Huis Nuus Outomatiese brief vir tuisskolers om aan jou LUR te stuur

Outomatiese brief vir tuisskolers om aan jou LUR te stuur

2804
0

Lede van die Pestalozzi Trust het die afgelope tyd aan die Provinsiale Onderwysministers geskryf om hulle te versoek om tuisskolers se bekommernisse met die Minister van Basiese Onderwysminister te bespreek wanneer sy hulle oor die BELA Bill konsulteer. Ons versoek alle tuisskolers om aan te sluit by die veldtog.

Die veldtog van die Pestalozzi Trust waarin ons ons lede aanmoedig om aan hul Provinsiale Onderwysministers te skryf oor die omstrede  BELA Bill was tot dusver buitengewoon suksesvol. Julle het moontlik op sosiale media gesien dat briewe deur tuisskolers ‘n belangrike rol gespeel het om die Wes-Kaapse LUR (MEC) te oorreed om met die Cape Home Educators te vergader, en dat daardie vergadering ‘n belangrike eerste stap was. Die mediaverklaring kan hier gelees word.

Nou wil ons dit graag in elke provinsie laat gebeur!!!

Lede van die Pestalozzi Trust het alreeds briewe ingestuur, en party het ons templaatbrief gebruik om hulle te inspireer om te skryf. As jy tyd het om ‘n brief van vooraf te skryf of om die templaat te gebruik, kan jy meer inligting by die skakels kry.

Outomatiese brief

Maar ons weet dat julle miskien nie nou die tyd het om so ‘n brief van vooraf te skryf nie (party mense skryf tewens eksamen nou), en daarom maak ons dit maklik om deel te neem: ons het ‘n spesiale platform geskep wat outomaties ‘n brief vir jou sal genereer. Jy hoef geen besonderhede op te soek nie; vul net die gevraagde inligting in, verpersoonlik jou brief deur ‘n paragraaf of wat by te voeg (daar is geen beperking op die hoeveelheid wat jy kan skryf nie), en stuur dan jou brief. Die brief sal dan dadelik die pad vat na jou LUR toe.

Ja – dit is werklik ‘n gevorderde stelsel, en jou brief sal outomaties verpersoonlik word met die besonderhede vir jou provinsie. Dit het heelwat beplanning en programmering geverg, maar die Trust is trots daarop dat ons ‘n outomatiese veldtogstelsel geskep het soortgelyk aan die Dear SA-platform, maar (hoop ons) selfs beter, aangesien ons platform uitsluitlik op onderwyssake fokus. Hierdie werk bou op die vaardighede wat ons ontwikkel het toe ons ‘n soortgelyke platform ontwikkel het gedurende ons vorige CEM-veldtog aan die Minister oor die Beleid oor Tuisonderwys.

Probleme om met jou LUR te bespreek

Die probleme met die BELA Bill wat met die LUR’e aangespreek moet word, is die kortliks die volgende:

  • Die Pestalozzi Trust het twee regsopinies aan die DBO verskaf wat uiteensit dat tuisbesoeke inbreuk maak op die reg op privaatheid. Hierdie saak is nog nie aangespreek nie.
  • Die Bill is opgestel sonder enige navorsingsbasis. Daar is byvoorbeeld geen betroubare navorsing oor die getal tuisskolers nie. Hoe kan die impak van die BELA Bill beoordeel word indien daar geen akkurate statistiek oor iets so basies as die aantal tuisskolers in Suid-Afrika bestaan nie?
  • Die Sosio-Ekonomiese Impak-Assessering (Socio-Economic Impact Assessment of SEIA) het nie die begrotingsimpak van die BELA Bill op ouers en provinsies in aanmerking geneem nie. Die koste verbonde aan sodanige assesserings kan miljoene beloop. Suid-Afrika kan kwalik verdere onnodige uitgawes bekostig.

Hoe stuur ek ‘n brief

Om jou brief te stuur, kan jy net klik op die skakel vir jou provinisie, en dan sal daar ‘n vorm oopmaak. Vul jou naam en e-posadres in die vorm in, en skryf ‘n paragraaf waarin jy verduidelik hoe lank jy al tuisskool, hoekom jy tuisskool en vertel van die impak wat dit op jou gesin gehad het.

NB: As jy in die Wes-Kaap is, het jy alreeds gehelp om ‘n vergadering met die Minister van Onderwys in die Wes-Kaap te verkry. Ons is besig om te werk aan die volgende stap – en ons sal jou op hoogte hou en jou hulp beslis binnekort inroep.

Hoe gaan my brief aan die minister lyk?

Wanneer jy die vorm indien, sal die platform ‘n brief aan die minister genereer met jou unieke boodskap in en waarin jy verduidelik wat jou probleme met die BELA Bill is. Dit sal ook jou LUR versoek om:

  • In te stem om met tuisonderwysverenigings, -belangegroepe, -ouers en -kundigs te vergader voor die BELA Bill in die CEM-vergadering bespreek word, om hulle in te lig oor die besorgdhede van die tuisskolers.
  • Te skakel met tuisonderwys-organisasies, soos die Pestalozzi Trust en die lede van die Liberty in Learning-koalisie van tuisonderwys-organisasies, wat navorsingsgebaseerde advies kan verskaf oor die sosio-ekonomiese impak van die Bill in die provinsie.

Aangesien hierdie platform ‘n verpersoonlikte brief genereer, is dit nie ‘n petisie nie, maar ‘n individuele versoek waarop die minister moet antwoord.

Die Pestalozzi Trust-platform hou ook rekord van al die voorleggings wat gemaak is, sodat dit gebruik kan word as getuienis in enige hofsaak. Jy sal ook vir jou rekord ‘n kopie van die brief ontvang wat gestuur is.

Die brief wat die minister sal ontvang, sal slegs jou naam en e-posadres bevat, en geen verdere persoonlike besonderhede nie. Hierdie inligting kan nie gebruik word om jou te vervolg nie. ‘n Voorbeeld van die kopie van die brief wat jy sal ontvang is hier.

As jy nog nie geskryf het nie, doen dit asseblief nou! Ons plasings op sosiale media sal een van die dae verskyn. Deel dit asseblief op jou sosiale media en in tuisskoolgroepe, om ander tuisskolers aan te moedig om ook te skryf!

'N ANTWOORD LAAT

Please enter your comment!
Please enter your name here