Huis Nuus Moet ek CAPS doen? Deel 2

Moet ek CAPS doen? Deel 2

6922
1

(Deur Christopher Cordeiro, LearnFree: Gasskrywer)

Die vraag op alle nuwe tuisskolers se lippe, veral dié wat uit ‘n skoolomgewing kom, is: “Moet ek CAPS doen?” Noudat die Beleid op Tuisonderwys gepubliseer is en die voorgestelde BELA Bill op pad is om gepromulgeer te word, is dit ‘n vraag wat heelwat ervare tuisskolers ook vra. Die antwoord hierop behoort doodreguit en eenvoudig te wees, maar soos baie aspekte van die regulering van tuisonderwys is dit helaas nie eenvoudig nie.

Een probleem is dat dit soos een van daardie nare eksamenvrae is met ‘n deel a) en ‘n deel b). Deel a) is “Moet ek CAPS doen?” en deel b) is “Sal my kind volgens CAPS-standaarde geassesseer word?”In b) is die toets om geregistreer te bly, want as jou kind ‘n assessering “druip”, kan daar ‘n ondersoek geloods word, en kan jou registrasie ingetrek word.[1]

In die eerste deel van die artikel het ons ‘n amperse agterstevoor proses begin, en eers gekyk na hoe jou kinders geassesseer sal word as hulle geregistreer is, sonder om aandag te gee daaraan of ‘n provinsiale onderwysdepartement dit as ‘n registrasievereiste stel om CAPS te doen of nie.

Nou gaan ons dit omswaai, en by die begin begin (want volgens die“Sound of Music” is “the very beginning” ‘n baie goeie plek om te begin). Ons gaan kyk na hoe om in die eerste plek geregistreer te kom.  Ons sal dan kyk na hoe om jou kind se beste belange en reg op onderwys te beskerm.

Diegene wat probeer registreer, kan een van drie roetes volg: òf jy sal ‘n CAPS-ooreenstemmende kurrikulum gebruik, of jy sal ‘n alternatiewe kurrikulum of benadering volg, of jy sal eers “de-school”, en dan besluit watter kurrikulum of benadering om te kies.

As jy registreer, en ‘n CAPS-ooreenstemmende kurrikulum gebruik, behoort registrasie nie te veel van ‘n probleem te wees nie, ten minste nie wat die keuse van ‘n kurrikulum betref nie. In hierdie scenario sal jy òf die dienste van ‘n kurrikulumverskaffer gebruik, òf ‘n selfdoen-benadering volg.

Registrasie met ‘n CAPS-ooreenstemmende kurrikulum

Registrasie met ‘n CAPS-ooreenstemmende kurrikulum: die kurrikulumverskafferroete

Aangesien dit onwaarskynlik is dat jy enige navrae oor jou keuse van kurrikulum sal kry, hoef jy net op die assessering te fokus.

In die algemeen behoort jy seker te maak dat jou kurrikulumverskaffer ‘n CAPS-ooreenstemmende kurrikulum aanbied, en dat jou verskaffer bewus is van die jongste vereistes, indien daar enige veranderinge was ten opsigte van die wyse waarop assessering gedoen moet word.

Indien jy ‘n kurrikulumverskaffer gebruik en om die een of ander rede nie in staat gaan wees om aan die assesseringsvereistes te voldoen nie, moet jy dit met die kurrikulumverskaffer bespreek, en hul ondersteuning verkry wanneer jy by die DBO registreer. Maak ook seker dat alle spesiale reëlings op skrif gestel word, en hou ‘n kopie daarvan. As jy van kurrikulumverskaffer verander, moet jy seker maak dat jy ‘n rekord van alle konsessies het waarop daar ooreengekom is.

Dit kan ook wees dat jy besware het teen sekere dele van die kurrikulum (tipies teen sekere dele van Lewensoriëntering). In hierdie geval moet jy jou kurrikulumverskaffer op skrif in kennis stel dat jou kind nie enige werkopdragte of assesserings oor daardie dele sal doen nie.

Jou kurrikulumverskaffer sal moontlik hulle interne stelsels moet volg, en jou nie die buigsaamheid kan bied wat jy verlang nie. In daardie geval moet jy eerder van verskaffer verander as om te kompromitteer.

Registrasie met ‘n nie-CAPS-ooreenstemmende kurrikulum: die doen-dit-self-roete

Die kurrikulum en die verskillende werkboeke kan gratis van die DBO-webblad afgelaai word. Dit is dus moontlik om nie ‘n kurrikulumverskaffer te gebruik nie, maar nog steeds CAPS-ooreenstemmend te wees. Ons is selfs bewus van ‘n paar gevalle waar provinsiale amptenare gesorg het dat die departement se vakspesialiste tuisskolers bystaan. Dit is egter van kardinale belang om seker te maak dat jy weet hoe jou kind geassesseer gaan word, en om eenstemmigheid te hê oor hoe dit sal plaasvind.

As jy met ‘n CAPS-ooreenstemmende kurrikulum registreer, en nie ‘n kurrikulumverskaffer gebruik nie, gaan jy waarskynlik nie baie haakplekke teëkom nie, maar dit gaan ‘n probleem wees wanneer die assessering aan die einde van die jaar en van die fase gedoen moet word.

Jy sal ‘n “kompetente assessor” gebruik, alhoewel dit kan gebeur dat sommige kurrikulumverskaffers ook hierdie jaareinddiens verskaf. Die ouer neem die direkte verantwoordelikheid om aan die assesseringsvereistes te voldoen. Ouers wat ‘n kurrikulumverskaffer gebruik, kry terugvoer deur die loop van die jaar. As die wyse waarop hulle assesseer dus nie die DBO se goedkeuring wegdra nie, sal dit waarskynlik vroeg geïdentifiseer word. Waar daar nie deurlopende terugvoer is nie, kan die gesin ‘n skok kry aan die einde van die jaar as die kompetente assessor meen dat hulle nie aan die vereistes voldoen het nie. Dit kan tot ‘n baie lelike situasie lei, waar ‘n kind die vereiste vaardigheide bemeester het, maar waar die assessor aanbeveel dat die kind die graad herhaal omdat die kind nie al die vereiste “werk” voltooi het nie.

Hopelik sal toegeeflikheid en gesonde verstand seëvier. Waarskynlik sal die assesseringsvereistes aanvanklik nie streng toegepas word nie, alhoewel dit strenger toegepas kan word namate die onderwysdepartemente meer beheer oor die proses verkry.

‘n Ander moontlikheid is dat ‘n kind met ‘n nie-CAPS-ooreenstemmende kurrikulum geregistreer word.

Registrasie met ‘n nie-CAPS-ooreenstemmende kurrikulum

Diegene wat nie-CAPS-ooreenstemmende kurrikulums gebruik, kan voor twee struikelblokke te staan kom. Die eerste een is om jou kind geregistreer te kry met die kurrikulum wat jy gekies het, en die tweede is om aan die assesseringsvereistes te voldoen.

Die Trust is bewus van gevalle waar tuisskolers wat alternatiewe kurrikulums gebruik by provinsiale onderwysdepartemente vir tuisonderwys geregistreeer is. Ons het ook al lede wat ‘n alternatiewe kurrikulum gebruik, bygestaan met registrasie.

‘n Probleem is dat die onderwysprogram wat jou kind volg volgens die Beleid op Tuisonderwys die volgende moet dek: “the acquisition of content and skills at least comparable to the relevant national curriculum outcomes as determined by the Minister …”.[2]

Die uitkomstes is vervat in die National Curriculum Statement (kyk die bespreking daarvan in die eerste artikel). Die inhoud, konsepte en vaardighede wat vereis word, word in die CAPS-dokumente vir elke vak gelys.

‘n Onderwysamptenaar sal moet bepaal of jou gekose kurrikulum dieselfde inhoud, konsepte en vaardighede as die CAPS-kurrikulum dek. Daarbenewens sal jy dieselfde vakke moet dek as wat in CAPS gedoen word.

Die assesseringsbeleid van die DBO sit uiteen hoeveel vakke jou kind moet neem en wat daardie vakke moet wees. Jou kind moet vir ‘n sekere aantal vakke per fase geregistreer wees. Hierdie vakke is dieselfde vakke as dié wat normaalweg op skool gedoen word. Kyk op bladsy 14 van die DBE Booklet vir die lys. Daar is geen keusevakke nie, behalwe die keuse van die tweede taal, van Graad R tot Graad 9. Soos vermeld in die eerste deel van hierdie artikel, verwelkom die DBO dit dat jou kind ekstra vakke neem, maar die kind moet minstens die vereiste vakke neem. As ‘n kind al die vereiste CAPS-vakke doen, is dit onwaarskynlik dat die gemiddelde kind tyd sal hê om enige verdere vakke te doen wat hom interesseer. Dit bots met ‘n sleutelaspek van baie tuisskoolprogramme, naamlik dat die kind se belangstellings gevolg word. Daar is in hierdie opsie geen werklike keuse nie, en dit is sinloos om “toegelaat” te word om ekstra vakke te neem. Daarbenewens kan ‘n kind se liefde vir leer ‘n knou kry as die kind gedwing word om vakke te bemeester waarin die kind nie geïnteresseerd is nie.

Dit is onwaarskynlik, minstens aan die begin, dat onderwysamptenare die tyd sal afstaan om te bepaal of jou kurrikulum dieselfde uitkomstes as CAPS bereik. Mens kan jou kwalik voorstel dat amptenare deur bladsy op bladsy van verskillende kurrikulumgidse sal werk om die relevante uitkomstes vas te stel. Hulle sal meer waarskynlik so tevrede wees dat jy wel geregistreer het dat hulle ‘n toegeeflike houding sal hê.

Hulle sal waarskynlik kyk hoeveel vakke jou kind neem, aangesien dit maklik is om na te gaan, en as jou kind nie die vereiste CAPS-vakke neem nie, kan dit probleme skep.

‘n Pluspunt is dat na vele gesprekke en bevraagtekening van die grondwetlikheid daarvan om die nasionale kurrikulum af te dwing, die DBO die voorgestelde BELA Bill verander het sodat dit lees dat die verkose program slegs “predominantly [should] cover the content and skills of the national curriculum”.[3] Dit is ‘n aanmerklike toegewing, alhoewel dit nie ver genoeg gaan nie, en nie algehele vryheid van kurrikulumkeuse waarborg nie. Die BELA Bill is nog nie wet nie, en hierdie bepaling is nog nie van krag nie. Maar omdat die DBO dit toegegee het, is dit onwaarskynlik dat amptenare die strenger voorskrifte van die Beleid sal afdwing. Verder kan amptenare natuurlik hulle diskresie gebruik en die meer toegeeflike bepalings van die BELA Bill volg, al is dit nog nie wet nie, aangesien die Beleid slegs beleid en nie wet is nie.

‘n Kind wat ‘n nie-CAPS-ooreenstemmende kurrikulum volg, sal geassesseer word volgens die standaarde van die National Curriculum Statement. Dit is belangrik om deel 1 van hierdie artikel weer te lees wat die drie aspekte van assessering uiteensit, naamlik: Wat sal geassesseer word? Hoeveel vakke moet geneem word? En hoe sal die assessering gedoen word?

Assessering kan ‘n probleem skep, want hierdie kinders sal nie noodwendig die vaardighede, konsepte en inhoud  bemeester het wat CAPS vereis nie. Hierdie leerders kan die inhoud en vaardighede moontlik op ‘n ander tydstip en in ‘n ander volgorde bemeester. Hulle kan moontlik ook van sekere areas geen kennis dra nie, maar weer diepgaande kennis oor ander areas hê.

Die benadering en houding van die “kompetente assessor” sal van kernbelang wees.

Om nie ‘n CAPS-ooreenstemmende kurrikulum te gebruik, skep ernstige uitdagings, maar dit wat in jou tuisonderwysprogram gebeur, is nie primêr afhanklik van jou kurrikulum nie.

Maar ek gebruik nie ‘n kurrikulum nie

As jou tuisonderwysprogram ‘n alternatiewe benadering volg, soos Eklekties, Charlotte Mason of Selfgerigte Leer, en jy geen kurrikulum gebruik nie, of verskillende kurrikulums eerder as hulpbronne gebruik, in plaas van as ‘n manier om die leerwerk te orden , kan jy sukkel om jou kind geregistreer te kry. Dit gaan waarskynlik ‘n bietjie meer interaksie met die onderwysdepartement verg.

Die belangrikste ding om te onthou, is dat jy twee aspekte het om aan te spreek, naamlik a) om eenstemmigheid te bereik dat jou program aanvaarbaar is (wat neerkom op vrystelling van die vereiste om die inhouds-, vaardigheids- en konseptuele vereistes van CAPS na te kom) en b) wanneer assessering plaasvind, ‘n vrystelling van die vereistes van die National Curriculum Statement.

Ons is nie bewus van enigiemand wat die Selfgerigte Leer of Unschooling-benadering volg, en wat gepoog het om te registreer, en daarin geslaag het nie. As jy dit wel reggekry het, of weet van iemand wat het, sal ons graag van jou wil hoor.

In die praktyk

Teen die agtergrond van hierdie probleme is ons nou gereed om die meer praktiese sy van die vraag aan te pak, naamlik hoe om jou en jou kind se regte te beskerm.

Die beste tyd om dit te doen, is die oomblik wanneer jy registreer. Dit klink baie vreesaanjaend, maar hou in gedagte dat die registrasievereistes net beleid is en nie wet nie. Dit moet nie eng toegepas word nie; hierdie vereistes behoort onderhandelbaar te wees.

Beskerm jou kind se beste belange

‘n Belangrike beginsel is om nie dit wat vir jou kind werk te verander, net sodat jy deur irrasionele hoepeltjies kan spring wat die lewe vir amptenare vergemaklik nie. Amptenare behoort hul vereistes aan te pas by dit wat werk. ‘n Sleutelkonsep om in gedagte te hou, is dat jy moet seker maak dat die beste belange van jou kind gedien word. As jy hierop begin toegee in die hoop om daardeur hul guns te wen, verminder jy die kans dat amptenare jou saak met ‘n oop gemoed sal oorweeg. Tesame met die beginsel om nie jou kind se beste belange in gevaar te stel nie, sal jy iemand nodig hê om jou te ondersteun. Die Pestalozzi Trust kan jou bystaan; kontak die Trust voor jy registreer, sodat jy die nodige ondersteuning kan kry.

Vul jou vorms volledig in

Jy kan jou kind se beste belange beskerm deur jou registrasievorm volledig in te vul en presies te beskryf watter kurrikulum of benadering jy volg. Dit is beter om dit openhartig mee te deel, en daar en dan die haakplekke uit te sorteer, as om op ‘n later stadium misverstande met die onderwysdepartemente te moet opklaar. Indien enige valse inligting op jou vorm ingevul word, moet die onderwysdepartement jou kind se registrasie terugtrek. [4]

Maak seker van al die vereistes

Een van die voorwaardes wat die DBO stel, is dat tuisskolers tuisonderwys moet verstaan, en ten volle die verantwoordelikheid moet aanvaar vir die implementering van tuisonderwys. [5]

Wanneer jy jou registrasievorm indien, sal daar van jou verwag word om die volgende verklaring te onderteken:

I (name of parent/guardian) hereby declare that I have read section 3(1) and 51 of the South African Schools Act, 1996 together with the Policy on Home Education. I further declare that I understand and accept the responsibility to provide, monitor and assess the home education of my child and that I have supplied full and correct information.”

Moet dit nie onderteken alvorens jy doodseker is dat jy al die aspekte van jou verantwoordelikhede verstaan nie.

Opsomming

Tuisskolers wat by die provinsiale onderwysdepartemente probeer registreer, kan hulself in een van die volgende posisies bevind:

1. Volg ‘n CAPS-ooreenstemmende kurrrikulum van ‘n kurrikulumverskaffer. In hierdie geval moet jy seker maak dat jou kurrikulumverskaffer op datum is met al die jongste vereistes en veranderinge. Hou ook in gedagte dat assesseringsvereistes mettertyd strenger kan word. Die Trust is bewus van ‘n sekere verskaffer wat kla dat ouers hul kinders se werk te toegeeflik merk en dat ouer-geassesseerde punte verskil van die verskaffer-geassesseerde punte. As so ‘n houding mettertyd ‘n tendens word, kan dit gebeur dat die DBO ouers nie toelaat om hul eie kinders te assesseer nie

2. Volg ‘n CAPS-ooreenstemmende kurrrikulum volgens ‘n doen-dit-self-benadering. In hierdie geval moet jy seker maak dat jy bewus is van al die assesseringsvereistes. As jy hiervan wil afwyk, moet jy dit met die onderwysdepartement bespreek en seker maak dat jy van alle konsessies ‘n rekord op skrif het.

3. Volg ‘n nie-CAPS-ooreenstemmende kurrrikulum. In hierdie geval moet jy sorg dat jou kurrikulum aanvaar word en dat daar eenstemmigheid is oor hoe jou kind geassesseer gaan word.

4. Gebruik nie ‘n kurrikulum nie. As jy nie ‘n kurrikulum gebruik nie, is die uitdagings dieselfde as wanneer jy ‘n nie-CAPS-ooreenstemmende kurrrikulumgebruik. Jy sal egter waarskynlik meer probleme optel as ‘n gesin wat wel ‘n kurrikulum gebruik.

Die CAPS-uitkomstes kan ook ‘n (stadig verskuiwende) bewegende teiken wees, en daarom is dit baie belangrik om tred te hou met alle veranderinge. Byvoorbeeld: Tans is daar sprake van ‘n derde taal wat ingesluit moet word. Kurrikulumverskaffers moet jou op hoogte hou van die veranderinge, maar as jy ander benaderings gebruik, sal jy self op hoogte moet bly van die veranderinge.

As jou kind die assessering “druip”, kan jy op enige stadium appelleer. Trust-lede moet die Trust onmiddellik kontak as dit gebeur, sodat hulle alle moontlike ondersteuning kan ontvang wat hulle verlang.

Om hierdie situasie te vermy, is dit gebiedend noodsaaklik om wanneer jy jou registrasievorm indien eenstemmigheid met die onderwysamptenare te bereik oor hoe jou kind geassesseer gaan word. 

Die hoofsaak met assessering is om seker te maak dat die departement saamstem met jou metode van assessering, dat daardie ooreenkoms op skrif gestel word en dat jy ondersteuning het wanneer jy probleme optel.

Ken jou regte as ‘n burger. As jy enigsins besorg is daaroor dat jou kinders se regte moontlik geskend word wanneer jy registreer, beveel ons ten sterkste aan dat jy jou prokureur kontak. As jy ‘n lid van die Trust is, kontak die Trust. As jy nie ‘n lid van die Trust is nie, stel ons voor dat, indien jy nie jou eie prokureur wil gebruik nie, jy by die Trust aansluit vóór jy in ‘n konfliksituasie met ‘n amptenaar, die POD of die DBO beland.

[Belangrik: Alle regsinligting in hierdie artikel is bedoel slegs vir algemene inligtingsdoeleindes. Dit is nie ‘n plaasvervanger vir regsadvies van ‘n prokureur wat gelisensieer is om in jou jurisdiksie te praktiseer nie, en wat kennis dra van jou spesifieke regskwessie nie, en jy behoort nie staat te maak op sulke regsinligting nie. Lede van die Pestalozzi Trust word aangeraai om die Trust te kontak, wat julle sal bystaan, en julle, waar nodig en waar van toepassing, in aanraking sal bring met ‘n geregistreerde lid van die regsprofessie. Hou in gedagte dat die koste van Trustlede deur die Trust gedek word.]


[1] Clause 18(6)(2) “A report from a competent assessor which shows that a learner has not met the minimum outcomes and standards at the end of the phase assessed by the competent assessor may provide grounds for a review of a learner’s registration for home education …” Policy on Home Education 2018.

[2] Clause 13(1)(b)(ii) Policy on Home Education 2018.

[3] Clause 35 s51(2)(b)(iii) “…the proposed home education programme is suitable for the learner’s age, grade level and ability and predominantly covers the acquisition of content and skills at least comparable to the relevant national curriculum determined by the Minister …” Basic Education Laws Amendment Bill (BELA Bill) 2017.

[4] Clause 24(2) “The HOD must withdraw a learner’s registration for home education if, after enquiry, the HOD is satisfied that: (a)  information contained in the application for registration has been misrepresented …” Policy on Home Education 2018.

[5] Clause 13 (1)(a) “… the parent understands home education, accepts full responsibility for the implementation of home education for her or his child; …” Policy on Home Education 2018

1 kommentaar

'N ANTWOORD LAAT

Please enter your comment!
Please enter your name here