Huis Nuus GHEJOLT (Gauteng JLC) vergadering: 28/2/2023

GHEJOLT (Gauteng JLC) vergadering: 28/2/2023

408
0

Op 28 Februarie 2023 het die Gauteng Home Education Joint Liaison Committee (GHEJOLT) sy eerste vergadering vir die jaar gehad. GHEJOLT is ‘n skakel-liggaam, wat bestaan uit tuisskolers en die Gautengse Onderwysdepartement (GDO). Die GDO het tot dusver hierdie vergaderings baie pligsgetrou gereël, en het verlede jaar vier vergaderings gehou. Hulle beplan om hierdie jaar vier JLC-vergaderings te hou, asook ‘n aantal vergaderings met ouers.

 

Die vergadering het, soos gewoonlik, in ‘n baie gemoedelike atmosfeer plaasgevind.  

 

Van 2017 af, toe die DBO die niksvermoedende tuisskolers met die BELA Bill verras het, het die Pestalozzi Trust konsekwent die DBO voor stok gekry oor hulle gebrek aan skakeling met die tuisskolers.  Hierdie konstante druk het tot ‘n vergadering tussen die Minister van Basiese Onderwys met die Pestalozzi Trust gelei. Daarna was daar ‘n vergadering van die Minister met ‘n groter groep tuisskolers by die Ronde Tafel, en uiteindelik het dit gelei tot die totstandkoming van die skakelkomitees, of JLC’s, wat veronderstel is om in al nege provinsies te funksioneer. Dit is die beleid van die Trust om nie die enigste liggaam te wees wat tuisskolers verteenwoordig nie, maar om die betrokkenheid van alle tuisskolers aan te moedig.

 

Tot dusver het Gauteng die leiding geneem met gereelde vergaderings. Hierdie vergaderings maak dit moontlik om ouers by te staan wat probeer registreer, maar wat probleme ondervind daarmee.

 

‘n Paar hoogtepunte van die vergadering:

 

  • Van die begin van die jaar tot op 23/2/2023 het die GDO 875 aansoeke om registrasie van tuisskolers ontvang. Van hierdie aansoeke is 470 verwerk. 20 aansoeke is afgekeur, omdat die leerders tutorsentrums bywoon. Ongeveer 2400 tot 2500 tuisskolers is in Gauteng geregistreer.

 

  • Die DBO is besig om ‘n stelsel te ontwikkel wat dit sal moontlik maak vir tuisskolers om aanlyn aansoek te doen vir registrasie. Dit sal dit moontlik makliker maak om te registreer: tans spook Gauteng om al die aansoeke te verwerk wat hulle ontvang.

 

  • Baie dankie aan al die tuisskolers wat bygedra het tot ons navorsing oor registrasie deur die meningsopname oor registrasie in te vul. Die resultate van die opname, wat onder meer die onaanvaarbare vertragings met die registrasie uitlig, is met die provinsies gedeel, en ons is dankbaar om te sien dat die DBO maniere ondersoek om registrasie makliker te maak.

 

  • ’n Oorsig van assesseringsprogramme is verskaf, tesame met ‘n verduideliking van die registrasieproses. Dit is nie nodig om elke jaar te registreer nie, want registrasiesertifikate is geldig vir 3 jaar, of vir ‘n fase geldig.

 

  • Tans kan leerders in Gauteng wat aanlyn stelsels gebruik wel as tuisleerders geregistreer word. Wanneer die konsep raamwerk vir aanlyn skole gefinaliseer is, sal aanlyn leerders nie vir tuisonderwys geregistreer word nie, maar sal hulle wel met hulle aanlyn skole op ‘n ander platform geregistreer word.

 

  • Leerders by mikroskole, kleinskole, tuisskoolsentrums en “cottage schools” sal nie vir tuisonderwys geregistreer word nie. Danksy die werk van die Trust, het die Gauteng Association for Home Schooling (GAHS) en ander die kwessie in die GHEJOLT ter sprake gebring by die GDO. Die GDO het op hulle beurt die DBO gekontak oor die status van hierdie instellings, en dit blyk dat die DBO gewillig is om met hierdie instellings ‘n gesprek aan te knoop.

 

  • Die tuisskolers van Gauteng, geregistreer en ongeregistreer, is op bekwame wyse by hierdie en ander onlangse vergaderings deur die GAHS verteenwoordig, en hulle sal verdere terugvoer gee.

 

Oorweeg dit asseblief om by jou provinsiale vereniging of ander organisasie aan te sluit (kyk by https://www.liberty-in-learning.org/lilcoalition.html) sodat hulle druk kan uitoefen op jou provinsiale onderwysdepartement om ‘n JLC in jou provinsie te begin.

'N ANTWOORD LAAT

Please enter your comment!
Please enter your name here