Huis Nuus Pestalozzi Trust bewillig R2.35m om BELA Bill te beveg

Pestalozzi Trust bewillig R2.35m om BELA Bill te beveg

770
0

Die Trustees van die Pestalozzi Trust het hulle tot ‘n aanvanklike bedrag van R2.35 miljoen uit die Trust se kapitaalfonds verbind om die Basic Education Laws Amendment (BELA) Bill in die hof teen te staan, indien dit as wet bekragtig sou word. 

‘n Hoofdoel van die Pestalozzi Trust soos uiteengesit in die trustakte is: “to preserve the fundamental universally and constitutionally recognised rights of parents and families diligently to guide and direct the education of their children”. 

Die BELA Bill, wat nou na die Nasionale Raad van Provinsies (National Council of Provinces of NCOP) beweeg, sal ernstig inbreuk maak op die regte van ouers en hul vermoë om hul kinders op ‘n wyse op te voed wat in die beste belang van elke kind is. Dit is veral ‘n bron van kommer vir ouers met ‘n Christelike en ander geloofstelsel, aangesien dit ouers kan beperk in die vrye uitoefening van hul regte in die opvoeding van hul kinders.  

Die Trust is goed geposisioneer om die BELA Bill uit te daag, aangesien hy oor die jare aktief met verskeie staatsliggame geskakel het, insluitende die Departement van Basiese Onderwys, provinsiale onderwysdepartemente, die nasionale Ministerie van Basiese Onderwys, die Kabinet, die Presidensie en die Parlement van die Republiek van Suid-Afrika. Daarom is die Trust ook deeglik bewus van die gebreke in die Bill. 

Verder wag die Trust sedert die promulgering van die Beleid op Tuisonderwys om die wet waarop die Beleid eintlik gebaseer is, uit te daag. Daar is destyds besluit om nie die Beleid te betwis nie, aangesien die kans op sukses vir ‘n abstrakte hofsaak skraal is, en om eerder die BELA Bill direk te aan te vat. Noudat die BELA Bill die einde van die wettigingsproses nader, is die Trust besig om hom voor te berei vir hierdie regstryd.

Die Trust is van mening dat die prosedurele en substantiewe gebreke in die Bill tot ‘n prima facie-saak teen die Bill kan lei. 

Om hierdie regstryd verder te versterk, sal die Trust ook voortgaan met sy veldtogte om die Bill te stop voor dit wet word. Ons versoek dat jy hierdie veldtogte ondersteun; jou hulp sal verseker bydra tot die sukses van hierdie hofsaak. 

Baie dankie aan die lojale Trustlede, wat vir die opoffering van die prys van twee koffies per maand die Trust jare lank al ondersteun, en sodoende Einstein se stelling as waar bewys het dat die kragtigste mag in die heelal dié van saamgestelde rente is. Dit het die Trust in staat gestel om oor daardie jare ‘n fonds op te bou wat dit moontlik maak om miljoene rande vir ‘n hofsaak soos hierdie opsy te sit. 

Wanneer die BELA Bill in die NCOP bespreek word, word die Select Committee on Education and Technology, Sport, Arts, and Culture (die SC) die taak opgelê om die Bill in oënskou te neem. Die Select Committee vergader Woensdag 8 November van 10:00 tot 12:30 vir hul eerste bespreking van die BELA Bill. Tydens hierdie vergadering sal hulle waarskynlik besluit op die besonderhede van die proses van openbare deelname, en ook wanneer daardie proses sal plaasvind. 

Sluit gerus aan by jou provinsiale Tuisskool-Aktivistegroep om op hoogte te bly van die jongste verwikkelinge in jou provinsie. Sluit by die Tuisskool-Aktiviste-gemeenskap aan deur hierdie skakel te volg: https://chat.whatsapp.com/CcSoxn696xt94MxrFrTDhY.

Lede van die Pestalozzi Trust word herinner aan die WhatsApp-groep vir lede, waar daar Woensdag “Lewende” kommentaar en ‘n detailbespreking gedurende die vergadering van die Select Committee gaan wees. Om daarby aan te sluit, kyk in jou jongste Nuusbrokkie van die Trust, of kontak die Trust om aan te sluit. 

Jou betrokkenheid en deelname is broodnodig in ons voortgesette pogings om tuisonderwysregte te beskerm en te bevorder. Dankie vir jou ondersteuning! 

'N ANTWOORD LAAT

Please enter your comment!
Please enter your name here