Huis Nuus STOP DIE BELA BILL – ALMAL AAN BOORD VIR DIE CEM-VELDTOG

STOP DIE BELA BILL – ALMAL AAN BOORD VIR DIE CEM-VELDTOG

2502
0

Dankie aan almal wat alreeds vir die MEC of Onderwysminister in jul provinsie geskryf het. As jy nog nie geskryf het nie, skryf asseblief so spoedig moontlik. Hoe meer mense skryf, hoe groter impak het ons.

Die Lang Staptog na Vryheid

Om die regering van opinie te laat verander, is ‘n lang, tydsame proses, en sukses daarmee word in klein treetjies gemeet. Een so ‘n sukses is die feit dat die DBO aanvaar het dat tuisskolers nie gedwing moet word om vir elke skoolfase van vooraf aansoek te doen om registrasie nie.

Hierdie suksesverhaal het begin toe julle druk uitgeoefen het deur jul voorleggings oor die BELA Bill in 2017. Tuisskolers, wat minder as 1% van die skoolbevolking uitmaak, het 1000 voorleggings ingedien, ‘n volle 20% van al die voorleggings wat ingedien is.

Die Trust het jul pogings opgevolg deur tydens 2018 en 2019 gereeld met die DBO te korrespondeer – twee jaar se korrespondensie wat probleme met die BELA Bill vanuit alle hoeke belig het.

Dit het aan die einde van 2019 tot gevolg gehad dat die Trust versoek is om bykomende kommentaar op die BELA Bill aan die DBO voor te hou, en die Trust is toe uitgenooi na ‘n vergadering met die Minister van Basiese Onderwys. Hierdie kommentaar van die Trust het ‘n regsopinie ingesluit, wat getoon het dat die herregistrasieproses onwettig is. Ons regspan het geargumenteer dat ‘n driejaarlikse herregistrasieproses daarop neerkom dat registrasie sonder ‘n behoorlike regsproses gekanselleer word. Die DBO het ons dit toegegee, en die BELA Bill aangepas sodat daar nou eenmalige registrasie, met slegs kennisgewing in elke fase, vereis word.

Dit is ‘n beduidende wins vir tuisskolers, want ouers sal wanneer die BELA Bill aanvaar is nie vir elke fase toestemming hoef te vra om mag tuisskool nie. Elke tuisskoolgesin wat geregistreer is, sal ‘n groot deel van die langdradige en tydrowende registrasieproses gespaar wees.

Sonder julle lojale ondersteuning oor die jare sou ons natuurlik nie die hulpbronne hê om regsopinies te kan bekostig of om die druk op die DBO vol te hou nie. So wen julle die geveg om vryheid vir tuisonderwys een klein treetjie op ‘n slag. Maar daar lê nog ‘n lang staptog voor ons. Die gevegsterrein is besig om uit te brei, en ons versoek julle graag om ons met die volgende stap te help, deur vir die provinsiale onderwysminister te skryf.

Die diagram hieronder stel die proses voor wat die BELA Bill besig is om te volg, van die publikasie vir kommentaar, tot promulgering as wet in die Parlement. Ons is nou op die stadium voor die CEM (Council of Education Ministers) se vergadering.

Cape Home Educators het alreeds ‘n uitnodiging tot ‘n vergadering met die MEC ontvang, as deel van hulle briefskryfveldtog. Maar as jy in die Wes-Kaap is, skryf asseblief steeds ‘n brief. Hou aan skryf, om seker te maak dat jou stem gehoor word en dat die MEC weet dat die CHE duisende tuisskolers het wat hulle steun. Tuisskolers in ander provinsies moet ook probeer om so ‘n uitnodiging te kry.

Stop Ongevraagde Tuisbesoeke

Een kwessie wat veral ‘n bron van kommer is, is tuisbesoeke.  Ons het twee regsopinies aan die DBO voorgelê wat die ongrondwetlike aard van hierdie besoeke onderstreep. Op die een stadium het die Minister van Basiese Onderwys met ons saamgestem dat hierdie besoeke ‘n ontoepaslike gebruik van skaars hulpbronne meebring, maar desnieteenstaande is tuisbesoeke steeds opgeneem in die BELA Bill. Noem dus asseblief julle besorgdheid oor tuisbesoeke in jul briewe, en miskien kan ons hierdie geveg ook wen.

Ons besef dat dit vreesaanjaend kan wees om vir ‘n MEC of provinsiale onderwysminister te skryf. Daarom verskaf ons ‘n templaatbrief om dit makliker te maak. Jy kan die brief hier kry. Verpersoonlik asseblief die brief soveel moontlik. Maar nog belangriker as dit is om te skryf, en om dit gou te doen.

Hoe om ‘n templaatbrief te gebruik

Die templaatbrief bevat rooi gedeeltes in vierkantige hakies […]. Die inligting is vir jou private gebruik. Daarom moet die brief wat jy instuur geen vierkantige hakies bevat nie.  Alles in die vierkantige hakies is ons voorstelle, waar jy jou eie woorde moet invul. Maak asseblief seker nadat jy jou brief geskryf het dat die brief nie enige vierkantige hakies of enige rooi woorde in die vierkantige hakies bevat nie.

Klik hier vir ‘n lys van al die provinsiale onderwysministers. Jy sal al die kontakdetails hier kry wat jy nodig het om ‘n brief te stuur. Die lys bevat ook ‘n kort biografie van elke MEC. Jy kan jou brief ook so aanpas dat dit fokus op sake wat jy meen vir die MEC van belang sal wees.

Wanneer jy jou brief stuur, bcc asseblief homeschoolfreedom1996@gmail.com, sodat die Trust tred kan hou met al die briewe wat gestuur word.

Dankie weer eens vir alles wat julle doen om vryheid in tuisonderwys vir jou kinders te verseker. Jou kinders, kleinkinders en agterkleinkinders sal eendag baie dankbaar wees vir jou huidige bydraes.

'N ANTWOORD LAAT

Please enter your comment!
Please enter your name here