Huis Tuis Tuisonderwys Om te begin

Om te begin

Onthou: Tuisonderwys is eintlik eenvoudig. Dis nie so erg soos dit klink nie! Dit is NIE ’n ingewikkelde proses nie. Die feit is: Dit is eenvoudig ‘n akademiese uitbreiding van ouerskap – en ‘n ouer is by uitstek gekwalifiseerd om ‘n ouer te wees!

Kortom – hoe begin ek:

  • Sluit aan by die Pestalozzi Trust.
  • Kom op datum oor die regsaspektevan tuisonderwys.
  • Besluit saam as ‘n gesin wat julle doelwitte is.
  • Neem vakansie van “skool”, veral as skool ‘n traumatiese ondervinding was. Dan kan julle met ‘n skoon blaadjie begin tuisskool.
  • Begin leer saam met jou kinders, en koop leermateriaal, indien nodig.

Stadig oor die klippe!

Wees rustig – vat dit baie stadig. Uitvoerige navorsing en nog meer uitvoerige ondervinding het getoon dat kinders nie “agter sal raak” by hul maats in die skool as hulle ’n “vakansie” neem weg van die boeke af nie.

Om met tuisonderwys te begin, is vir die meeste gesinne ‘n tyd van spanning en verwarring. Sit eerste koppe bymekaar om ‘n goeie plan van aksie uit te werk: Hoekom wil julle dit doen, en waarheen mik julle?

Gesels met mekaar en leef saam 

’n Kind leer die heel meeste uit gesprekke met sy ouers en ander volwassenenes. Dit is iets wat geen geld kos nie; dit kos net tyd van jouself – tyd wat jy opsy sit vir gesinsgesprekke en gesprekke met elke kind. Die doel van die gesprekke is om mekaar se ideale en belangstellings vas te stel. Moedig jou kind aan om sy belangstellings na te volg – uit sy belangstellings sal sy beroep(e) waarskynlik eendag ontwikkel.

Betrek jou kinders by jou lewe – neem hulle saam as jy besigheid gaan doen, en leer hulle alles wat jy weet en wat jy kan doen. As jy mooi daaroor dink, het jy soveel vaardighede wat jy buite die skool en kursusse om geleer het, wat die lewe jou geleer het, byvoorbeeld hoe om met mense klaar te kom. Dit is hierdie tipe werklike lewensvaardighede wat hulle nodig gaan hê wanneer hulle self ouers word.

Leer jou kinders nog beter ken, en begin weer as ’n gesinseenheid funksioneer.

Hou dit eenvoudig

Tuisonderwys is onderwys vir die lewe. Om te verseker dat jou kinders ‘n gebalanseerde, ryk opvoeding kry, maak seker dat hulle BAIE speel en genoeg tyd het om te dink, en dat hulle saam met jou, en in en om die huis, kan werk. Lees vir jou kinders voor – ten minste een uur per dag, uit goeie boeke, met goeie taal in. Sorg dat jou kinders wiskunde doen, en indien moontlik, musiek leer.

Bestee jou geld aan LEER, nie aan ONDERRIG nie

Kurrikulum koop is nie die eerste tree op jou tuisskoolpad nie, maar wel die laaste stap in die proses. Die rede is dat tuisonderwys nie gaan oor wat ma (of pa) aan die kinders leer nie. Dit gaan oor wat die kinders self leer.

Gee jouself dus genoeg tyd om navorsing te doen oor die verskillende opsies, en neem jou kind se leerstyl en jou eie onderrigstyl ook in ag.

Gebruik jou geld om jouself eers te “tuisskool”, terwyl jou kinders die slegte gewoontes en valse verwagtinge afleer wat in die skool in hulle ingedril is. Lees boeke oor tuisonderwys, woon werkswinkels by, sluit aan by die Pestalozzi Trust, by verenigings en ondersteuningsgroepe.

Belangrik: Nie alle advies gaan vir julle of julle kinders werk nie; julle is ‘n unieke gesin en julle het unieke kinders. Dikwels moet ‘n mens die advies van ander met ‘n knippie sout neem, en jou eie kop volg.

Laat die kinders ook toe om uit die lewe te leer: neem hulle op opvoedkundige uitstappies, na museums en plekke van historiese of wetenskaplike belang, na plase en fabrieke, konserte ensovoorts. Maak só herinneringe waarna julle saam nog vir jare daarna kan terugkyk.

Berei jou voor op koersaanpassings!

Nou is jy dus gereed om jou kinders se vrae te beantwoord (of liewer om die antwoorde saam met hulle te ontdek), en om geskikte materiale aan hulle te verskaf om die dinge te leer en te doen wat hulle vra om te doen – of dit nou kunsklasse, rekenaarprogrammering of boekhou is. Wat jy ook al doen, moet nooit die eenvoudige bestanddele hierbo verwaarloos nie. Hierdie bestanddele bly noodsaaklik op alle vlakke van onderwys.

Wees egter gereed om iets nuuts te probeer wanneer jy tot die slotsom kom dat dit wat julle doen, nie vir julle gesin of jou kinders werk nie. Moenie in ‘n program vasgevang word wat nie vir jou of jou kinders werk nie, en moenie te bang wees om dit te laat vaar nie. Onthou dat tuisonderwys jou en jou kinders gaan verander, en jy kan mettertyd vind dat ‘n verandering in benadering nodig is om julle doelwitte te bereik.

Geniet hierdie groot avontuur saam met jou kind!