsyn of die polisie nie.

Aansluiting by die Trust

Waarom moet ek aansluit by die Pestalozzi Trust?

Die Trust ondersteun sy lede wanneer hulle met die staat in konflik kom rakende hul tuisonderwys, wanneer hul hul kinders se reg op basiese onderwys moet verdedig. Lede van die Trust kan verseker dat hul kinders volgens die kinders se beste belange leer, sonder die eise en inmenging van vreemdelinge, wat die kinders nie ken nie.

My dogter is 3 jaar oud en ek tuisskool haar tans. Ek beplan om haar gedurende haar hele skoolloopbaan te tuisskool. Hoe nodig is dit om op hierdie stadium by die Pestalozzi Trust aan te sluit? Indien dit nie nodig is nie, wanneer sou jy voorstel dat ek na hierdie opsie begin kyk?

Julle kan nou by die Trust aansluit as ‘n Assosiaatlid-gesin. Hierdie lidmaatskapkategorie is vir gesinne wie se kinders nog nie of nie meer skoolpligtig is nie. Alhoewel hierdie lidmaatskapkategorie nie regsondersteuning bied nie, ontvang gesinne inligting en kan hulle byeenkomste van die Trust teen ledetariewe bywoon. Die ledefooi vir Assosiaatlidmaatskap is R560 per gesin per jaar.

Aan die begin van die jaar waarin jou kind 7 word, kan julle aansoek doen om Standaardlidmaatskap van die Trust, teen R1080 per gesin per jaar.

Wat is die kriteria waaraan ’n aansoek moet voldoen?

Die Trustees kan ’n aansoek afkeur sonder om hul redes daarvoor te verduidelik.

’n Aansoek word egter selde afgekeur

  • indien die leerders in hul eie huise onderwys ontvang;
  • indien die vorm volledig voltooi is, beide ouers die vorm onderteken het, en die korrekte betaling vir ledefooi ontvang is;
  • indien die leerders onder die ouers se toesig is wanneer nodig, en nie sonder volwasse toesig alleen tuis gelaat word nie;
  • indien dit duidelik is dat die ouers sorg dra dat die kinders ‘n opvoeding ontvang en indien die ouers self aktief betrokke is daarby;
  • indien daar nog geen regsgeding teen die ouers se tuisonderwys of teen enigeen wat daarmee gemoeid is, ingebring is nie, of as die gesin nog nie met so ‘n regsgeding gedreig is, of deur enige skool- of onderwysamptenaar, maatskaplike werker of enige ander regeringsamptenaar gekontak is aangaande u kinders, u tuisonderwys of die kinders se afwesigheid van ‘n skool nie; en
  • indien die gesin nog nie in verband met kindermishandeling of -verwaarlosing of verwante aanklagte ondersoek of aangekla is nie.

Moet albei ouers die vorm teken?

 Ja, die ouers moet in ooreenstemming wees oor die onderwys van hul kind, en albei moet die ooreenkoms met die Trust onderteken.

Moet ek die onderrigskedule invul?

 Ja, dit is noodsaaklik. As dit wissel van dag tot dag, dui dit aan op ‘n aanhangsel. Verskaf asseblief voldoende inligting oor hoe julle daaglikse en weeklikse skedule daar uitsien, en hoe die ouers se werkskedules inpas by julle tuisonderwys. Ons moet kan sien wie hou toesig oor julle kinders en hoe die toesig geskied. Kinders wat sonder toesig by die huis gevind word, kan deur die Welsyn verwyder word. Verskaf asseblief besonderhede oor die persone wat toesig hou.

Watter kinders se besonderhede moet ek invul?

Jy kan al jou kinders se besonderhede invul, ook dié wat nog voorskools is, en dié wat ouer as 15 is. Dan het die Trust al die besonderhede van die kinders, en hoef jy nie later weer ’n vorm te voltooi nie. Kinders is skoolpligtig van die eerste skooldag van die jaar waarin hulle 7 word, tot die laaste skooldag van die jaar waarin hulle 15 word. Baie tuisskolers verkies om lid te bly van die Trust tot die kinders klaar is met skool, sodat die Trust hulle kan bystaan indien hulle leiding nodig het met die toelating tot ’n tersiêre instelling.

Hoe sal ons weet of ons aansoek by die Trust aanvaar is?

Nadat u data deur die personeel van die Trust deurgegaan is, sal u ‘n e-pos ontvang wat ontvangs van die aansoek erken, en u versoek om u bewys van betaling of bewys van aftrekorder by die gegewe skakel op te laai. Nadat die bewys van betaling ontvang is, sal u ’n amptelike brief ontvang wat u lidmaatskap bevestig. U sal dan toegang hê tot u ledepakket, wat die noodnommer bevat, en ander inligting wat spesifiek vir lede bedoel is, wat op die aanlyndatabasies beskikbaar is.

Lidmaatskap van die Trust strek oor 12 maande. Strek die jaar vir 12 maande vanaf aansluiting of vanaf Januarie tot Desember?

Die ledetydperk strek oor 12 maande, vanaf die aansluitingsdatum (byvoorbeeld van 1 Junie 2020) tot 12 maande daarna (byvoorbeeld tot 1 Junie 2021).

Hoe sal ons weet dat ons lidmaatskap verval?

Julle sal 60 dae voor die vervaldatum herinner word daaraan, weer 30 dae voor die vervaldatum, en op die vervaldatum self. Indien julle vergeet om te hernu, sal julle weer 30 dae na die vervaldatum herinner word dat julle lidmaatskap reeds verval het.

Hoe stuur ek die aansoekvorm in?

U sluit aanlyn aan by hierdie skakel. Al die aanwysings is by die skakel.

Hoe en wanneer betaal ons die ledefooi?

U kan die betaling maak wanneer u die vorm invul, en die bewys van betaling of bewys van aftrekorder oplaai by die skakel op die aanlyndatabasis wanneer u versoek word om dit te doen.

Hoeveel is die ledefooi?

Die ledefooi is R1200 per gesin per jaar. As u aansluit voor u u kinders uit die skool haal, of binne 3 maande nadat u hulle uit die skool gehaal het, betaal u die afslagfooi van R1080 per gesin per jaar.
LET WEL: Bestaande lede, wat betyds hernu (voor hulle lidmaatskap verval), bly op die ledefooi waarop hulle aangesluit het. Hulle betaal dus nie die verhoogde ledefooi in die toekoms nie.

Hoe betaal ons die ledefooi?

Julle mag eenmalig betaal, of per aftrekorder. Gebruik asseblief die verwysing in die e-pos wat u van die stelsel sal ontvang. Vra u bank om seker te maak dat die verwysing op ONS bankstaat verskyn, sodat ons die betaling aan julle rekening kan koppel.

Hoe haal ek my kinders uit die skool?

Hou in gedagte dat dit nie onwettig is om jou kinders uit die skool te haal met die doel om hulle tuisonderwys te gee nie. Jy het dus nie toestemming nodig van die onderwysdepartement, die skool, die skoolpersoneel of die beheerraad van die skool nodig om hulle uit te haal nie. Jy het jou kind vir ‘n tydperk aan die skool toevertrou, maar gedurende die hele tydperk toe jou kind die skool bygewoon het, het jy ingevolge die Kinderwet nogtans die verantwoordelikheid oor jou kind se onderwys behou. Die verantwoordelikheid vir die onderwys en opvoeding van jou kind bly by jou as ouer van die dag af dat jy jou kind se geboorte by die Departement van Binnelandse Sake registreer. Jy hoef nie toestemming te vra of te bewys dat jy in staat is om jou kind self te kan leer nie.

1 Sluit aan by die Pestalozzi Trust voordat jy enige stappe neem om die kind uit te haal. Die rede waarom jy by die Trust moet aansluit alvorens jy jou kind uit die skool haal, is dat die Trust nie aansoeke kan aanvaar van gesinne wat reeds oor hulle tuisonderwys in konflik met die owerheid was nie.

2 Bedank die skool vir die diens wat julle as gesin van hulle ontvang het in die afgelope tyd, en lig hulle in dat julle voortaan nie van hulle diens gebruik sal maak nie. Afhangende van julle verhouding met die skool, kan julle die kennisgewing persoonlik, per e-pos of telefonies gee, en kan julle inligting gee oor julle toekomsplanne met jul kinders. Sommige skole sal ‘n oorplasingsertifikaat aan die gesin oorhandig, maar ander nie. Dit is nie altyd duidelik hoe die spesifieke skool sal optree nie. Tensy julle later weer julle kinders in die skool wil plaas, sal julle waarskynlik nie ‘n oorplasingsertifikaat nodig kry nie.

3 Baie ouers verkies om kennis te gee nadat die kinders reeds by die huis is, en dus nie weer skool toe sal gaan nie. Maak ook seker van die kontrakvereistes van die skool. Sommige skole vereis dat daar 3 maande voor die tyd kennis gegee word. Kontak die Trust asseblief onmiddellik indien daar enige konflik ontstaan.

Mag ek my bure se kinders (of enige ander kinders) by my aan huis leer?

Jy kan dit doen, maar die kinders sal NIE tuisonderwys ontvang nie. Tuisonderwys word in die wet omskryf as onderwys by die kind se eie huis. As ’n kind dus buite sy huis onderwys ontvang, is hy nie in tuisonderwys nie.

As jy dit sou doen, sou jy ’n klein privaat- of onafhanklike skooltjie bedryf. Dit is hoe die wet dit sien. Lees hier oor die wetlike van aspekte van mikroskole.

Mag “unschoolers” by die Trust aansluit?

Die Trust skryf nie aan sy lede voor watter kurrikulum hulle moet volg nie. Lede van die Trust volg dus ’n groot verskeidenheid kurrikulums. Ouers moet self besluit watter kurrikulum in die beste belang van hul kinders is, en daardie kurrikulum volg.

Wat is die beste kurrikulum om te volg?

 Die beste kurrikulum is die kurrikulum wat in die beste belang van jou kind is, en sy persoonlikheid ten volle ontwikkel.

NOG VRAE? Kontak ons!