Huis Nuus Oranje Alarm: BELA gaan Parlement toe

Oranje Alarm: BELA gaan Parlement toe

2751
0

Op 6 Desember 2021 het die Minister of Basiese Onderwys ‘n “Explanatory Note” in die Staatskoerant geplaas. Dit sit aan die parlement uiteen waaroor ‘n wetsontwerp handel wat ter tafel gelê gaan word. Met hierdie kennisgewing beweeg die BELA Bill in die parlement in.

Die BELA Bill is (nog) nie wet nie.  Dit sal twee of drie jaar neem om deur die parlementêre proses te beweeg. As dit deur die parlement aanvaar word, en wet word, en indien amptenare probeer om ongrondwetlike vereistes af te dwing, sal dit in die hof teengestaan moet word. Dit sal dan deur die appèlproses in die hofstelsel beweeg, en uiteindelik in die Grondwetlike Hof beland.

 ‘n Wetsontwerp seil gewoonlik deur die preliminêre proses sonder veel weerstand. Maar die Pestalozzi Trust het die BELA Bill op elke moontlike punt tydens die voor-parlementêre fase teengestaan: in die nasionale departement, in die provinsies, in die Kantoor van die Hoof- Staatsregsadviseer en in die Presidensie. Die Trust het persoonlik met die Minister van Basiese Onderwys ontmoet, asook met provinsiale onderwysamptenare en met die Wes-Kaapse LUR.

Noudat die BELA Bill ‘n belangrike mylpaal behaal het, wil ons graag ons lede op hoogte bring oor wat met die Bill gebeur het sedert 2017 en die pad vorentoe bespreek. Bespreek gerus vir ons vergadering op 26 Januarie 2022 (besonderhede hieronder), waar ons sal verduidelik wat die volgende stappe in ons stryd die BELA Bill is. Hierdie vergadering is slegs vir lede.

5 Stappe om jou reg op tuisonderwys te beskerm

Hier volg ‘n paar praktiese stappe waarmee jy jou reg op tuisonderwys kan help beskerm.

(1) Hou jou lidmaatskap op datum, of sluit aan by die Trust!

Hoe meer lede ons het, hoe meer kan ons doen om jou regte en jou kinders se reg op onderwys te beskerm. As jy nog nie ‘n lid is nie, sluit by ons aan! Indien jy reeds ‘n lid is, maak seker dat jou lidmaatskap op datum is, en dat jy jou ledenommer byderhand het. Maak asseblief seker dat jy die noodnommer by of op jou foon het, en kontak die Trust dadelik in ‘n noodgeval. E-pos ons met enige navraag. Moedig die lede van jou Whatsapp- en Telegramgroepe ook om by die Trust aan te sluit.

(2) Lede, woon die Vergadering vir Lede by

Die Trust hou ‘n virtuele vergadering vir lede om 19:30 op 26 Januarie, 2022. Sluit by ons aan om die volgende stappe in die stryd teen die BELA Bill te bespreek. Jy kan hier vir die vergadering bespreek.

(3) Sluit by ‘n tuisskoolvereniging aan of begin een

Sluit by een van die tuisskoolverenigings aan wat aan die Liberty in Learning Koalisie behoort. Besoek https://bit.ly/3J03QnJ vir ‘n lys van tuisskoolverenigings. Hierdie verenigings werk alreeds saam met die Trust om tuisskolers by die Joint Liaison Committees (JLCs) in hulle onderskeie provinsies te verteenwoordig. Kontak ons; ons sal jou help.

(4) Beveg BELA met Feite

Sowel in die parlement as in die hof sal ons navorsing moet aanbied wat toon hoe tuisonderwys in die praktyk lyk en wat die praktiese probleme met die BELA Bill is. Voltooi asseblief ons navorsingsvraelys en stuur dit aan jou familie en vriende en deel dit op sosiale media. Elke tuisskoler in Suid-Afrika moet die vraelys voltooi. Jy kan dit hier kry.

(5) Geniet elke oomblik van jou tuisskool

Die heel belangrikste: Hou aan tuisskool. Dit sal twee of drie jaar neem vir die BELA Bill om deur die parlement te vorder. Dan sal dit in die hof bestry moet word. Dit sal tydrowend wees om al die appèlsake aan te hoor. Die stryd het maar so pas begin en daar lê nog ‘n lang pad voor.

Hou dus aan met jou tuisonderwys, geniet dit om as ‘n gesin saam te leer, en moedig jou kind aan om ‘n lewenslange leerder te word. Hou dus aan doen wat jy nou doen . Dink asseblief in julle gebede aan die tuisskolers en die mense wat die wette en beleid maak. Bid saam met ons vir die Here se beskerming en leiding in die jare wat voorlê, en dat Hy in al ons denke en dade vereer word.

Jou ondersteuning van die Trust verseker dat jy gemoedsrus het, want jy weet jy het ‘n waghond wat vir jou regte veg. Terwyl ons daarop fokus om jou regte te beskerm, kan jy op jou tuisonderwys konsentreer. Uiteindelik is jou kinders die beste getuigskrif vir tuisonderwys.

'N ANTWOORD LAAT

Please enter your comment!
Please enter your name here