Huis Nuus BELA in jou Huis: Deel I

BELA in jou Huis: Deel I

4298
0

Hoe die definisie van tuisonderwys in die BELA Bill ons tuisonderwys gaan verander

deur Uda de Wet (Gasskrywer: Home Education Alumni Association)

Na maandelange doodse stilte begin die BELA Bill nou weer lewe kry. Indien jy miskien vergeet het wat die BELA Bill is: Die BELA Bill is die Basic Education Laws Amendment Bill (die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette), wat vir die eerste keer in 2017 vir publieke kommentaar gepubliseer is, en wat ten doel het om die wetgewing oor tuisonderwys in Suid-Afrika te verander. Die Departement van Basiese Onderwys het in die Portefeuljekomitee vir Basiese Onderwys (Portfolio Committee for Basic Education of PCBE) gerapporteer oor hulle vordering ten opsigte van die BELA Bill, soos ons voorheen in ‘n nuusbrokkie aan ons lede meegedeel het. Dit beteken dat die BELA Bill sy reis begin het al op die ry af deur die reeks amptelike strukture wat dit moet afteken voor dit in die parlement ter tafel gelê kan word. Dit sal waarskynlik binne die volgende maande voor die parlement kom.

In die loop van die volgende twee jaar (maar miskien langer) sal daar verskillende geleenthede vir publieke deelname wees. ‘n Geleentheid vir publieke deelname beteken dat ek en jy – as individue, as burgers, as ouers, as lede van verenigings – ‘n kans kry om hierdie stuk wetgewing te verander. Maar om enige nuttige insette te kan lewer, moet ons weet hoe hierdie wetgewing ons daaglikse lewe gaan beïnvloed.

Hierdie dokument is nie ‘n poging om teen die BELA Bill te argumenteer of om ‘n omvattende lys probleme op te stel nie, want so ‘n lys sal ‘n proefskrif kan volmaak. Dit is eenvoudig ‘n poging om met julle net sommige van die probleme te deel wat tuisonderwysgesinne waarskynlik gaan ondervind wanneer die BELA Bill wet geword het.

Die BELA Bill se definisie van Tuisonderwys

Die mees onlangse weergawe van die BELA Bill definieer tuisonderwys soos volg:

Home Education means a purposeful programme of education for a learner, alternative to school attendance, which –

  • is provided under the direction of the learner’s parent, primarily in the environment of the learner’s home;
  • may include tutorial or other educational support, if necessary, secured by the parent in specific areas of the curriculum followed by the learner; and
  • meets the requirements for home education contemplated in section 51 of this Act.”

Ons gaan nou net na twee kommerwekkende aspekte van hierdie definisie kyk wat ‘n impak op ons daaglikse lewens as tuisskoolgesinne gaan hê. Hierdie twee aspekte is waar tuisonderwys mag plaasvind en wie tuisonderwys mag aanbied.

Kom ons kyk nou na die eerste deel van die definisie, naamlik waar tuisonderwys onder die BELA Bill mag plaasvind.

Waar  mag tuisonderwys plaasvind?

Punt (a) van die definisie soos hierbo aangehaal, sê die volgende: Tuisonderwys moet verskaf word “… primarily in the environment of the learner’s home …”.

Die woord “home” beteken heel waarskynlik die perseel waar die kind normaalweg woon – alhoewel dit nie in die Wet omskryf word nie – Probleem Nr. I.

Die woord “primarily” beteken dat nie alle onderwys by die kind se huis gedoen hoef te word nie. Julle sal op uitstappies kan gaan, biblioteke kan besoek, en ‘n paar ekstra tutorsessies of ander buitemuurse aktiwiteite kan aanpak. Solank julle nie te veel uitgaan nie. Maar beteken dit nou ten minste 51% van die tyd? Wat as jou kind 35% van die tyd tuis was, 25% van die tyd in ‘n ko-op deelgeneem het, 20% van die tyd aan uitstappies of praktiese werk buite die huis bestee het, en 20% van sy tyd bestee het aan gespesialiseerde onderrig by ‘n tutorsentrum? Is dit nou “primarily”? – Probleem Nr. 2. 

Die ideale situasie is waarskynlik om by die huis te kan tuisskool, en ek wens alle tuisskolers kon die vryheid en weelde geniet om fisies by die huis te kan tuisskool.

Maar, soos ‘n mede-ouer by die Liberty in Learning Coalition daarop gewys het: wat van die armste van arm gesinne, wat in baie klein huisies of pondokkies woon? Hulle huise is moontlik nie die ideale plek om die grootste deel van hulle dag deur te bring nie, maar dit beteken sekerlik nie dat hulle nie in staat is om hul kinders op te voed nie. Ouers wat in armoede leef kan tog sekerlik steeds kapabel en gewillig wees om hul kinders se onderwys te fasiliteer. Dit is baie onregverdig dat die BELA Bill, in plaas van om hierdie gesinne te help, dit moeilik maak vir hulle, deurdat die ouers nie toegelaat word om die biblioteek of ‘n ander plek te gebruik om hul kinders self te leer nie.

‘n Ander kategorie gesinne wat negatief deur die BELA Bill geraak gaan word, is gesinne waar albei ouers werk, maar een van die ouers kan die kinders saamneem werk toe. Gestel byvoorbeeld dat die ma ‘n haarkapster is met haar eie besigheid. Sy kan ‘n aparte kamer vir haar kinders by haar besigheidsperseel inrig, waar hulle aanlyn of met ander werk gedurende die oggend kan voortgaan.  Omdat sy vir haarself werk, kan sy haar kliënte op so ‘n wyse skeduleer dat sy byvoorbeeld elke uur of so ‘n halfuur los het om die kinders te help met dit waarmee hulle sukkel. So ‘n opset sal heeltemal wettig wees as die besigheid van die huis af bedryf word, maar net omdat hulle na ‘n ander plek toe moet gaan, verhoed die BELA Bill sulke ouers om hul eie kinders te leer.

Nog ‘n kategorie gesinne wat negatief beïnvloed sal word, is gesinne wat nasionaal en internasionaal reis. Hoe gemaak as die gesin in werklikheid die meeste tyd op die pad bestee, of in gastehuise?

Hierdie probleme kan wel getemper word as die woord “home” geïnterpreteer kan word as die gesinsomgewing, in plaas van die fisiese gebou wat gewoonlik “home” of huis genoem word. Dit is egter nie die voor-die-hand-liggende betekenis van die woord nie, veral nie in die konteks van die BELA Bill nie.

Dis duidelik dat hierdie deel van die BELA Bill se definisie van tuisonderwys heel moontlik uiters beperkend sal wees vir ‘n groot aantal tuisonderwysgesinne. Die volgende deel van die definisie, wat die persone beperk wat tuisonderwys mag fasiliteer, sal verdere beperkings byvoeg.

  Wie mag tuisonderwys verskaf?

Punt (b) van die definisie lees soos volg: “[home education] may include tutorial or other educational support, if necessary, secured by the parent in specific areas of the curriculum followed by the learner…

Tot nou toe is enige onderwys by ‘n kind se huis beskou as tuisonderwys, ongeag wie die onderwys aanbied. Maar onder die nuwe BELA Bill mag tutors en ander opvoedkundige ondersteuning slegs vir spesifieke areas van die kurrikulum benut word. Hiermee verbied die BELA Bill dus voltydse tutordienste.

Hierdie verbod sal vir baie gesinne rampspoedig wees, veral gedurende COVID en die post-COVID-wêreld. Daar is baie gesinne waarin albei ouers om die een of ander rede moet werk, maar waar die ouers ook onwillig of nie in staat is om die kinders skool toe te stuur nie. Hierdie gesinne sal nie meer toegelaat word om die dienste van ‘n au pair of tutor te gebruik om hul kinders voltyds tuis te onderrig nie.

En dit is nie alleen voltydse tutors en au pairs wat verbied sal word nie. Ook lede van die kern- en uitgebreide gesin, soos ouer broers of susters, tantes, ooms en oupas en oumas, sal nie toegelaat word om ‘n spesifieke gesin se kinders by die kinders se huis te onderrig nie.

Aanlynskool of -tutors is nog ‘n hulpbron wat moontlik onder die nuwe wet as onwettig beskou kan word. Tensy die wet verander, sal aanlynverskaffers en -tutors nie ‘n volledige pakket kan verskaf nie – die wet sal ouers daartoe kan beperk om hul dienste slegs vir sekere vakke te gebruik.

Dit klink so belaglik om hierdie oplossings te verbied, veral in die lig van COVID, dat ‘n mens skaars kan glo dat die regering werklik hierdie verandering wil maak. Daar is egter duidelike redes waarom dit waarskynlik is wat hulle in gedagte het.

In die eerste plek verbied die Policy on Home Education die gebruik van ‘n voltydse tutor in Afdeling 18.4 (2)(b): “A tutor … may not attempt to play the role of a school under the pretext of providing a tutoring service to the learner, e.g. taking over the full responsibility for delivery of the curriculum at the learner’s home or at another place away from the home education site.

In die tweede plek is DBO-amptenare bekend daarvoor dat hulle aansoeke afkeur waar ‘n voltydse tutor die onderwys verskaf.

Dus: alhoewel die huidige wetgewing in werklikheid nie die gebruik van ‘n voltydse tutor verbied nie, lyk dit of die DBO daarteen besluit het.

In die lig van die bostaande is dit moeilik om nie hierdie deel van die BELA Bill-definisie te lees as ‘n verbod op die gebruik van ‘n voltydse tutor nie.

Slotsom

Die definisie van tuisonderwys in die BELA Bill sal ons keuses oor waar ons kan tuisskool en watter hulpbronne ons kan gebruik ten opsigte van tutors ernstig beperk. Dit is ‘n ernstige bron van kommer dat hierdie voorgestelde veranderinge tuisonderwys buite die bereik van minder gegoede gesinne gaan plaas. Waar tuisonderwys tans ‘n baie bekostigbare, veelsydige manier is om onderwys van ‘n hoë gehalte aan enigeen te verskaf, kan hierdie veranderinge inderdaad die gevolg hê dat tuisonderwys tot die welvarende deel van die bevolking beperk word.

 Wat ons (nou dadelik) kan doen

Begin dink aan watter impak die BELA Bill op jou gesin en gemeenskap gaan hê. Skryf dit neer. Jy gaan hierdie inligting nodig kry in alle toekomstige gesprekke oor die BELA Bill.

Daar sal geleentheid wees vir publieke deelname sowel voor as tydens die parlementêre proses. Die Pestalozzi Trust sal sy lede op hoogte hou van al sulke geleethede, en sal leiding aan sy lede bied oor die tipe deelname wat nodig sal wees. As jy nog nie lid van die Pestalozzi Trust is nie, oorweeg dit asseblief om aan te sluit in voorbereiding vir die gevegte wat voorlê. Elkeen moet op sy pos wees en elkeen se bydrae is van kardinale belang!

'N ANTWOORD LAAT

Please enter your comment!
Please enter your name here