Huis Nuus DRINGEND: AAN ALLE TUISSKOLERS

DRINGEND: AAN ALLE TUISSKOLERS

3621
0

Die oomblik het aangebreek! Die Portefeuljekomitee vir Basiese Onderwys (“Portfolio Committee on Basic Education” of PCBE) versoek geskrewe voorleggings oor die BELA Bill. Kyk na die advertensie hier.

Dit beteken dat hulle van jou  wil hoor!

Die PCBE is die parlementêre komitee wat heel eerste die BELA Bill sal hanteer (later sal die BELA Bill na die Nasionale Raad van Provinsies verwys word).

Ons het dit as ‘n ROOI ALARM geklassifiseer, want as die BELA Bill goedgekeur word soos dit nou is, sal dit ‘n geweldige knou toedien aan jou vermoë om jou kind te kan leer volgens sy/haar beste belange.

Dit is een van die belangrikste geleenthede om die BELA Bill te beveg. Toe die DBO publieke kommentaar versoek het, het hulle ‘n vaste idee in gedagte gehad, en dus het die meer as ‘n 1000 voorleggings wat julle ingedien het slegs tot baie klein toegewings gelei.  Maar van die parlement word verwag dat hulle jul voorleggings versigtig en met ‘n oop gemoed moet oorweeg. Hulle behoort nie ‘n vasgestelde idee te hê van hoe die wet behoort te lyk nie. Hulle sal egter veronderstel dat die DBO hulle werk gedoen het (wat nie die geval is nie). Dit is nou julle taak om die Parlement daarop te wys dat tuisonderwys nie is wat die DBO dink dit is nie, en dat die wet wat die DBO voorgestel het, nie gaan werk nie.

Sê nou jou sê, want dit gaan bepaal hoe tuisonderwys gaan lyk vir jou kinders en jou kleinkinders.

Hier is nou jou kans om te sê hoe die wetgewing vir tuisonderwys moet lyk. Die Trust is natuurlik gereed om die BELA Bill teen te staan wanneer dit wet word, maar die howe verklaar wette ongeldig – hulle skryf nie wette nie. Dus is dit nou jou kans om tuisskoolregte in ‘n positiewe lig te stel in jou brief aan die PCBE.

‘n Ieder en ‘n elk moet ‘n brief aan die PCBE skryf om jou besorgdhede en aanbevelings oor die BELA Bill uiteen te sit. En elkeen van julle moet asseblief alle ander tuisskolers wat julle ken uitnooi om ook ‘n brief te skryf. Ons almal is hewig beswaard oor hierdie BELA Bill, en ons moet dit kristalhelder aan die PCBE stel.

Briewe moet die PCBE bereik voor of op op 15 Junie 2022 teen 16h00.

  1. Jy kan nou dadelik die voorleggingsgids hieronder gebruik om ‘n persoonlike brief te skryf waarin jy verduidelik waarom jy tuisskool, hoe dit jou kinders baat, en hoe jy wil hê die wet moet wees. So ‘n brief sal by verre die grootste impak hê, en skryf dit asseblief, indien enigsins moontlik. Soos ons in vorige nuusbrokkies aan ons lede verduidelik het, is dit veilig om aan die Parlement te skryf. Ons het die Voorleggingsgids hieronder vir jou in ‘n afsonderlike dokument gesit sodat mens dit makliker kan lees en volg om die brief te skryf. Om dit te lees, kan jy afrol tot onder op hierdie bladsy of HIERDIE SKAKEL NA DIE VOORLEGGINGSGIDS volg en dit op jou tyd deurlees. Hier vertel ons jou stap vir stap hoe om kommentaar te lewer vir die PCBE. Dis nou jou kans om jou sê te sê – geniet elke oomblik daarvan! Ons het baie hard en lank gewerk om vir jou uitstekende skietgoed bymekaar te maak – klik asseblief elke skakel in die gids vir wonderlike argumente vir jou brief. Onthou: As jy vasbrand, kontak ons asseblief by defensor@pestalozzi.org.
  2. Vir diegene wat regtig nie kans sien om ‘n persoonlike brief te skryf nie, sal ons binnekort template uitstuur om te help met die uitleg van jou brief. Opdatering: Ons het dit intussen geskep. Hier kan jy die template vind.
  3. Binne ‘n week of twee sal die Trust ook ‘n meningspeiling uitstuur, waarin jy sal kan STEM vir die weergawe van die BELA Bill wat jy verkies. Wees asseblief op die uitkyk vir hierdie meningspeiling, en voltooi dit – of jy nou al klaar is met jou brief en dit al ingestuur het, of nie.  

Hou die Pestalozzi Trust se webblad en Facebookblad dop vir verdere geleenthede om kommentaar te lewer!

We shall defend our island, whatever the cost may be, we shall fight on the beaches, we shall fight on the landing grounds, we shall fight in the fields and in the streets, we shall fight in the hills; we shall never surrender.” – Winston Churchill


JOU GIDS OM KOMMENTAAR TE LEWER OP DIE BELA BILL

Stap 1: Lees die Toepaslike Wetgewing

Vir ‘n volledige kopie van die BELA Bill, volg hierdie skakel.

Vir ‘n maklik leesbare weergawe van artikel 51 van die BELA Bill, kan jy hierdie skakel volg.

Stap 2: Skryf jou brief

Die voorlegging wat die grootste impak het, is ‘n persoonlike brief waarin jy verduidelik waarom jy tuisskool, hoe jou kinders daarby baat en hoe jy graag wil hê die wet moet lyk. Hier is ‘n kort gids oor hoe om so ‘n brief te skryf.  

  • Stel jouself voor. Begin jou brief in ‘n Word-dokument (of soortgelyke program) deur Mrs BP Mbinqo-Gigaba, Chairperson: PC on Basic Education, aan te spreek, en merk dit vir die aandag van Mr LA Brown, byvoorbeeld:

Attention: Mr L A Brown

Dear Mrs B P Mbingo-Gigaba, Chairperson: PC on Basic Education

Voeg nou ‘n opskrif by om aan te dui waaroor jy gaan skryf, byvoorbeeld:

RE: Basic Education Laws Amendment Bill

In die volgende paragraaf stel jy jouself en jou gesin voor (of jou instelling, as jy ‘n sentrum of mikroskool het). Jy kan kommentaar lewer in die taal van jou keuse. Jy hoef nie persoonlike besonderhede te gee nie, tensy jy graag wil.

  • Vertel jou Storie. Jy kan jou storie vertel, sonder om ‘n ekspert in die regte te wees. Jy is ‘n wêreld-ekspert oor jou gesin en jou ondervindinge. Verduidelik waarom jy tuisskool (of alternatiewe onderwys gebruik) en watter invloed dit op jou gesin gehad het.
  • Verduidelik wat jou pla. Verduidelik volgende wat jou probleme is met die  BELA Bill. Moet asseblief nie net kopieer-en-plak uit ander bronne nie, maar probeer dit in jou eie woorde verduidelik. Voeg persoonlike details by wat jou argumente onderstreep – verduidelik dus hoe dit JOU gesin en/of gemeenskap negatief gaan beïnvloed.

Vir voorstelle oor wat jy kan skryf oor tuisonderwys, klik hier vir English suggestions of vir Afrikaanse voorstelle.

Vir idees oor wat jy kan redeneer oor ander alternatiewe onderwysmodaliteite (“cottage schools”, sentrums, virtuele onderwys, koöperatiewe tuisonderwys), klik hier vir English suggestions of vir Afrikaans voorstelle.

In die algemeen is dit beter om op jou top drie tot vyf besorgdhede te fokus en hulle deeglik te bespreek, in plaas van om baie dinge oppervlakkig te noem. As jy egter tyd het om nog meer kwessies aan te spreek, is jy welkom.

  • Maak spesifieke aanbevelings. Vra vir spesifieke veranderinge aan die Bill, of vir spesifieke aksies van die PCBE. By die skakels in die vorige gedeelte is daar idees vir sulke spesifieke aanbevelings wat jy kan maak. As jy graag die PCBE persoonlik wil toespreek (dws ‘n mondelinge voorlegging wil maak), kan jy nou hier vra vir die geleentheid om dit te doen.
  • Sluit jou Voorlegging af. Sluit jou brief gepas af, soos met “Respectfully yours”, of “Kind regards”. As jy jou voorlegging deur die stelsel by hierdie skakel https://pestalozzi.org/pestalozzi-letter/ ) indien, hoef jy nie jou naam en kontakdetails onderaan by te voeg nie – dit sal outomaties gebeur.

As jy regtig voel dat jy meer leiding as die bostaande nodig het om jou brief te skryf, is jy welkom om van die template te gebruik wat ons later aan jou sal stuur.

Jy kan ook hier die Parlement se amptelike riglyne vir ‘n voorlegging lees: https://www.parliament.gov.za/submission

Stap 3: Proeflees jou Voorlegging

Lees jou brief deur vir tikfoute, woorde wat uitgelaat is, ens. Maak seker dat jy alles bygevoeg het wat jy graag wil sê, en of jou argumente sin maak. Wanneer jy tevrede is met jou voorlegging is jy gereed om eek om jou voorlegging in te stuur.

Stap 4: Stuur jou Voorlegging in

Maak die vorm oop by hierdie skakel: https://pestalozzi.org/pestalozzi-letter/. Dit is ‘n outomatiese stelsel wat rekord hou van alle briewe wat gestuur word. As jy jou brief deur hierdie stelsel stuur, sal ons weet of dit afgelewer is, verlore geraak het of uitgevee is.

Kies nou een van die volgende maniere om jou voorlegging in te stuur:

  • As jy WIL hê jou kontakinligting moet in die openbaar saam met jou voorlegging bekend gemaak word, moet jy die volgende doen:

Kopieer-en-plak jou voorlegging in die eerste in (dis gemerk “Copy-and-paste your submission/cover letter here:”). Voltooi die res van die velde daaronder, en klik “Submit”. Jou voorlegging sal geteken word met jou kontakdetails, en na die korrekte adresse in die Parlement gestuur word. Jy sal ook ‘n kopie daarvan in jou inboks ontvang.

  • As jy NIE WIL hê jou kontakdetails moet in die openbaar saam met jou voorlegging vrygestel word NIE, moet jy die volgende doen:
    • Tik net jou naam en van onderaan die dokument in Word, en bêre dit as ‘n pdf. Gee dit ‘n gepaste titel, byvoorbeeld: “Comment on the BELA Bill – Portfolio Committee of Basic Education”.
    • Kopieer-en-plak die volgende in die eerste veld (gemerk “Copy-and-paste your submission/cover letter here:”):

Attention: Mr L A Brown

Dear Mrs B P Mbingo-Gigaba, Chairperson: PC on Basic Education

RE: BASIC EDUCATION LAWS AMENDMENT BILL

Please find attached my submission on the BELA Bill to the Portfolio Committee on Basic Education.

For privacy reasons I do not wish my contact details to be publicly released with my submission.

Respectfully yours,

  • Heg die pdf van jou voorlegging aan in die volgende veld.
    • Voltooi al die volgende velde. Die voorleggingsvorm sal outomaties jou brief met die toepaslike details onderteken.
    • Klik “Submit”. Jou voorlegging sal met jou kontakdetails geteken word, en na die korrekte e-posadresse in die Parlement gestuur word. Jy sal ook ‘n kopie van jou brief in jou inboks ontvang.  
    • Hou in gedagte dat die kantoor van die Parlement nog steeds jou kontakdetails sal kan sien. Maar slegs die pdf sal in die openbaar vrygestel word, en nie jou kontakdetails nie.

Klik HIER om nou jou voorlegging in te stuur.

'N ANTWOORD LAAT

Please enter your comment!
Please enter your name here