Huis Nuus Die Sosio-Ekonomiese Impak van die Tuisonderwys-klousule (Klousule 37)

Die Sosio-Ekonomiese Impak van die Tuisonderwys-klousule (Klousule 37)

452
0

Volgens ‘n kabinetbesluit in 2015 moet voorgestelde beleidskrifte, wetsontwerpe en regulasies ‘n Sosio-Ekonomiese Impak-Assessering (SEIA) insluit. Die doel van ‘n SEIA is om die volle koste van regulasie te begryp en veral die impak daarvan op die ekonomie. Die doel daarvan is om ‘n situasie te voorkom waar wetgewers wette maak wat die publiek en die staat nie kan bekostig nie, en waar die voordele nie die koste regverdig nie. Die SEIA wat ‘n wetsontwerp vergesel moet al die nodige inligting bevat om te verseker dat al die bedoelde en onbedoelde gevolge van die wetsontwerp in aanmerking geneem word. 

Toe die BELA Bill in 2017 vir kommentaar gepubliseer is, is die SEIA egter nie aan die publiek beskikbaar gestel nie. Nadat die Pestalozzi Trust druk uitgeoefen het, het die DBO die SEIA beskikbaar gestel. Toe die Trust die SEIA bestudeer het, het ons gevind dat die SEIA glad nie die klousule oor tuisonderwys (Klousule 37) dek nie.

Om ‘n herhaling van die situasie te voorkom, het die Pestalozzi Trust die DBO gekontak om die bedoeling van die BELA Bill te probeer begryp en het ons die resultate van die meningspeilings verskaf wat die Trust gedoen het. Die Trust het nie ‘n oortuigende antwoord oor die bedoeling van die BELA Bill gekry nie. Die DBO het ook nie die resultate van die meningspeilings beskikbaar gemaak aan die taakspan wat die SEIA geskryf het nie.

Toe die BELA Bill in 2022 deur die parlement gepubliseer is vir geskrewe kommentaar, is dit weer eens sonder die SEIA gepubliseer. Die publiek is dus versoek om kommentaar te lewer, sonder om die impak van die BELA Bill te begryp.

Die Pestalozzi Trust het egter ‘n kopie van die SEIA in die hande gekry in terme van die Promotion of Access to Information Act (PAIA). Soos verwag kon word, was die SEIA wat die BELA Bill wat in 2022 aan die parlement voorgelê is, ‘n lywige dokument, maar dit was uiters gebrekkig wat betref Klousule 37, wat oor tuisonderwys handel.

  1. Geen navorsingsbasis nie

‘n  SEIA moet saamgestel word volgens ‘n templaat wat deur die Department of Planning, Monitoring and Evaluation verskaf word. Hierdie templaat vereis dat die SEIA op navorsing gegrond moet wees, en daar is geen kwessie hieroor nie. Dit is egter ook ‘n uitgemaakte saak dat die DBO geen navorsing oor tuisonderwys gedoen het nie. Die Minister het dit immers erken tydens ‘n terugvoersessie aan die PCBE op 8 Februarie 2022.

  1. Beantwoord nie aan sy gestelde doel nie

Die SEIA beweer dat die bedoeling van Klousule 37 is om die probleem van “Uncertainty pertaining to home education legislation and monitoring of this sector of education” op te los. In werklikheid is Klousule 37 egter deurspek van vae taalgebruik en bepalings waarvan die toepassing op tuisonderwys nie duidelik is nie. Dit skep dus verdere onsekerheid, en beantwoord dus nie aan die voorgenome doel nie. 

  1. Voor-die-hand-liggende gevolge nie oorweeg nie

Een voor-die-hand-liggende gevolg van Klousule 37 is die finansiële impak op alle gesinne, ryk en arm, van assesserings deur kompetente assessors.

Appendix C van die SEIA bevat ‘n elementêre beraming van die die koste van ‘n Graad 10-12 assessering. Registrasie vir tuisonderwys word egter net vereis van Graad 1 tot 9, en daarom is Appendix C nie van toepassing op tuisonderwys nie.

Selfs al was Appendix C van toepassing, neem die SEIA nie ag of hierdie koste bekostigbaar is vir alle tuisskoolgesinne nie.  Dit beteken dat selfs die mees voor-die-hand-liggende gevolg van Klousule 37 nie oorweeg word nie, terwyl ‘n SEIA behoort te verseker dat alle bedoelde en onbedoelde gevolge van die BELA Bill in ag geneem word.

Die SEIA neem ook nie die finansiële impak van Klousule 37 op die staat in ag nie, of dit nou positief of negatief is.

Daarbenewens was Appendix C nie deel van die SEIA wat aan die parlement voorgelê is nie.

As die BELA Bill in sy huidige vorm aanvaar word, sal die DBO geen idee hê of daar voldoende fondse in die begroting is om Klousule 37 te implementeer nie, en of dit bekostigbaar sou wees vir tuisskolers om aan die vereistes van die klousule te voldoen nie.

Slotsom

Hierdie feite moet aan die komitee genoem word. Die SEIA oor die BELA Bill toon duidelik dat die wetsontwerp geen basis in navorsing het nie, en nie aan die gestelde doel beantwoord nie. Verder is die SEIA onvolledig, want dit neem nie die voor-die-hand-liggende gevolge van koste in ag nie, beide vir tuisskoolgesinne en vir die staat.

Die Komitee moet die vraag gestel word: Sal hulle wetgewing goedkeur wat so ooglopend nie voldoen aan die vereistes van die Kabinet nie?

 

'N ANTWOORD LAAT

Please enter your comment!
Please enter your name here