
Onderwysvryheid: Bulletin. Uitgawe 4 — 3 Oktober 2025. ‘n Gereelde opdatering deur die Pestalozzi Trust oor ontwikkelinge op die gebied van die reg, beleid en aktivisme, soos dit tuisonderwys in Suid-Afrika raak.
Op 25 September 2025 het UNESCO hul eerste groot verslag oor tuisonderwys vrygestel, met die titel Homeschooling through a Human Rights Lens.
Dit is die eerste keer dat tuisonderwys op internasionale vlak in soveel diepte ondersoek is, en dit is dus ‘n belangrike dokument. Hierdie verslae is nie bindend ten opsigte van die wet nie, maar hulle weerspieël en vorm globale houdings teenoor tuisonderwys, en sal toekomstige gesprekke in Suid-Afrika en internasionaal beïnvloed.
Erkenning van Ouerregte
‘n Sentrale kenmerk van die verslag is dat dit ouerregte erken. Die verslag bevestig dat ouers en wettige voogde die reg het om die soort onderwys te kies wat hulle kinders ontvang. Hierin eggo die dokument die lank gevestigde menseregte-instrumente soos die “Convention against Discrimination in Education” en die “International Covenant on Civil and Political Rights”.
Die verslag plaas ook kinderregte binne hierdie raamwerk, en sê dat kinders se stemme gehoor moet word, maar altyd in die konteks van ouers se besluite.
Die verslag weerspieël die internasionale regsposisie dat state “minimum standaarde” kan afdwing. Daar word gemeld dat ons in Suid-Afrika vryheid van kurrikulumkeuse het. Ons moet veg om te verseker dat hierdie minimum standaarde nie inbreuk maak op die vryheid om jou kurrikulum te kies nie.
Dit is ‘n positiewe ontwikkeling dat die kind se reg op onderwys binne die konteks geplaas word van die ouer se reg om te kies.
Wat is die Belang van Hierdie Verslag?
Dit is belangrik om daarop te let dat VN-verslae van hierdie aard nie verdrae is nie. Hulle bind nie state soos formele internasionale ooreenkomste state bind nie. Trouens, dit is in die huidige politieke omstandighede onwaarskynlik dat daar nuwe bindende verdrae oor onderwys gesluit sal word.
Nogtans is hierdie verslae uiters belangrik, want hulle vorm regerings, die burgerlike samelewing en akademici se denke oor hierdie kwessies. Wanneer sekere benaderings algemeen aanvaar word in internasionale beleidsbesprekings, filter dit gou deur in nasionale gesprekke en kan dit dan die aanvaarde norm word. Dit beteken dat sulke verslae sorgvuldig gelees moet word. Erkenning moet gegee word wanneer regte positief bekragtig word en daar moet daarop voortgebou word, maar waar besorgdhede of voorgestelde maatreëls ouergesag of gesinsoutonomie bedreig, moet dit teengestaan word.
Sleutelstemme vir Tuisonderwys
Dit is bemoedigend dat stemme uit die tuisskoolgemeenskap ‘n prominente rol gespeel het. Die Trust is trots daarop dat Mike Donnelly, ‘n lid van ons Adviserende Raad, een van die kenners is wat geraadpleeg is. Ander vriende en kollegas het ook bydraes gemaak, soos Ignasi Grau van OIDEL, waarvan die Trust ‘n organisasielid is, en Alexandre Moreira, mede-opsteller van die “Rio Principles on Home Education”. Die feit dat hulle betrokke was het verseker dat ouerregte nie oor die hoof gesien is toe die verslag opgestel is nie.
Suid-Afrikaanse akademici, veral diegene wat verbind is tot die “Abidjan Principles”, het ‘n prominente rol gespeel. Die “Abidjan Principles” gee streng voorkeur aan ‘n staatsgesentreerde onderwysmodel en beklemtoon dat nie-staatsmodelle van onderwys gereguleer moet word. Hul invloed is sigbaar in die herhaalde verwysings na beheermeganismes soos registrasie, evaluasie en selfs inspeksie.
Sentrale Temas en Kommerwekkende Areas
1. Ouervryheid
Die verslag gee toe dat ouers die reg het om hul kinders se onderwys te rig, maar hierdie reg word ook verbind aan die staat se vermoë om minimum standaarde te stel.
2. Toesig- en Tuisbesoeke
Die verslag noem inspeksies en tuisbesoeke as wyses waarop tuisonderwys gemonitor kan word.
In Suid-Afrika kan ons baie dankbaar wees dat tuisbesoeke uit die BELA-wet verwyder is: tuisbesoeke word nie in ons reg toegelaat word. Gesinne moet egter waaksaam bly om te verseker dat hierdie swaar verdiende beskerming nie in toekomstige beleidsgesprekke prysgegee word nie. Ons moet dus alle ouers, of hulle lede is of nie, aanmoedig om teenstand te bied teen selfs vrywillige tuisbesoeke.
3. Omvattende Seksuele Onderrig (“CSE”)
Die verslag bevorder CSE en is nie oortuig daarvan dat tuisskolers voldoende onderrig op hierdie terrein ontvang nie. In Suid-Afrika het amptenare alreeds gesê dat gesinne wat CSE verwerp hul kinders in onafhanklike skole of tuisonderwys moet plaas. Dit is dus nie ‘n werklike gevaar vir tuisskolers in Suid-Afrika nie. Ons moet egter enige poging kragtig teenstaan waar die staat seksonderrig op tuisonderwys wil afdwing.
4. Sosialisering
Die verslag herhaal die ou bewering dat daar onvoldoende sosialisering in tuisonderwys is. Die verslag noem ook dat daar moontlik wel voldoende sosialisering kan wees. Dit lyk of dit moeilik is om aan beleidmakers wat vas glo aan die positiewe voordele van sosialisering op skool te bewys watter vlak van sosialisering tuisskolers geniet. Ons weet dat skole doeltreffend sosialiseer, maar dit is dikwels negatiewe sosialisering. Dit is dus nodig om hierdie opvatting fundamenteel te verander.
Daar moet egter ook gemeld word dat die verslag toegee dat wanneer ouers tuisskool dit tot gevolg het dat die mees bekwame en betrokke gesinne die konvensionele skolestelsel verlaat. So ‘n opmerking erken in werklikheid waar die krag van die tuisskoolgemeenskap lê, al word dit genoem as ‘n kommerwekkende tendens vir skole.
5. Internasionale Verskille
Die verslag bespreek regsbenaderings vanoor die hele wêreld. In Engeland en Wallis word inkennisstelling “notification” hanteer as die ekwivalent van registrasie, wat minder ingrypend is as Suid-Afrika se huidige model. Daarteenoor bly tuisondewys onwettig in Duitsland. Hierdie kontraste maak dit duidelik dat state wye seggenskap het, en beklemtoon die belangrikheid daarvan om Suid-Afrika se ruimte vir tuisonderwys te verdedig.
Lees die Verslag Noukeurig Deur
Lees die verslag hier: https://unesdoc.unesco.org/ark:/48223/pf0000395671
VN-dokumente word deur komitees saamgestel, wat dus kompromie impliseer. Oor stellings wat regte bevestig is daar gewoonlik konsensus, en min mense staan dit teen – in hierdie geval die reg van ouers om te kies. Maar areas wat as “besorgdhede” aangedui word dui dikwels aan waar die werklike skeidslyne lê. Vir tuisskolers is dit juis hierdie aspekte wat baie fyn dopgehou moet word en dan teengestaan moet word wanneer ons regte in gedrang kom.
Wat die Toekoms Inhou
Die VN-verslag sal nie die wet in Suid-Afrika verander nie. Maar dit sal wel in die toekoms beleidsdebatte in die Departement van Basiese Onderwys, in die Parlement en in akademiese sirkels beïnvloed. Die positiewe punte, soos die sterk aandrang op die reg om te kies en die stellings dat daar in Suid-Afrika kurrikulumvryheid bestaan, is belangrike aspekte om op voort te bou. Dit is uiters belangrik dat die tuisskoolgemeenskap sulke verslae krities lees en bestudeer: om sodoende die bevestiging van ouerregte te beklemtoon, en om maatreëls teen te staan wat staatsbeheer wil uitbrei.
Die Pestalozzi Trust sal voortgaan om met sowel ons internasionale vennote as plaaslilke gesinne te skakel, en om die beginsel te verdedig dat onderwys in die eerste plek ‘n funksie van die gesin is en nie van die staat nie.



