Huis Nuus HIER IS JOU TEMPLATE!

HIER IS JOU TEMPLATE!

1782
0

Soos belowe, het ons brieftemplate vir jou geskep wat jou kan help om jou brief aan die Parlement te skryf. Kies een, maak die dokument op jou rekenaar oop, en val weg!

Elke templaat bestaan uit twee gedeeltes: In die eerste deel help ons jou om jou brief te skryf, en in die tweede deel help ons jou om jou brief in te dien. Omdat die wetsverwysings en alles in Engels is, verskaf ons die template ook slegs in Engels. As jy verdere hulp nodig het, vra gerus!

OPSIE 1:

Glo jy dat tuisonderwys uit die BELA Bill geskrap moet word, dat tuisonderwys nie in ‘n wet vir skoolonderwys hoort nie en dat afsonderlike wetgewing van nuuts af geskryf moet word? Dan is dit die opsie vir jou. Klik hier vir ‘n templaat in Word, en klik hier vir ‘n aanlyntemplaat.

OPSIE 2:

Glo jy dat die BELA Bill wel tuisonderwys moet reguleer, maar dat die manier waarop dit in die BELA Bill gedoen word, problematies is? Dan kan jy vra vir veranderinge aan die BELA Bill. Klik hier vir ‘n templaat in Word en klik hier vir ‘n aanlyntemplaat. Dit bevat argumente teen die mees algemene probleme wat tuisskolers het met die vereistes in die BELA Bill.

OPSIE 3:

Glo jy dat die DBO geen rol moet speel in die regulering van tuisonderwys nie, en dat ouers volgens die wet in elk geval die reg en verantwoordelikheid het om hul kinders op te voed? Dan is hierdie jou opsie. Klik hier vir ‘n templaat in Word en hier vir ‘n aanlyntemplaat.

As jy voel dat jy eers hierdie opsies nog beter moet verstaan voor jy wegval met ‘n brief, kan jy hierdie dokument lees, wat tjok en blok vol waardevolle agtergrond-inligting is. Hou asseblief ook ons Facebook-blad dop, want in hierdie spesiale tyd deel ons gereeld wenke oor voorleggings, regstellings van leuens wat verkondig word, en ander nuttige inligting. Gee ons dan ‘n duimpie en deel ons plasings op Facebook en sommer op al jou Whatsapp- en Telegramgroepe ook!

En laastens – ONTSPAN. BLY KALM. Jy het genoeg tyd, tot 16:00 op die 15de Junie, om jou voorlegging in te stuur. Moet dus nie dat iemand jou so op hol jaag dat jy sommer net een sinnetjie as ‘n kommentaar instuur nie! Haal diep asem, lees rustig deur dit wat ons vir jou gestuur het, en dan gaan sit jy en skryf ‘n brief uit die hart ter wille van jou kinders.

VRAE WAT ALMAL OOR WONDER

Is die 2022-veldtog dieselfde as die een in 2017?

Jy wonder miskien: Is dit nou al weer dieselfde ou storie van vooraf oor? Skryf ons nou al weer vir die DBO om te sê dat ons ontevrede is met die wet wat hulle wil maak?

NEE! Dis nie dieselfde nie.

Wat is die verskil dan?

In 2017, toe die BELA Bill vir kommentaar gepubliseer is, het ons aan die DBO geskryf, en kommentaar gelewer op die nuwe wetsontwerp, die BELA Bill. Die DBO het ons voorstelle oorweeg, met sleutelpartye vergader, ‘n paar veranderinge aangebring, en uiteindelik die BELA Bill aangehelp op sy pad na die Parlement.

Na ‘n lang reis het die BELA Bill nou uiteindelik in die Parlement gearriveer. Nou, in 2022, skryf ons aan die PCBE. Die PCBE (Portfolio Committee for Basic Education, of Portefeuljekomitee vir Basiese Onderwys) bestaan uit parlementariërs, en is die Parlementêre Komitee wat toesig hou oor Basiese Onderwys. Die DBO het niks te doen met hierdie rondte kommentaar nie. Hulle sal dit nie lees nie, en hulle sal dit nie ontvang nie. Die kommentaar gaan nou na die PCBE in die Parlement, wat heeltemal apart is van die DBO.

Dit beteken dat jy nou ‘n vars gehoor het. Jy skryf aan mense wat nog nie voorheen oor die inhoud van die BELA Bill gedink het nie. Hulle het nie die Bill geskryf nie, en niemand weet wat hulle daarvan dink nie. Jou brief kan hulle opinie in die een of ander rigting swaai! Die lede van die PCBE het soliede argumente nodig. Hulle het goeie, wel deurdagte, stewige inhoud in ‘n brief nodig, iets waarmee hulle argumente teen die hele BELA Bill of teen aspekte daarvan kan opbou. Dit is nie voldoende om net te sê: “Weg met die BELA Bill!” nie. Dit moet duidelik wees dat jy weet wat die BELA Bill en die wet sê, om hulle te help om hulle argumente op te bou.  

Hoe om BELA Bill aan die Parlement tuis te bring

Om hulle tot nuwe insigte oor die BELA Bill te bring, moet jou brief die volgende drie elemente bevat:

  1. Jou storie. Die Parlement wil jou persoonlike storie hoor. As jy byvoorbeeld ‘n kalmeerpil moet drink voor ‘n tuisbesoek, en jou kind vir drie weke daarna huilerig is, skryf dit in jou brief. Hulle wil dit hoor.  
  2. Hoe die BELA Bill jou lewe gaan versuur. Vertel hulle presies watter dele van die BELA Bill jou en jou kind gaan laat huil. Haat jou kind eksamens? Klousule 2(b)(iii) dwing jaarlikse assesserings af. Of vertel hulle presies waarom die BELA Bill nooit tot in die Parlement moes gevorder het nie. Geen navorsing, geen konsultasies, geen SEIA nie – wees spesifiek.
  3. Stel ‘n oplossing voor. Politici het ‘n oplossing nodig om ‘n probleem te kan hanteer. As jy net jou probleem uiteensit, sal hulle jou wel jammer kry, maar sal niks meer doen nie. Stel dus vir hulle ‘n oplossing vir jou probleem voor. 

Hierdie drie aspekte is al drie vervat in ons voorleggingsgids en in die template. As jy enigeen van hulle gebruik, sal jou brief werklik impak hê.  

Wat probeer ons doen? Ons probeer hulle gedagtegang in die regte rigting te stuur. Om nuwe insigte te kry (dws om die BELA Bill te kan stop), het hulle rasionele argumente nodig, wat hulle teenstanders sal wys dat hulle eintlik weet waaroor dit gaan in die Bill.

Ons het letterlik honderde ure bestee daaraan om die BELA Bill van alle kante te bestudeer. Die resultate het ons in stewige artikels vir jou uiteengesit. As jy nog inligting oor enige aspek nodig het, kan jy gerus die skakels in die gids nagaan. Dit bevat noukeurige inligting oor al die aspekte wat ons in die template dek.  

Ons raai sterk aan dat jy ons voorleggingstelsel gebruik, saam met ons gids en die template. As jy verkies om jou brief op ‘n ander manier te stuur, cc asseblief ‘n kopie aan ons na  homeschoolfreedom1996@gmail.com.

Dankie dat jy aan hierdie veldtog deelneem! So-iets gebeur net een maal in ‘n leeftyd – maak seker dat jy dit nie misloop nie!

'N ANTWOORD LAAT

Please enter your comment!
Please enter your name here