Huis V&A: Tuisonderwys V&A: Mikroskole en Sentrums

V&A: Mikroskole en Sentrums

Skole of Sentrums of “Cottage Schools”

Wat is die verskil tussen ‘n leersentrum en ‘n mikroskool?

In die oë van die wet is daar geen verskil tussen ‘n leersentrum en ‘n mikroskool nie. Albei moet as onafhanklike skool geregistreer wees om wettig te kan wees. Kyk die artikels op die webblad oor hoe om ’n mikroskool te begin en oor die wetlike aspekte van mikroskole.

In die volksmond word ‘n leersentrum beskou as ’n instelling wat leerders soms op tye wat hulle pas, of soms voltyds kan bywoon. ’n Mikroskool word beskou as ’n klein skooltjie, soms by iemand se huis. Albei instellings kan van tuisonderwys-leermateriaal gebruik maak, en gevolglik word hulle dikwels “tuisskole” genoem, wat hulle nie is nie. Daar bestaan nie iets soos ‘n “tuisskool” in die Suid-Afrikaanse reg nie. Tuisonderwys word omskryf in die wet as onderwys by die kind se eie huis.

Ek het ‘n mikroskool/leersentrum. Watter vorm moet ek gebruik?

Gebruik die aansoekvorm vir skole (opvoedkundige instellings), wat u hier kan vind. Voltooi ook die Lys van Leerders en stuur dit vir ons in. Ons het dit nodig om u te faktureer. U kan u bewys van betaling instuur of die Onderneming om te betaal voltooi en instuur, nadat ons u gefaktureer het. Skole moet ook ‘n foto van die binnekant en ‘n foto van die buitekant van die skool indien as deel van hulle aansoek.

Hoeveel is die ledefooi vir skole? Moet elke leerder se gesin aansluit?

Skole betaal ’n ledefooi volgens die aantal leerders in die skool. Aangesien die leerders nie tuisonderwys ontvang nie, kan die gesinne nie privaat as gesinne aansluit nie. Lidmaatskap van die skool dek die skool, die personeel, die leerders en hul ouers.

Die ledefooi is R400 per leerder per jaar.

Moet al die leerders in my skool/sentrum op die Lys van Leerders verskyn?

Ja, alle leerders van GrR tot Gr12 moet daarop verskyn. Die Trust hanteer nie probleme van die sentrum wat spruit uit leerders wat nie op die Lys is nie. As dit blyk dat alle leerders nie op die Lys verskyn nie, word die lidmaatskap van die instelling by die Trust gekanselleer.

Wanneer betaal ek die Trust?

Nadat ons u getekende en voltooide aansoekvorm ontvang het, die Lys van Leerders, asook die foto’s van die binne- en buitekant van die instelling, sal ons u faktureer. U kan dan die bewys van betaling, of u onderneming om te betaal, aan ons stuur. Dit sal u aansoek finaliseer. U sal formele erkenning ontvang dat u aansoek aanvaar is, asook ‘n ledepakket en ‘n noodnommer.

Wat is die ledetydperk vir skole-lidmaatskap?

Lidmaatskap strek van 1 Maart van tot 1 Maart.

Kan ek by die Trust aansluit as ek moeilikheid kry met die onderwysdepartement, die welsyn, die polisie of die bure?

Nee, u aansoek sal nie oorweeg word as u aansoek doen nadat u reeds in die moeilikheid beland het nie. U moet reeds lid wees van die Trust teen die tyd wat u moeilikheid kry, sodat ons u kan ondersteun in die konflik.

Kan die Trust my help in geskille met ’n kurrikulumverskaffer of met moeilike ouers?

 Nee, die Trust tree slegs op in geskille tussen die skool en die owerhede.

Moet ek my leerders as tuisleerders by die Provinsiale Onderwysdepartement registreer?

Nee, u leerders doen nie tuisonderwys nie. Hulle aansoeke sal afgekeur word deur die onderwysdepartement. Dit skep onnodig probleme vir u en vir die ouers, en ouers sal hulle kinders weer moet terugsit in die skool. Ten spyte van die advies van sommige kurrikulumverskaffers, is dit dwaas om u leerders as tuisleerders te probeer registreer.

NOG VRAE? Kontak ons!