Huis Tuisonderwys Help! Gesoek: ‘n Koeëlvaste baadjie vir my Tuisonderwys

Help! Gesoek: ‘n Koeëlvaste baadjie vir my Tuisonderwys

deur Karin van Oostrum (Pestalozzi Trust)

Op die een of ander stadium kom dit alle tuisskoolma’s oor: jy begin wonder of jy nie miskien jou kinders verwaarloos nie. Gaan dit nie miskien oor ‘n jaar of drie of vyf blyk dat dit ‘n groot fout was om hulle te tuisskool nie, en teen daardie tyd het jy moontlik alreeds jou kinders se lewens vernietig?…

Of dit gebeur dat ‘n familielid of ‘n vriendin jou die “guns” doen om jou by die Welsyn te rapporteer, soos met die ma gebeur het wat nou die dag die kantoor geskakel het. Sy is gespanne, bekommerd, onseker. ‘n Vriendin het kom kuier, maar die kuier loop toe ongelukkig uit op ‘n meningsverskil. Die uiteinde is dat die vriendin dreig om haar te “rapporteer” omdat sy tuisskool; want “haar kinders het soveel potensiaal, en nou hou sy hulle by die huis”.

“Rapporteer” kan enigiets beteken, maar beteken gewoonlik “aangee by die Welsyn”. Uit ons ondervinding loop 99. 99% van sulke dreigemente op niks uit nie, maar ‘n ma is nogtans bekommerd. As die Welsyn so ‘n saak gerapporteer kry, moet hulle dit opvolg en uitsorteer, en dit sal beteken dat sy ‘n besoek van die Welsyn te wagte kan wees.

Die vraag is: Is ek miskien regtig besig om my kinders tekort te doen? Verwaarloos ek my kind? Die term “kinderverwaarlosing” sluit in dat fisiese en/of emosionele en/of opvoedkundige hulpbronne doelbewus van ‘n kind weerhou word, in ‘n geval waar ‘n ouer of versorger in staat is om dit wel te kan verskaf.

Kom ons kyk na ‘n paar koeëlvaste lagies wat jy kan aantrek om jou tuisonderwys te beskerm.

Bestee genoeg tyd met jou kind

Die eerste beskermende lagie wat jy kan aantrek, is om baie tyd met jou kind te bestee. Dit beteken dat julle genoeg tyd saam deurbring sodat jy jou kind kan leer ken. Dit klink vanselfsprekend dat ‘n ouer haar kind ken, maar as ‘n kind ‘n tyd lank in die skool was, moet ma en kind mekaar baie keer eers weer van vooraf leer ken: jy moet jou kind, en jou kind moet jou leer ken.

In Artikel 29 van die United Nations Convention on the Rights of the Child (UNCRC), wat Suid-Afrika op 16 Junie 1995 geratifiseer het, word onderwys soos volg beskryf:

“The education of the child shall be directed to the development of the child’s personality, talents and mental and physical abilities to their fullest potential.”

Daar is baie dinge wat ‘n ouer instinktief van haar kind weet, net omdat jy ‘n ma of pa is. Maar dit verg daadwerklike aandag en moeite van ‘n ouer om soos die kind ouer word die kind se persoonlikheid, talente en geestelike en fisiese vermoëns te leer ken en steeds beter te leer ken. Die volgende stap is dan om alles in jou vermoë te doen om elke kind se persoonlikheid, talente en geestelike en fisiese vermoëns ten volle te ontwikkel of te laat ontwikkel. Dit is ‘n voorreg om so intensief en intiem met elke kind te kan werk: ek kry eintlik ‘n onderwyser jammer wat met so ‘n groot taak gekonfronteer word vir al die kinders in sy klas.

Weet jy of jou kind vorder?

Die Kinderwet (38 van 2005) sluit in sy definisie van “sorg” of “versorging” die volgende in:

“leidinggewing, rigtinggewing en versekering van die kind se opleiding en opvoeding, insluitende godsdienstige en kulturele opleiding en opvoeding, op ‘n wyse wat paslik is by die kind se ouderdom, volwassenheid en stadium van ontwikkeling.”

Deur aan jou kind leiding en rigting te gee met sy/haar opleiding en opvoeding, en te verseker dat die kind dit wel ontvang, help jy jou kind om sy reg op onderwys uit te oefen: elke mens het volgens die Artikel 29 van die Grondwet die reg op basiese onderwys.

As jy moet seker maak dat jou kind opgevoed en opgelei word, impliseer dit dat jy moet weet of jou kind vorder. Dit is iets anders as om te wonder of jou kind op standaard is. Dit kan ‘n mens slapelose nagte gee en eintlik hele jou lewe bederf as jy begin wonder of jou kind “op standaard” is. Die vraag is: Op watter standaard? Of: Op wie se standaard? Volgens navorsing en informele waarneming haal ‘n geweldige groot persentasie ouers hul kinders uit die skool en begin tuisskool omdat die standaard van onderwys in die publieke of privaatskool of mikroskool waar die kind was, nie na wense is nie. As jy vermoed jou kind “is agter”, moet jy jouself afvra: “Agter wie?”

Ek is sekerlik nie die enigste ma wat voor kliniekbesoeke met haar oudste naels gekou het oor die ontwikkeling van haar kind nie: Het haar kop genoeg gegroei? Weeg sy nie te min of te veel nie? Wat as haar lengte nie op standaard is nie? Het sy genoeg of miskien te min tande vir hierdie ouderdom? Moes sy nie lankal gesit/gekruip/gerol/geloop/gepraat het nie? Dan die groot verligting (of bekommernis) as die klinieksuster haar uitspraak gee: my kind is nog op standaard! Of, as die uitslag negatief was: Hoe gaan ek maak om my kind op standaard te kry? Eers met die volgende kinders begin jy stadigaan besef: my kind is enig in haar soort; sy het ‘n unieke vorderingspatroon, en dit is maar reg so. Dit is nie ‘n fout nie. Sy sal wel groot word, al behaal sy haar mylpale op ander tye en op ander maniere as haar boeties of sussies, of die bure se kinders. Dit help vreeslik baie om met ander ma’s te gesels; dan kom jy gou agter daar is eintlik maar min kinders wat presies volgens die grafiek van die klinieksuster of die kinderhandleidings vorder.

‘n Ouer leer baie gou: Elke kind het sy eie groeipatroon, en vorder teen sy eie tempo. Om moeilikheidmakers die mond te snoer, en om nog ‘n ekstra koeëlvaste lagie aan te trek, moet ‘n ma egter weet of haar kind vorder. Tuisskoolouers is net so uniek soos hulle kinders, en elke gesin werk hul eie manier uit om te meet en te weet of hulle kinders vorder. Hoe jy dit ook al doen – jy moet mooi duidelik weet wat kan jou kind nóú kan doen wat sy ‘n jaar gelede nie kon doen nie, ten opsigte van al haar verskillende vaardighede.

Dit kan ‘n ouer redelik maklik doen as hy/sy baie tyd by die kind deurbring en baie gesels met die kind. So vind ‘n mens uit hoe jou kind se gedagtes en redeneervermoë verander het, watter nuwe idees hy besig is om te ondersoek, of watter argumente hy besig is om op te weeg en vir homself uit te werk. As jy met ander ma’s gesels (dit is nou nadat hulle al besef het hulle hoef jou nie te beïndruk met hoe vinnig hulle kinders vorder nie), sal hulle vir jou ook vertel dat die een kind vinniger met tale vorder, maar stadiger met wiskunde, en dat die ander kind weer die omgekeerde is. Kinders verskil nou maar eenmaal.

Waarheen is jou kind oppad?

Voel jy soms of jy al in die rondte werk en nêrens kom met jou tuisonderwys nie? Ek onthou van tye wat dit vir my gevoel het ons trap bloot water met ons tuisonderwys en het geen rigting nie – daardie gevoel as mens om en om by ‘n verkeersirkel ry, sonder om een van die uitgangsroetes te kies. Miskien is dit hoe dit vir ‘n buitestaander lyk as hulle ‘n tuisskoolgesin beskou. “Weet die mense ooit wat hulle doen?…Weet hulle waarheen hulle op pad is?”

Dit is wel so dat daar baie tye is wat dit vir ‘n mens voel of jy in sirkels stap en geen vordering maak nie. Die werklikheid is dat g’n mens aan die begin van die jaar presies weet hoe jou pad deur die jaar gaan loop nie, wat nog te sê hoe die volgende vyf jaar gaan lyk. Die werklikheid is ook dat kinders se doelwitte verander. Die bonus van tuisonderwys is dat jy jou kind meer tyd kan gun om ‘n paar rigtings uit te toets, wat hy nooit sou kon doen as hy voltyds op die skoolbanke moes sit nie. Benut hierdie tyd ten volle om verskillende opsies uit te toets, om tyd en geld later te spaar.

Vir ‘n derde koeëlvaste lagie om jou tuisonderwys, en om te keer dat jy en jou kind te veel in die rondte loop, moet jy besluit op ‘n langtermyndoelwit waarheen elke kind mik, bv Matriek; of: Om ‘n eie besigheid te begin; of: Om die wêreld te sien; of: Om soveel moontlik tale te bemeester, of: Om te leer perdry, of: Om self my kar te kan diens. Hierdie doelwitte kan verander, en verander gewoonlik, soos die tyd aanstap, en soos die kind homself en die lewe beter leer ken. Dan is daar baie korttermyndoelwitte, soos om ‘n spesifieke handboek of interessante kursus deur te werk, of ‘n stuk praktiese werk af te handel. Die feit is dat as iemand jou voorkeer of wil vasvra oor wat jy met jou kind doen, het jy ‘n plan van aksie, wat jy glimlaggend met haar kan deel.

Kortom:

Sorg dus dat jy

  • Baie tyd met jou kind deurbring;
  • Sy vordering kan meet;
  • Lang- en korttermyndoelwitte het vir sy tuisonderwys.

Dan sal jy die meeste koeëls wat in die rigting van jou tuisonderwys afgevuur word, rustig kan afweer.

As jy onseker is oor of jou tuisonderwys wel koeëlvas is, kontak ons gerus, en dan kan ons gesels daaroor. Hou ook in gedagte om, as jy lid van die Trust is, en in enige konflik kom wat jou tuisonderwys betref, en daar byvoorbeeld ‘n welsynsamptenaar by jou huis opdaag, die noodnommer van die Trust onmiddellik te skakel. Skakel ons liewer te gou as te laat – ‘n klein vuurtjie is baie makliker om te blus as ‘n grote. Kontak ons onmiddellik as jy enige moeilikheid vermoed.