Huis Nuus Moet ek CAPS doen? Deel 1

Moet ek CAPS doen? Deel 1

5544
0

(Deur Christopher Cordeiro, LearnFree: Gasskrywer)

‘n Tuisskoler wat ondersoek instel na registrasie vir tuisonderwys by een van die provinsiale onderwysdepartemente sou verwag dat hierdie vraag ‘n eenvoudige, ongekompliseerde antwoord sal hê. Maar soos omtrent alles wat met registrasie te doen het, is dit nie so nie. Dit is een van die moeilikste vrae om te beantwoord, en die rede is waarskynlik omdat die idee dat daar kinders in Suid-Afrika kan wees wat nie CAPS doen nie vir die meeste mense ‘n skok sal wees.

Dit is so ‘n komplekse vraag dat dit in twee dele beantwoord gaan word. In die eerste deel sal ons “assessering” hanteer, en in deel twee bespreek ons hoe om met jou gekose program te registreer. Dit klink agterstevoor, maar jy sal sien dat dit baie belangrik is om jou einddoel in gedagte te hou as jy hierdie vraag wil beantwoord. In die tweede deel van die artikel sal ons ook kyk na hoe jy jou en jou kind se tuisonderwysregte kan beskerm wanneer jy registreer.

Die vreemdste aspek van die vraag “Moet ek CAPS doen?” is dat 99% Suid-Afrikaners wie se kinders in die skool is dit nooit sou vra nie. Die blote idee dat jy en jou kind ‘n keuse sou hê oor die kurrikulum wat julle volg, is iets wat die meeste Suid-Afrikaners nog nooit aan gedink het nie. Die meeste onafhanklike skole volg ook CAPS en die handjie vol wat dit nie volg nie, probeer so hard as moontlik konformeer aan CAPS.

Maar die vryheid om ‘n kurrikulum of benadering te kies, vorm die grondslag van tuisonderwys. Selfs al is dit nie die rede waarom almal tuisskool nie, lyk dit of navorsing in Suid-Afrika aandui dat die meeste tuisskolers baie gou nadat hulle begin het aanpassings aan hul opvoedkundige program maak. 

Wanneer jy sê: “My kinders doen nie CAPS nie”, sal jy in alledaagse geselskap as ‘n vreemde en moontlik gevaarlike skepsel gebrandmerk word – alhoewel afkeur moontlik gou in jaloesie sal verander. Nadat jy jou vriende en familie vertel het dat jou kinders nie CAPS doen nie, sal die volgende vraag waarskynlik wees: “Maar KAN jy so maak?”

“Wel, natuurlik kan jy”, sal jy wil antwoord. Het jy nie so pas aan jou kinders verduidelik wat die verskil tussen kan en mag is nie?“Jy kan jou sussie se Barbie aan die boom ophang, maar jy mag nie”. Wat vriende en mede-tuisskolers jou dus eintlik vra, is of jy mag.

Dit is nou hier waar dinge gekompliseerd raak. Natuurlik – as jy nie geregistreer is nie, kan jy doen wat jy wil. Jy moet net bewus wees van hele klomp ander kwessies.

Programme, Benaderings en Kurrikulums

Om mee te begin, is daar terminologiese verwarring. Op verskillende plekke gebruik die DBO verskillende terme vir dit wat jou kind gaan leer. Op sommige plekke praat hulle van ‘n program en op ander plekke van ‘n kurrikulum.

Tuisskolers praat gewoonlik van kurrikulums en benaderings. “Kurrikulums” verwys na vaste kurrikulums, soos CAPS-ooreenstemmende kurrikulums, en nie-CAPS-ooreenstemmende kurrikulums, soos Cambridge, Sonlight, Footprints on our Land of enigeen van menige ander kurrikulums. “Benaderings” sluit onderwysbenaderings in wat nie vaste kurrikulums volg nie, soos Montessori, Charlotte Mason, Eklekties, Eenheidstudies en Selfgerigte/Natuurlike Leer of Unschooling. Sommige van hulle het moontlik ‘n kurrikulum as deel van hulle benadering, maar in die algemeen volg hulle dit nie streng na nie, en gebruik hulle dit eerder as ‘n hulpbron en nie as ‘n wyse waarop die leerproses georden word nie. Daar is nie altyd ‘n streng onderskeid tussen die benaderings nie, maar wat belangrik is, is dat daar verskillende benaderings in tuisonderwys gevolg word. Selfs tuisskolers wat CAPS-ooreenstemmende kurrikulums gebruik, volg nie altyd die streng stap-vir-stap-benadering voorgeskryf deur CAPS nie. Ook hulle gebruik soms hulle CAPS-ooreenstemmende kurrikulum op ‘n hoogs aanpasbare wyse. Dis duidelik dat dit moeilik is om die onderskeid te maak.

Die term “kurrikulum” wat die departement gebruik, sluit klaarblyklik “benaderings” uit, maar die term “program” is nie so beperkend nie. Diegene wat nie streng ‘n kurrikulum volg nie, sal moontlik sukkel om te registreer, en diegene wat ‘n kurrikulum volg, wat dit ook al is, solank dit bekend lyk vir die amptenaar, sal dit moontlik makliker vind om te registreer. Ons weet nie of die DBO se term “program” enige program insluit, en ook benaderings soos Unschooling insluit nie. Dit is die eerste van talle ope vrae.

Die vraag as jy al daardie mooi vorms op die DBO se webblad invul, en sê dat jy Selfgerigte Leer of Charlotte Mason of Sonlight doen, is of jou registrasie afgekeur sal word.

In die praktyk is die Pestalozzi Trust bewus van gevalle waar die onderwysdepartemente in sekere provinsies wel leerders registreer wat alternatiewe kurrikulums volg. Die Trust hou ‘n rekord hiervan, aangesien dit ‘n presedent skep. Die Trust is nie bewus van enigiemand wat ‘n Selfgerigte/Natuurlike Leer of Unschooling-benadering volg wat toegelaat is om te registreer nie. As jy dit reggekry het, sal die Trust graag van jou hoor, en ook van enigiemand wat geregistreer is en ‘n nie-CAPS-kurrikulum gebruik.

Vry maar nie vry nie

Onderwysamptenare het genoem dat daar ‘n vryheid van keuse is wat kurrikulum betref. Maar beteken dit dat jy vry is om enige kurrikulum te gebruik, of net om ‘n kurrikulum te kies wat CAPS-ooreenstemmend is? Of enige kurrikulum wat goedgekeur is deur die DBO?

Daar is baie kurrikulums en werkboeke wat CAPS-ooreenstemmend is, maar as mens een van hulle kies, beteken dit nie dat jy die vryheid uitoefen om ‘n kurrikulum of benadering te kies wat die beste vir jou kind is nie. Dit beteken slegs dat jy uit hierdie CAPS-ooreenstemmende kurrikulums kan kies.

Nog ‘n moontlikheid is dat jy toegelaat sal word om enige kurrikulum te kies, of dit CAPS-ooreenstemmend is of nie. Die probleem in daardie situasie is hoe jou kinders geassesseer gaan word. As hulle (hoofsaaklik) volgens CAPS geassesseer gaan word, gaan jy ‘n probleem hê.

Dit is soos die nagmerrie wat ‘n student so dikwels in ‘n eksamen kry. Jy gaan sit in die eksamenlokaal, en jy het geleer vir die eksamen, maar wanneer jy die vraestel oopmaak, besef jy dat jy vir die verkeerde eksamen geleer het.

As jou kind die assessering “druip”, kan daar ondersoek ingestel word na jou tuisonderwys en kan jou kind se registrasie vir tuisonderwys ingetrek word.[1]

Assessering: Begin met die einde in jou visier

Dit is dus belangrik om drie dinge te verstaan:

  1. Die standaarde waarteen jou kinders geassesseer sal word. Daaruit sal jy inligting kry oor wat hulle moet weet (die inhoud) en watter vaardighede hulle moet bemeester. Sommige CAPS, soos vir wiskunde, noem byvoorbeeld ook “konsepte” wat bemeester moet word.
  2. Hoeveel vakke jou kinders moet neem.
  3. Hoe hulle geassesseer sal word.

Volgens die Beleid op Tuisonderwys is die standaard waarteen jou kind jaarliks deur ‘n “kompetente assessor” geassesseer word, “a standard that is not inferior to that which is determined in the NCS”[2].

Die NCS (of NKS) is die Nasionale Kurrikulumstelling en bestaan uit drie stelle dokumente. Dit is die volgende:

A. Die Curriculum and Assessment Policy Statements (CAPS) vir elke goedgekeurde skoolvak. Dit verskaf die  inhoud wat gedek moet word en die vaardighede wat bemeester moet word. By die skakel hieronder vind jy die standaarde vir elkeen van die vakke waarop jou kind geassesseer sal word. Dit sit die inhoud, vaardighede en konsepte uiteen.

  • Grondslagfase

https://www.education.gov.za/Curriculum/CurriculumAssessmentPolicyStatements(CAPS)/CAPSFoundation.aspx

  • Intermediêre Fase

https://www.education.gov.za/Curriculum/CurriculumAssessmentPolicyStatements(CAPS)/CAPSIntermediate.aspx

  • Senior Fase

https://www.education.gov.za/Curriculum/CurriculumAssessmentPolicyStatements(CAPS)/CAPSSenior.aspx

Ons sluit nie die FET-fase in nie. As jou kinders ‘n Nasionale Senior Sertifikaat behaal, dws die Suid-Afrikaanse Matriek, sal hulle by ‘n kurrikulumverskaffer moet registreer wat geaffilieer is aan ‘n eksamenraad wat die Nasionale Senior Sertifikaat aanbied.

B. Die National policy pertaining to the programme and promotion requirements of the National Curriculum Statement Grades R – 12. Hierdie dokument sit die aantal vakke uiteen wat leerders in elke graad moet neem en die bevorderingsvereistes vir elkeen van daardie vakke. Tuisskolers kan hul eie vereistes vir bevordering stel, maar hierdie vereistes moet gelyk aan of strenger wees as die vereistes in die Beleid.[3] Dit is hier waar jy kan vasstel hoeveel vakke jy hoef te dek. Kortliks: In die grondslagfase (Graad R tot 3) moet jy 4 vakke doen, in die intermediêre fase (Graad 4 tot 6) 8 vakke, en in die senior fase (Graad 7 tot 9) 9 vakke. Vir ‘n opsomming hiervan, kyk op bladsy 14 van die DBO se Home Education Booklet.

C. Die beleidsdokument National Protocol for Assessment Grades R – 12 sit uiteen hoe assessering gedoen moet word. Die probleem met hierdie dokument is dat dit ontwerp is vir skoolgebaseerde assessering, en nie aangepas is vir tuisonderwys nie. Vir die rekord: Die Pestalozzi Trust het dit in ‘n voorlegging aan die DBO uitgewys.

Die DBO het ‘n boekie oor tuisonderwys uitgegee, wat verdere besonderhede gee oor hoe assessering gedoen moet word. Een punt van kommer is dat die ouer die volgende moet doen: “ensure validity and reliability in each and every assessment task or examination through necessary control measures including invigilation”.[4] Dit wil impliseer dat tuisskolers tuis op dieselfde wyse en volgens dieselfde kontroles  geassesseer moet word as die kontroles wat in skole gebruik word. Dit kan beteken dat toesighouers in jou huis teenwoordig moet wees, of dat jy jou kind na ‘n plek toe moet neem waar die toesighouding kan plaasvind. Dit kan ‘n probleem word wanneer jaareind-eksamens as ‘n vorm van assessering in die intermediêre fase begin. Dit is moontlik dat die “kompetente assessor” die rol sal vervul, maar die betrokke beleidsdokumente is nie aangepas om dit te weerspieel nie. Dus moet ‘n mens maar katvoet beweeg en bewus wees van die gevare in die situasie.

‘n “Kompetente assessor” sal jou kind aan die einde van elke jaar moet assesseer, en dan moet jy rekord hou van hierdie assessering. Aan die einde van elke fase moet hierdie verslag aan die provinsiale onderwysdepartement gestuur word.

Dit is nie duidelik hoe hierdie vereistes in die praktyk geïmplimenteer sal word wanneer ‘n “kompetente assessor” die assessering doen nie.

‘n Verdere probleem is dat die assesseringsproses ‘n “kontinue” proses is. Hoe dit in die praktyk gaan uitwerk, sal ons moet sien.

Teen die tyd wat die ouers al hierdie dokumente gelees het, en die DBO op al die navrae geantwoord het, sal die ouers se Graad R-leerder waarskynlik al in Matriek wees. Dit is baie tydrowend om aan al hierdie vereistes te voldoen.

Baie tuisskolers wat CAPS gebruik, gebruik dus kurrikulumverskaffers. Hierdie kurrikulumverskaffers sien toe dat al hierdie administratiewe vereistes nagekom word. Tuisskolers wat CAPS gebruik en ‘n kurrikulumverskaffer gebruik, word aangeraai om by hul verskaffer seker te maak dat die verskaffer wel aan hierdie vereistes voldoen.

‘n Tuisskolers wat geregistreer is en ‘n CAPS-ooreenstemmende leerplan volg, maar NIE deur ‘n kurrikulumverskaffer werk nie, sal waarskynlik ook al hierdie vereistes moet nakom. Dit is egter ‘n ope vraag hoe streng ‘n individuele “kompetente assessor” leerders sal assesseer. Waarskynlik sal dit eers redelik of selfs baie toegeeflik geskied, en mettertyd strenger word. Ons het so ‘n neiging opgemerk met tuisskolers wat die Nasionale Senior Sertifikaat of SA Matriek doen. Oor die jare is die vereistes, wat nog altyd bestaan het, maar dikwels geïgnoreer is,  geleidelik strenger toegepas. Baie minder sentrums is toegelaat om eksamens aan te bied, en die vereistes vir jaarpunte en assessering in die meer praktiese vakke het strenger geword.

Selfs vir ‘n geregistreerde tuisskoler wat nie CAPS gebruik nie, is dit moontlik dat jou kind volgens die CAPS-standaarde geassesseer sal word, aangesien dit blykbaar is wat die Beleid op Tuisonderwys vereis.

In die lig van hierdie uitdagings is die vraag hoe jy ten beste jou en jou kind se regte kan beskerm.

Ons beantwoord hierdie vraag in die tweede deel van die artikel. Om jou ‘n voorsmakie te gee: die sleutel is om seker te maak dat jy wanneer jy registreer jy eenstemmigheid sal bereik met die onderwysdepartement oor hoe jou kind geassesseer gaan word. Dit hang af van die kurrikulum wat jy gebruik. In Deel 2 gaan ons eerstens kyk na hoe om met jou gekose kurrikulum of benadering te registreer, en tweedens verduidelik hoe om jou en jou kinders se regte reg aan die begin van die proses te beskerm.

[Belangrik: Alle regsinligting in hierdie artikel is bedoel slegs vir algemene inligtingsdoeleindes. Dit is nie ‘n plaasvervanger vir regsadvies van ‘n prokureur wat gelisensieer is om in jou jurisdiksie te praktiseer nie, en wat kennis dra van jou spesifieke regskwessie nie, en jy behoort nie staat te maak op sulke regsinligting nie. Lede van die Pestalozzi Trust word aangeraai om die Trust te kontak, wat julle sal bystaan, en julle, waar nodig en waar van toepassing, in aanraking sal bring met ‘n geregistreerde lid van die regsprofessie. Hou in gedagte dat die koste van Trustlede deur die Trust gedek word.]


[1] Clause 18(6)(2) “A report from a competent assessor which shows that a learner has not met the minimum outcomes and standards at the end of the phase assessed by the competent assessor may provide grounds for a review of a learner’s registration for home education …” Policy on Home Education 2018.

[2] Clause 13(1)(a)(iii) Policy on Home Education 2018.

[3] Clause 18(7)(1) “A parent may set her or his own promotion and retention requirements provided these are equal to or exceed the standard or requirements set in the National Policy Pertaining to the Programme and Promotion Requirements of the National Curriculum Statement (NCS) Grades R – 12.” Policy on Home Education 2018.

[4] p17 Home Education Booklet. Laai ‘n kopie van die boekie hier af.

'N ANTWOORD LAAT

Please enter your comment!
Please enter your name here