Huis Wie is ons?

Wie is ons?

Wat is die Pestalozzi Trust?

Die Pestalozzi Trust is ‘n geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat in 1998 deur ‘n groep Christene gestig is om bekostigbare regsverdediging en -advies te verskaf om die regte en vryhede van alle lidgesinne te beskerm sodat hulle hul kinders tuis volgens hul eie godsdienstige en/of filosofiese oortuigings, opvoedkundige oortuigings en kulturele tradisies kan opvoed.

Tien jaar later het dit duidelik geword dat die behoefte aan beskerming van die reg op onderwys net so groot is onder die kinders, ouers en onderwysers in skole, en veral mikroskole. Derhalwe het die Trust die besluit geneem om ook mikroskole as lede van die regsfonds in te skryf.

Ons Doel

Ons doel is om die universele en grondwetlike erkende fundamentele regte te beskerm van ouers en gesinne om die onderwys van hul kinders te rig en te lei.

In die Pestalozzi Trust span ‘n groot aantal Suid-Afrikaanse tuisskolers en mikroskole saam om mekaar se vryheid op ‘n bekostigbare wyse te beskerm om tuis- en private onderwys te kan verskaf. Dit bemagtig hulle om met gemoedsrus en vertroue, sonder onregmatige inmenging, op die onderwys te kan fokus. Terselfdertyd verseker hulle dat hierdie vryheid ook vir hul kleinkinders bewaar sal bly.

Ons Taak

  • Voorkoming van konflik

Ons voorkom konflik tussen die owerheid en lede deur inligting oor die regte rakende onderwys te versprei en deur beter beleid vir tuis- en private onderwys te beding.

  • Konflikhantering

Ons los konfliksituasies op deur lidgesinne en -skole by te staan wanneer hulle in konflik met die owerheid kom. Ons probeer om die konflik op te los voordat die kwessie tot ‘n hofsaak eskaleer.

  • Verdediging

As ‘n saak wel tot die hof eskaleer, dra ons die koste van ‘n kundige regspan en die nodige deskundige getuies.

Wie besit die Pestalozzi Trust?

Die Pestalozzi Trust is ‘n openbare weldaadsorganisasie wat deur ‘n Raad van Trustees bestuur word. Fondse word verkry uit die ledefooi wat lede jaarliks betaal en in klein mate uit vrywillige donasies.

Fondse mag slegs gebruik word om die vryheid van onderwys te beskerm.

Die finansiële state van die Trust word jaarliks deur ‘n onafhanklike ouditeursfirma geoudit.

LET WEL: Die Trust verteenwoordig sy lede SLEGS in konflikte met owerheidsorgane. Dit beteken dat die Trust sy lede NIE kan verteenwoordig in gevalle van konflik

  1. tussen ouers rakende toesig oor die kinders en hul onderwys nie;
  2. tussen ouers of leerders en die mikroskole wat hulle gebruik nie;
  3. met kurrikulumverskaffers nie; en/of
  4. wat hul oorsprong het in gebeurtenisse voor die aanvang van die lidmaatskap nie.

Hoe werk die Trust?

Navorsing

Betroubare, navorsingsgebaseerde inligting oor tuis- en kleinskoolonderwys is noodsaaklik om die vryheid van onderwys in die gemeenskap en in die howe te kan verdedig.

Heelwat navorsing oor tuisonderwys is alreeds in ander lande gedoen, maar dit moet deur plaaslike navorsing ondersteun word om te bevestig dat hierdie bevindings ook in Suid-Afrika van toepassing is.

Daarom ondersteun en bevorder die Trust akademiese en ander navorsing volgens sy vermoë. Sedert die ontstaan van die Trust het verskeie navorsers wat deur die Trust ondersteun is reeds tesisse en verhandelings op Meesters- en Doktorale vlak voltooi.

Konflikhantering

Die Trust se noodnommer is 24 uur van die dag, 7 dae per week, beskikbaar vir lede met dringende probleme. (Die kantoornommers is beskikbaar vir algemene navrae van lede en vir die publiek.)

Lede maak van hierdie diens gebruik wanneer die SAPD, maatskaplike werkers of onderwysamptenare onaangekondig opdaag en toegang tot die gesin se huis of die skoolperseel eis.

In alle gevalle tot dusver kon die Trust die lede help om die konflik te ontlont sonder dat die saak tot die hof geëskaleer het.

Dit is noodsaaklik dat lede die Trust onmiddellik kontak wanneer die konflik ontstaan.

Uitbou van invloed

Onbekend maak onbemind. Daarom versprei die Trust sedert sy ontstaan betroubare inligting oor alle aspekte van tuis- en kleinskoolonderwys.

By die owerheid. Die Trust lewer geskrewe en mondelinge voorleggings, eedverklarings en getuienis voor die parlement, regeringskommissies, howe en amptenare.

In die Media. By wyse van mediaverklarings en onderhoude lewer die Trust insette in koerantberigte, tydskrifartikels, radio-uitsendings en TV-programme oor tuis- en kleinskoolonderwys.

By die Publiek. By wyse van e-pos versprei die Trust kundige inligting in reaksie op navrae deur die publiek.

Internasionaal. Die Trust dien op die Raad van die Global Home Education Exchange, ‘n internasionale nieregeringsorganisasie, waarvan die missie is om die globale tuisonderwysgemeenskap te bevorder, te skakel en toe te rus.  

Werkswinkels. Die Trust bied landswyd werkswinkels oor tuis- en kleinskoolonderwys en die regsaspekte daarvan aan, en verskaf sprekers vir konferensies en ekspo’s.

Internet. Die Trust se webblad www.pestalozzi.org en die Facebook-blad van die Trust belig verskillende aspekte van tuis- en kleinskoolonderwys in Suid-Afrika. Die gespreksgroep [tuisonderwys] op die internet is toeganklik vir enigeen en bied ‘n forum vir inligting, bespreking en ondersteuning van beide nuwe en ervare tuisskolers. Om aan te teken: Stuur ‘n e-pos aan tuisonderwys+subscribe@groups.io, en antwoord op die stelsel-epos wat jy sal ontvang.

Telefonies. Die Trust hanteer ook baie telefoniese navrae van lede van die Trust en van die publiek.

Bemagtiging van lede

Die SA Grondwet, die Kinderwet en die gemene reg vereis van ouers om die beste belange van hul kinders teen onregmatige inmenging te beskerm, insluitende onregmatige inmenging deur owerheidsinstellings en amptenare.

Ervaring het egter getoon dat ouers die regte en vryhede van hul kinders slegs kan beskerm as hulle weet wat daardie regte en vryhede is en wanneer dit bedreig word.

Daarom voorsien die Trust sy lede van inligting aangaande tuis- en kleinskoolonderwys, die regsaspekte daarvan en die ouers se pligte, regte en vryhede.

Die Trust adviseer ook sy lede oor paslike optredes in situasies waar die onderwys deur owerheidshandelinge bedreig word.

Ons Trustees

Mnr. Bouwe van der Eems (Voorsitter en Tesourier) het ‘n M.Sc (Ingenieurswese) en bedryf www.tuisskolers.org. Hy het al sy kinders getuisskool, en is reeds 15 jaar lank betrokke in die Pestalozzi Trust.

Mev. Karin van Oostrum (Uitvoerende Bestuurder) doen reeds meer as 25 jaar tuisonderwys vir haar eie kinders, en bedryf die Pestalozzi Trust sedert die stigting daarvan saam met haar man, wyle Leendert van Oostrum. Sy adviseer baie tuisskolers.

Mnr. Henri Slabbert, ’n afgetrede onderwyser wat gespesialiseer het in onderwysbestuur, is ‘n ervare tuisskoler en tuisskoolleier.

Mnr. Shaun Green is aktief in argitektuur, en in die Vereniging vir Tuisonderwys, en sy kinders ontvang van kleins af tuisonderwys.

Adv. Andre Williams het sy eie kinders getuisskool, en het al aan onderhandelinge met die owerheid oor tuisonderwysbeleid deelgeneem.

Wie was Johann Heinrich Pestalozzi?

Johann Heinrich Pestalozzi (12 Januarie 1746 – 17 Februarie 1827) was ‘n Switserse pedagoog en onderwyshervormer. Hy het klem daarop gelê dat elke aspek van die kind se lewe ‘n rol speel in karaktervorming. Sy onderwysmetodes was kind-gesentreer, en is gebaseer op indiwiduele verskille, sintuiglike waarneming en die kind se alledaagse eie aktiwiteite. Sy slagspreuk was: “Leer met die kop, die hand en die hart.”

Meer inligting oor Pestalozzi. Omvattende aanlyn-inligting oor Johann Heinrich Pestalozzi is beskikbaar by hierdie skakel: https://www.jhpestalozzi.org/. Lees ook oor die werk van PestalozziWorld by www.pestalozziworld.com.