Huis Nuus Pestalozzi Trust Vergader met Minister

Pestalozzi Trust Vergader met Minister

4102
0

Op 27 Januarie 2020 het die Pestalozzi Trust ‘n vergadering met die Minister van Basiese Onderwys, Mev Angie Motshekga, bygewoon. Die Pestalozzi Trust is een van die belanghebbendes wat deur die Minister uitgenooi is om die jongste 2019-konsepweergawe van die Wysigingswetsontwerp op Onderwyswette of die Basic Education Laws Amendment Bill (BELA Bill) te bespreek.

Ons was verheug dat die Minister ‘n uur aan tuisonderwys afgestaan het en na die insette van die Trust en die kommentaar van haar senior regsamptenare oor ons voorlegging kon luister. Die vergadering het in ‘n positiewe en konstruktiewe gees geskied. Die Departement van Basiese Onderwys (die DBO) het positiewe terugvoer gegee oor pertinente aspekte van ons voorlegging. In die lig van die terugvoer wat hulle verskaf het, is die Pestalozzi Trust versoek om bykomende kommentaar en alternatiewe formulerings te verskaf. Die Trust is baie dankbaar dat die DBO ingestem het om met die tuisonderwysbeweging te skakel. Ons sal ons terugvoer daarop fokus om bykomende oortuigende argumente te verskaf, en ons bes doen om te verseker dat die BELA Bill nie die vryheid van ouers inperk om die soort onderwys te kies wat in die beste belang van hul kinders is nie.
 
Die BELA Bill is oorspronklik in Oktober 2017 vir openbare kommentaar gepubliseer. Indien die wysigings wat in hierdie wetsontwerp voorgestel word, wet word, sal dit tuisonderwys omskep in bloot ‘n onbekostigbare vorm van staatsonderwys by die huis. Dit is dus geen wonder dat die tuisonderwysbeweging ‘n stortvloed van besware teen die BELA Bill geopper het nie.
 
Die Pestalozzi Trust het gereeld met die DBO gekommunikeer en gereeld versoek om met die taakspan te skakel wat die besware geëvalueer het, sodat moontlike misverstande uit die weg geruim kon word. Ongelukkig is ons nie so ‘n geleentheid gegun nie.
 
In November 2017 het die DBO ook ‘n Konsepbeleid op Tuisonderwys (die “Policy on Home Education” [PHE]) vir openbare kommentaar gepubliseer. Dit het weer eens ‘n vloedgolf van besware by die tuisonderwysbeweging uitgelok. Ons versoeke om met die taakspan te skakel, is geïgnoreer, en die Beleid op Tuisonderwys 2018 is in November 2018, sonder enige beduidende veranderinge aan die konsepbeleid, gepubliseer.
 
Indien so’n beleid afgedwing word, kan dit konflik tussen ouers en amptenare veroorsaak wanneer dit amptenare toelaat om onwettiglik in die tuisonderwys van ‘n gesin in te meng. Daarom het die Pestalozzi Trust besluit om die beleid met die hulp van ‘n top regspan te bevraagteken, en ‘n versoek om administratiewe hersiening van die beleid deur die Pretoriase Hoë Hof ingedien.
 
Meer as twee jaar lank het ons herhaalde versoeke en bykomende kommentaar oor die BELA Bill ongesiens en ongehoord verbygegaan. Toe ontvang die Pestalozzi Trust op 13 Desember 2019 die jongste hersiene weergawe van die BELA Bill, en word ons versoek om kommentaar te lewer en ‘n vergadering met die Minister van Basiese Onderwys op 27 Januarie 2020 by te woon. Die Pestalozzi Trust het besluit om hierdie geleentheid te gebruik om ‘n selfs meer gedetailleerde voorlegging te maak as voorheen. Lede van die bestuur van die Pestalozzi Trust en regsgeleerdes het deur die vakansie gewerk om ‘n voorlegging met die volgende inhoud saam te stel:
 

  • Redes waarom die regulering van tuisonderwys nie in die SA Skolewet ingesluit behoort te word nie. Aangesien tuisonderwys iets heeltemal anders as skoolonderwys is, maak dit nie sin om tuisonderwys te reguleer deur ‘n wet wat bedoel was om skole te reguleer nie. Baie probleme kan opgelos word as tuisonderwys deur ‘n afsonderlike wet op alternatiewe onderwys gereguleer kan word.
  • Klousule-vir-klousule-kommentaar, asook alternatiewe formulerings van al die artikels in die BELA Bill wat op tuisonderwys betrekking het. ‘n Totaal van 42 kommentare oor die tuisonderwysklousules is voorgelê.
  • ‘n Opinie van ‘n senior advokaat oor 3 kritieke geskilpunte in die BELA Bill.  Hierdie punte is: die vereiste om vir elke fase te registreer, tuisbesoeke en gevangenisstraf. As gevolg van tydsdruk kon die advokate wat saam met ons werk nie opinies oor ander kontroversiële aspekte verskaf nie, maar ons werk steeds saam om sleutelaspekte onder die aandag van die DBO te bring.

Tans word die BELA Bill nog steeds deur die DBO hersien. Wanneer dit gefinaliseer is, sal dit vir goedkeuring aan die kabinet gestuur word. Wanneer die kabinet dit goedgekeur het, sal dit in die parlement ter tafel gelê word. Wanneer die BELA Bill voor die parlement dien, sal daar die geleentheid wees vir openbare kommentaar. Daar sal moontlik ook die geleentheid wees om skriftelike kommentaar in te dien en openbare verhore by te woon. Ons hoop dat openbare verhore in die provinsies gehou sal word. Vir verdere inligting oor hoe om aan hierdie aktiwiteite deel te neem, kan u gerus die webblad www.liberty-in-learning.org besoek en by die “Liberty in Learning” Facebook-groep aansluit.
 
Wanneer albei huise van die parlement die BELA Bill goedgekeur het, word dit aan die president oorhandig om dit te onderteken. Op daardie stadium kan ons direk aan die president vertoë rig om nie die BELA Bill te onderteken nie. Eers wanneer die president dit onderteken het, sal dit wet wees. Hierdie proses kan tot tussen twee en vier jaar duur.
 
Maar selfs indien die huidige BELA Bill onveranderd, met die inperkende vereistes, wet word, sal die Pestalozzi Trust voortgaan om die vryheid van tuisskolers te beskerm deur alle pogings om onredelike vereistes deur die nuwe wetgewing af te dwing, te beveg.
 
Sonder die finansiële steun en gebede van ons lede sou ons niks kon vermag het nie. U ondersteuning het dit moontlik gemaak om die beleid te bevraagteken en om die regsopinies van ‘n senior advokaat te bekom en in te dien.  U ondersteuning en bemoediging is van onskatbare waarde. Baie dankie!

'N ANTWOORD LAAT

Please enter your comment!
Please enter your name here