Huis 4 Stappe Om Te Begin Tuisskool

4 Stappe Om Te Begin Tuisskool

Deurmekaar? Bekommerd? Volg hierdie vier stappe:

  • Sluit aan by die Pestalozzi Trust. As jy Afrikaanssprekend is, sluit hier aan.  If you are English-speaking, join hereDie Pestalozzi Trust sal jou ondersteun en jou kinders se reg op onderwys beskerm. Lede ontvang ‘n noodnommer om te gebruik indien hulle in konflik sou kom met die owerhede oor hulle tuisonderwys. Ons help jou dan om die probleem op te los.
  • Stel die skool op ‘n vriendelike en dankbare wyse in kennis dat jou kind nie sal terugkom nie. Gee kennis by die skool, versoek ‘n oorplasingsertifikaat en ook ‘n finale staat van jou rekening by die skool. Belangrik: As jy beplan om jou kind volgende jaar of na Covid-19 terug te stuur skool toe,  kontak die skool asseblief om presies uit te vind wat die skool nodig het om jou kind weer toe te laat en te plaas. Alhoewel daar wetgewing is wat dit reël, pas nie al die skole dit eenders toe nie.
  • Organiseer jou kind se leermateriaal. Lees hierdie artikel oor hulpbronne vir tuisonderwys. Gebruik dit wat jy byderhand het. Koop wat jy kan bekostig of wat tans vir jou die beste werk. Oorweeg dit om net handboeke te koop, bv. by Lindy Malan (072 268 2237) sodat jy kans het om navorsing te doen vir die toekoms en jou gesin terselfdertyd eers ‘n bietjie blaaskans te gee om gewoond te raak aan die nuwe omstandighede. Onthou: jou kind sal NIE agter raak nie! In ‘n huislike omgewing leer jou kind dikwels baie meer as op skool – want dis die regte lewe! Tuis is jou kind in ‘n veilige, liefdevolle omgewing, met ouers wat vir hom omgee en daarvan hou om al die belangrike aspekte van die lewe met hom te bespreek. Lees voor vir jou kind en saam met hom, en leer hom alles wat jy weet. Maak die beste van hierdie tyd: leer hom die belangrike dinge in die lewe, en alles wat jy graag wil hê hy moet weet voordat hy eendag as volwassene die huis verlaat.
  • Wat registrasie betref, lees eers hierdie artikels. Lees meer by hierdie skakel onder die afdeling “Registrasie”, en lees ook hierdie artikel. Kontak ons asseblief by defensor@pestalozzi.org as jy enige verdere vrae het of ondersteuning nodig het.

Geniet elke oomblik saam met jou kind!