Huis Nuus KZN Registrasie-krisis: Pestalozzi Trust stel regsaksie in teen die KZN MEC

KZN Registrasie-krisis: Pestalozzi Trust stel regsaksie in teen die KZN MEC

1010
0

Die KZN Onderwysdepartement (KZNDOE) se voortgesette afkeurings van tuisskoolregistrasies het die Pestalozzi Trust genoop om ‘n saak te maak teen die LUR (MEC) vir Onderwys in KZN. Dit is die eerste regsaksie teen die rigiede implementering van die Beleid op Tuisonderwys deur Provinsiale Onderwysdepartemente.

Rigiede afdwinging sal teengestaan word

Toe die Beleid op Tuisonderwys in 2018 gepubliseer is, het die Trust dit duidelik gemaak dat indien enige onderwysdepartement die Beleid rigied sou toepas, die Trust dit in die hof sou teenstaan. Beleid het nie dieselfde krag as ‘n wet of regulasie nie, of as die BELA Bill, wanneer dit wet geword het nie. Amptenare moet die Beleid toepas in lyn met die SA Skolewet, en op ‘n buigsame wyse. Dis belangrik dat selfs wette en regulasies altyd die “Beste Belange van die Kind” moet beskerm.

Tot op hede was dit nog nie nodig om hof toe te gaan om die implementering van die Beleid teen te staan nie, want die Trust het tot dusver suksesvol tussenbeide kon tree in ‘n aantal gevalle waar tuisskolers probeer registreer het, selfs wanneer hulle nie aan al die vereistes van die Beleid voldoen nie. Die Trust het byvoorbeeld gesinne gehelp om te registreer wat nie die Suid-Afrikaanse NKV (NCS/CAPS) kurrikulum gebruik nie.

Afkeurings in KZN sedert November 2021

Maar sedert laat November 2021 het daar ‘n probleem begin kop uitsteek in KwaZulu-Natal. Eers is net ‘n paar en later ‘n hele klomp tuisskolers se aansoeke om te registreer vir tuisonderwys afgekeur. Teen vroeg 2022 het dit duidelik geword dat ons met die grootste aantal afkeurings ooit vir tuisonderwys te doen het.

Die Trust het die KZNDOE en die nasionale Departement van Basiese Onderwys (DBO) gekontak om die rede hiervoor vas te stel. 

Wat gebeur het, is dat die KZNDOE alle aansoeke van tuisskolers afgekeur het wat aanlyn skole gebruik. Enige aansoek wat “online”, “school” of “academy” vermeld, is afgekeur. 

Moontlike rede vir afkeurings

Die KZNDOE het aangedui dat hierdie kwessie onder hulle aandag gekom het omdat ‘n aantal leerders wat “cottage schools”, mikroskole, tuisskoolsentrums of bywoon aansoek gedoen het vir registrasie as tuisskolers. Die Trust het al dikwels gewaarsku dat leerders wat hierdie instellings voltyds bywoon nie moet probeer registreer as tuisskolers nie. Die Trust ondersteun hierdie klein instellings, en tree namens hulle op om te verseker dat die wet verander word om hulle te akkommodeer, en intussen staan ons hulle by om te registreer as onafhanklike skole. Ons raai egter aan dat die leerders wat hierdie instellings bywoon nie as tuisleerders geregistreer behoort te word nie. 

Aansoeke van aanlynskool-gebruikers afgekeur

Wat ook al die rede vir die aanvanklike afkeurings was, het die KZNDOE teen die middel van 2022 die posisie ingeneem dat tuisskolers wat aanlyn skole gebruik nie toegelaat sou word om te registreer nie, en steeds afgekeur sou word, totdat ‘n nuwe nasionale raamwerk in plek was vir die regulering van aanlyn onderwys. Dit is natuurlik iets waarvoor aanlyn verskaffers die DBO al jare lank voor smeek, naamlik om regulasies in plek te stel wat aanlyn skole akkommodeer. Soos gewoonlik moet onskuldige leerders nou die prys betaal vir die DBO se onbevoegdheid.

Die KZNDOE het uiteindelik ondersteuning ontvang van die DBO in hul afkeuring van registrasies, maar gelukkig gaan sommige ander provinsies voort om aanlyn leerders vir tuisonderwys te registreer. 

Afkeuringskoors in KZN

Die krisis is egter besig om toe te neem: die afkeurings sluit nou leerders in wat enige soort aanlyn kurrikulum gebruik, en selfs kurrikulums wat glad nie aanlyn is nie! Dis moontlik dat nie almal afgekeur word nie, maar ons is bewus van afkeurings waar leerders kurrikulums gebruik wat al meer as 15 jaar op die mark is en baie bekende handelsname in tuisonderwys is. Wat dit nog meer ontstellend maak, is dat van die tuisskolers wat hierdie kurrikulums gebruik vir die afgelope 15 tot 20 jaar reeds geregistreer was.

Dit is weer eens ‘n waarskuwing van hoe ‘n onderwysdepartement 180 grade kan omswaai, en hoe geen argumente, pleidooie, regsbriewe of dreigemente hulle van opinie kan laat verander wanneer hulle op ‘n koers besluit het en hulle “seniors” hul boonop daarin ondersteun nie. Ongelukkig kan so ‘n probleem net opgelos word as jy probeer om onder die radar te vlieg, of jou tuisonderwysmodel te verander, of tuisonderwys te laat vaar (die amptenare van die KZNDOE stel graag baie “vriendelik” aan ons voor dat die leerders in skole geplaas kan word), of dan deur peperduur hofsake.

MEC voor die hof

Die Trust is baie dankbaar vir die drie dapper gesinne wat besluit het dat hulle nie rondgestoot gaan word nie, en wat gewillig is om die MEC voor die hof te daag.

Op 6 Desember, 2022 sal die eerste deel van die gesinne se aansoek in die Hoë Hof aangehoor word. Dit is ‘n administratiewe aksie, waarvan die doel is om die MEC te dwing om op die appèlle van die gesinne te antwoord. 

As jy registrasie geweier word, het jy die reg om te appelleer:

“(5) If the HOD declines the application to register the learner for home education, s/he shall in writing, inform the parent:
(a) stating the reason(s) for declining the application; and
(b) of the right to appeal to the MEC within 14 days of receiving the notice.
(6) The MEC should take all reasonable steps to respond to the appeal within 30 days of receipt thereof.”

Die Trust het al verskeie gesinne wat afgekeur is, gehelp om te appelleer. Ongelukkig het die MEC nie op hierdie appèlle geantwoord nie, ten spyte van herhaalde herinnerings en prokureursbriewe. Dus het die Trust geen ander opsie as om hof toe te gaan om die MEC te dwing om haar werk te doen nie.

Hoe kan ek help?

  1. Bid asseblief saam met ons vir die sukses van die hofsaak, en vir die beskerming van tuisskoolgesinne in Suid-Afrika, en veral in KZN.
  2. As jy miskien nog nie ‘n lid is nie, sluit aan by die Trust.
  3. As jy ‘n lid is, moedig jou vriende en familie aan om ook lid te word. Die Trust kan hierdie aksies onderneem slegs danksy die lojale ondersteuning van ons lede. ‘n Groot dankie aan ons lede!
  4. As jy besluit om te registreer, maak seker dat jy ‘n kopie van jou aansoek bewaar, asook die bewys dat jy dit ingedien het. Dit kan òf ‘n e-pos wees òf ‘n bewys van aflewering, wat die datum van versending en aflewering toon. Moet nooit dokumente of aansoeke oorhandig sonder bewys dat jy dit gedoen het nie. As jy dit nie per e-pos of per koerier indien nie, en dit by ‘n staatskantoor indien, moet jy ‘n kopie maak van jou aansoek, en die amptenaar vra om dit te stempel en dan die afleweringsdatum langs die stempel in te skryf. Bewaar hierdie dokumente op ‘n veilige plek. Dit sal dit makliker maak vir ons om jou te help as jy hierdie dokumente beskikbaar het.

Dankie vir jou lojale ondersteuning in die stryd om tuisleerders se reg op onderwys te beskerm!

'N ANTWOORD LAAT

Please enter your comment!
Please enter your name here