Huis Tuis Mikroskole, sentrums en “cottage schools” Regsaspekte Rakende Mikroskole en Sentrums

Regsaspekte Rakende Mikroskole en Sentrums

Ons gebruik die term “mikroskool” hier om te verwys na enige kleiner privaatinstelling wat as ’n skool funksioneer, ongeag wat hy homself noem. Dit sluit in “leersentrums”, “cottage schools” en enige ander instelling waar kinders hul onderwys ontvang.

Opsomming:

Elkeen het die grondwetlike reg om onafhanklike skole te stig om kinders te onderrig op ’n wyse wat in die kind se beste belang is. Ten einde hul regte en die regte van die kinders te beskerm, sluit mikroskole by die Pestalozzi Trust aan. Die Trust ondersteun hulle om die regte van die kinders en hul skole af te dwing.

  • Mikroskole is nie “tuisskole” of “huisskole” nie. Die SA Skolewet spesifiseer dat tuisonderwys slegs van toepassing is waar elke kind sy of haar onderwys in sy of haar eie huis ontvang.
  • Mikroskole is skole. Kinders wat hul onderwys ontvang op enige ander plek as in hul eie huis, woon ’n skool by – ongeag watter naam die instelling vir homself kies. Let wel: ’n Skool wat ‘n “tuisskoolkurrikulum” gebruik, is nie ’n “tuisskool” nie; dit bly ’n skool.
  • Daar is verskillende wette van toepassing. Die wette wat op skole van toepassing is, verskil van die wette wat op tuisonderwys van toepassing is. Daarom is dit gevaarlik om die terme met mekaar te verwar.
  • Die enigste wettige mikroskool is ’n mikroskool wat ’n geregistreerde onafhanklike skool is. ‘n Instelling waar kinders hul onderwys ontvang, moet ’n staatskool of ’n geregistreerde onafhanklike skool wees. ’n Mikroskool wat nie by die toepaslike provinsiale onderwysdepartement as ’n onafhanklike skool geregistreer is nie, is ’n onwettige onafhanklike skool.’n Skool kan nie by die Pestalozzi Trust registreer nie; ons is ‘n lede-organisasie. ‘n Skool kan aansoek doen om lidmaatskap van die Trust.
  • Ongeregistreerde mikroskole loop ’n risiko. Die eienaars en onderwysers van ’n ongeregistreerde mikroskool kan vervolg word en by skuldigbevinding gevonnis word tot hoogstens drie maande tronkstraf of ’n boete. Ouers wat kinders na ’n ongeregistreerde mikroskool stuur, kan vervolg word en by skuldigbevinding gevonnis word tot hoogstens ses maande tronkstraf of ’n boete.

Waarom is daar dan duisende ongeregistreerde skole in die land?

Want:

  • Daar is miljoene desperate leerders en ouers wat omtrent enigiets sal doen om ordentlike onderwys vir die kinders te kry.
  • Onderwysdepartemente maak dit vir baie skole onmoontlik om geregistreer te word.

Watter probleme is daar met registrasie?

Dit sluit in:

  • Baie lang vertragings by die verwerking van aansoeke deur onderwysdepartemente. Sommige skole (met honderde hulpbehoewende leerlinge) wag al jare vir registrasie.
  • Onredelike beperkings soos dat die skool ’n minimum getal leerlinge moet hê. In die meeste provinsies is die minimum 20 leerders.
  • Administratiewe vereistes wat ’n baie swaar las op skole plaas en hulpbronne verorber wat vir die onderwys van kinders aangewend behoort te word. Dit sluit beide die registrasieproses self en die daaglikse administrasie van die onderwys in. Dit sluit ook duur en moeisame maatreëls vir “gehaltebeheer” in.

Die rol van die Pestalozzi Trust

Indien ’n mikroskool of sentrum ’n lid van die Pestalozzi Trust is en hulle word deur amptenare lastig geval, sal die Trust met die skool saamwerk, en hulle help om die kwessies wat ter sprake is op te los. Ledeskole ontvang ‘n 24/7 noodnommer, wat hulle gebruik deur die Trust te kontak onmiddellik wanneer hulle met die DBO, Welsyn of Polisie in konflik kom.

Onafhanklike skole, insluitende mikroskole, het volgens die Grondwet ‘n reg om te bestaan. Daardie reg word in die huidige wetgewing eng beperk. Die Pestalozzi Trust help geregistreerde en ongeregistreerde ledeskole om hul leerders se reg op onderwys te beskerm en om inmenging van die staat te weerstaan.