Huis Nuus Registrasie – Wie het die laaste sê? Deel 1 & 2

Registrasie – Wie het die laaste sê? Deel 1 & 2

3880
0

deur Christopher Cordeiro (LearnFree)

Registrasie – Wie het die laaste sê? Deel 1

Registrasie is ‘n kwessie wat tot heelwat verwarring en debat onder tuisskolers lei. Hierdie gesprekke is dikwels veel lawaai maar weinig wol. In hierdie artikel gaan ons kyk na die geskiedenis agter die debatte, en die praktiese benaderings uitstip wat oor die jare gevolg is. Die artikel gaan verduidelik wat die verskillende posisies ten opsigte van registrasie is, maar sal nie ‘n finale antwoord probeer gee nie. Daardie besluit sal elke tuisskoler self onafhanklik neem, en uiteindelik sal dit deur die howe beslis word.

LearnFree het onlangs belowe om hierdie kontensieuse onderwerp te begin ontrafel, maar miskien is ontrafel nie die regte woord daarvoor nie. Dit is eintlik meer soos om ‘n bom te ontlont.

Hier gaan ons met ‘n bomvaste pak aan, met draadknippers in die hand, en met die hoop dat ons die regte kabel op die regte tyd sal knip. Maar ingeval dit nie gebeur nie, hou maar die ou bomontruimingsgrappie in gedagte: “As jy my sien weghol, probeer bybly!”

“Waaroor is die bohaai?”

Daar is ‘n aansienlike aantal tuisskolers, tussen drie of vier duisend en miskien selfs 5000, wat heel gemaklik is om te registreer, en wat met min of geen probleme by die provinsiale onderwysdepartement registreer. Vir hulle kan die angstige debatte oor registrasie opgesom word deur “Waaroor is die bohaai?”

Dit is nie dat hulle nie die kwessies verstaan waaroor dit gaan nie. Hulle het relatief maklik geregistreer. In sommige gevalle het amptenare ‘n ontspanne houding ingeslaan en ook tuisskolers geregistreer wat in ‘n aantal opsigte afgewyk het van die vereistes van die Beleid. In ander gevalle is registrasie heeltemal arbitrêr geweier, en het dit gesinne met die hande in die hare gelaat. Hulle is voor die voldonge feit gestel dat hul kinders moes terug skool toe. Hulle moes dus kies tussen veg of vlug, en die oorgrote meerderheid het gekies om onder die radar te vlieg, veral diegene wat amptenare sonder ondersteuning sou moes teenstaan, of wat nie die geld gehad het om hof toe te gaan om hul regte te beskerm nie.

Waar die amptenare ‘n toegeeflike houding inslaan, kan ons sê dat hierdie amptenare volgens wet optree. Hierdie amptenare doen wetend of onwetend dit wat hulle behoort te doen. Hulle dwing nie die beleid op ‘n eng, streng en dogmatiese wyse af nie. Let op die klemverskuiwing hier. Hulle volg die WET streng na, en nie die BELEID nie. Dit klink miskien vreemd, maar beleid is net beleid, en volgens die wet kan en moet ‘n beleid nie streng of onbuigsaam toegepas word nie. Deur hulle diskresie te gebruik, tree hulle dus wettig op as hulle die beleid buigsaam interpreteer. Dit is ‘n ope vraag of die amptenare dit doen omdat hulle die wet uitstekend verstaan en of hulle dit bloot met gesonde verstand benader of selfs omdat hulle nie kennis dra van die Beleid nie.

Die vraag wat in hierdie gevalle ontstaan, is wat sal gebeur as en wanneer die bepalings van die BELA Bill die wetlike vryheid wat amptenare besit aan bande gaan lê. Kortom: wat sal gebeur wanneer, nadat die BELA Bill wet geword het, sleutelaspekte van die Beleid, wat tans op ‘n buigsame wyse geïmplementeer word, dan op ‘n onbuigsame wyse toegepas moet word, omdat dit dan die krag van wet het? Dit is ‘n vraag wat ons eers sal kan beantwoord wanneer die BELA Bill binne die volgende twee of drie jaar as wet gepromulgeer word.

Op die oomblik blyk dit egter dat tussen 80% en 95% van tuisskolers weier om te registreer. Die vraag is waarom. Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons teruggaan in die geskiedenis van die stryd om tuisskoolregte in Suid-Afrika en kyk na die vraag van “registrasie teenoor inkennisstelling (“notification”).

In kennis stel, nie registreer nie

In die verlede het tuisonderwysverenigings die standpunt gehuldig dat “registrasie”, dws om toestemming te kry van die staat om te kan tuisskool, ‘n fundamentele skending van ouer- en kinderregte is. In 2014 het tuisonderwysverenigings, in ‘n poging om die Department halfpad te ontmoet, ingestem dat hulle gewillig sou wees om hul provinsiale onderwysdepartement “in kennis te stel” dat hulle hul kinders tuisskool, maar nie om te registreer nie.

In 2014/2015 tydens gesprekke met die DBO het al die tuisonderwysverenigings sonder uitsondering hierdie standpunt onderskryf. Dit is nie duidelik of enige van die verenigings intussen van hul standpunt wat hulle in 2014/2015 ingeneem het verander het, en moontlik nou ‘n ander standpunt inneem nie. Dit is ook nie duidelik of nuwe verenigings hierdie standpunt aanvaar of verwerp nie.

Die destydse standpunt, wat steeds algemeen deur tuisskolers gehuldig word, is dat dit die ouer is, wat die kind die beste ken, wat die besluit neem om te tuisskool, en nie ‘n amptenaar wat die kind nie ken nie. Hulle redeneer dat ‘n mens nie toestemming kan vra om ‘n plig van sorg uit te voer wat ingebore is en van nature by ‘n ouer of sorggewer hoort nie.

Hierdie argument is deels gebaseer op Artikel 28(1) van die Grondwet, wat só lui: “Elke kind het die reg ­… b. Op gesinsorg of ouerlike sorg …”. Sorg word nie in die Grondwet omskryf nie, maar die Kinderwet omskryf “sorg” soos volg: “sorg” of “versorging”, met betrekking tot ‘n kind, sluit in, waar van toepassing – …(e) leidinggewing, rigtinggewing en versekering van die kind se opleiding en opvoeding, insluitende godsdienstige en kulturele opleiding en opvoeding, op ‘n wyse wat paslik is by die kind se ouderdom, volwassenheid en stadium van ontwikkeling.”

Die argument word gevoer dat die staat nie tussenbeide kan of mag tree wanneer ouers hul primêre plig van sorg uitoefern nie. Slegs wanneer ouers dit nie doen nie, kan die staat tussenbeide tree.

Daarom word daar geredeneer dat “registrasie” vir tuisonderwys eerder moet wees soos om ‘n geboorte te registreer, dws om die staat in kennis te stel van wat gebeur het.

Hierdie argument is nog nie in die hof getoets nie, aangesien geen tuisskolers al ooit daarvan aangekla is dat hul nie geregistreer het nie en toe hierdie argument in hul verdediging kon gebruik nie, naamlik dat hul keuse om ‘n fundamentele ouerreg en -plig uit te oefen nie sonder goeie rede deur die staat beperk kan word nie.

Die groot vraag wat tuisskolers al vir meer as 25 jaar dronkslaan, is hoe hierdie argument en ander argumente ten gunste van vryheid in tuisonderwys in die hof getoets kan word.

Ons sal kyk na twee maniere waarop dit gedoen kan word: die defensiewe benadering en die offensiewe benadering.

Gebruik die wet om die wet te verander: die defensiewe benadering

In die algemeen is die mees effektiewe manier om die wet in ‘n konstitusionele demokrasie te verander wanneer mens die wet self gebruik om die wet te verander.  ‘n Uitstekende voorbeeld hiervan is die onlangse veldtog om die persoonlike gebruik van dagga te de-kriminaliseer.

Wette teen die besit en gebruik van dagga is reeds sedert 1870 van krag in Suid-Afrika. Hierdie wette het sedert 1994 op die wetboek gebly, en daar was al tienduisende suksesvolle vervolgings vir die besit en gebruik van dagga.

In Augustus 2010 het die polisie ‘n klopjag uitgevoer op ‘n eiendom, en ‘n egpaar is in hegtenis geneem op aanklag van die besit en gebruik van dagga. Hulle het beweer dat hulle die reg het om dagga te besit en te gebruik, solank dit vir persoonlike gebruik is. Hulle het verlof gevra om na die Grondwetlike Hof te appelleer.  Die saak is van die rol geskrap in die landdroshowe, in afwagting van die appèl.

Die egpaar het “tussenbeide getree” in ‘n ander saak wat in 2017 voor die Grondwetlike Hof gedien het, om die wetlikheid van die besit van dagga vir persoonlike gebruik te bepaal. Die reg om dagga vir private gebruik te besit, is in hierdie saak bevestig, en die staat is opdrag gegee om die wetgewing dienooreenkomstig aan te pas.

Hierdie strategie is klaarblyklik die strategie wat die oorgrote persentasie van die tuisonderwysgemeenskap aanvaar het, met ander woorde: wag vir die Staat om op te tree, en reageer dan daarop. Tuisskolers wag vir ‘n provinsiale onderwysdepartement om te probeer om ‘n ouer te vervolg, en sal dan tot aksie oorgaan.

‘n Ander benadering is om ‘n meer offensiewe houding in te neem.

Gebruik die wet om die wet te verander: die offensiewe benadering

In hierdie geval volg ‘n party ‘n offensiewe benadering en bevraagteken ‘n wet. Dit is ‘n baie goeie benadering, mits jy ‘n gesin of persoon het wat gewillig is om die betrokke wet te bevraagteken. Grondwetlike sake het ‘n baie laer kans op sukses wanneer dit ‘n blote abstrakte saak is. Dit werk die beste om ‘n persoon te hê wie se regte benadeel is. Dit beteken dat die een of ander gesin gewillig moet wees om die tyd, energie en geld af te staan om hof toe te gaan.

Die Pestalozzi Trust het hierdie soort benadering oorweeg toe die Beleid op Tuisonderwys bevraagteken is. Daar was egter nie enige gesin wat gewillig was om die party te wees wat die hofsaak maak nie. Dit is heeltemal te verstane, aangesien ons almal die beste belange van ons kinders eerste moet stel, en baie van ons sal meen dat ons nie ons kinders in ‘n groot hofsaak oor onderwys wil betrek, wat uit die aard van die saak hul onderwys juis gaan beïnvloed nie. So ‘n hofsaak sou tegelykertyd ook die Suid-Afrikaanse Skolewet moes bevraagteken, en die uitslag sou draai om wat “registrasie” beteken (dws moet dit meer soos inkennisstelling wees, of moet ‘n amptenaar ‘n ouer “toestemming” gee om te tuisskool).

Bogenoemde is ‘n paar van die vernaamste standpunte wat tuisskolers in die verlede ingeneem het. Dit is egter teoretiese en beginsel-argumente. In ons volgende artikel sal ons kyk na sommige van die praktiese benaderings wat al gevolg is.

Registrasie – Wie het die laaste sê? Deel 2

In die eerste artikel in hierdie reeks sit ons die vernaamste benaderings uiteen wat tuisskolers volg met betrekking tot registrasie vir tuisonderwys met die provinsiale onderwysdepartemente. Alhoewel ons nie akkurate syfers het nie, is volgens selfs die mees optimistiese syfers minder as 20% van tuisskolers geregistreer. Sommige tuisskolers het geregistreer en het nog nooit enige probleme met die kwessie van registrasie gehad nie. In die verlede het tuisonderwysverenigings die standpunt ingeneem dat “registrasie”, dws om toestemming van die staat te verkry om te tuisskool, ‘n fundamentele skending van die regte van ouers en kinders is. Tuisskolers het ‘n tweeledige regstrategie gevolg. Die eerste is om te wag vir die onderwysdepartemente om hulle te probeer vervolg en dan deur die howe te reageer. Die tweede is om, waar moontlik, die DBO in die hof teen te staan. Die probleem met die eerste benadering is dat die DBO nog nooit ‘n tuisskoler vervolg het nie, en die probleem met die tweede benadering is om gesinne te vind wat gewillig is om deur die trauma van ‘n hofsaak te gaan.

In hierdie opvolg-artikel verlaat ons merendeel nou die teoretiese sfeer en betree ons die praktyk.

Ons kyk weer na “Waaroor is die bohaai?”

Sedert die begin van COVID-19 het die getal tuisskolers toegeneem, en baie nuwe tuisskolers volg die CAPS-kurrikulum en gebruik kurrikulumverskaffers. Baie van hierdie tuisskolers oorweeg om ná COVID-19 hul kinders terug te plaas in die skool, en vir hulle is registrasie ‘n praktiese oplossing. Dit is egter nie ‘n regsvereiste dat hulle vir tuisonderwys geregistreer moet wees om in ‘n skool aanvaar te kan word nie. Die kind het ‘n reg op basiese onderwys.

Daar is egter beslis baie praktiese voordele aan registrasie as jy die CAPS-kurrikulum volg en wil terugkeer skool toe. Alhoewel talle ouers probleme ondervind het selfs wanneer al hulle papierwerk in orde is, is dit ongetwyfeld makliker om terug te keer skool toe as jy bewys van registrasie by die onderwysdepartement, oorplasingskaarte, assesserings  op grond van grade en die CAPS-kriteria, en standaardrapporte het.

Alhoewel dit in die praktyk kan slaag, is die benadering nie van nut vir gesinne wat benaderings of kurrikulums gebruik wat ‘n onderwysdepartement moeilik met die CAPS-stelsel gaan versoen nie.

“Jy klop, klop en klop, maar niemand maak oop nie”

Maar ten spyte van hul beste pogings het baie nuwe tuisskolers wat wou registreer, gevind dat dit nie so maklik is as wat dit lyk nie.

Ten spyte van jou beste pogings kan dit gebeur dat jy net eenvoudig nie daarin slaag om te registreer nie. Dit is iets wat ervare tuisskolers al lank gelede uitgevind het. Hulle het al die vorms voltooi en toe maande en gewoonlik jare gewag om geregistreer te word. Dikwels het hulle niks weer gehoor nie.

Baie veteraantuisskolers het na ‘n paar pogings moed opgegee.

Hierdie vertragings kan diegene wat probeer registreer baie angstig maak, veral as hulle graag die opsie wil hê om terug te keer skool toe. Diegene wat hulself in hierdie situasie bevind, het twee probleme:

  • “Wat as ek vervolg word omdat ek tuisskool?” Die beste advies is om seker te maak dat jy rekord hou van jou pogings om te registreer, en gereed is om dit te toon, indien iemand jou ooit sou nader.
  • “Kan my kind weer in die skool aanvaar word?” Wetlik behoort daar geen probleem te wees om jou kind weer terug in die skool te kry nie. Regsargumente seëvier egter nie altyd nie, en dit is die beste om al jou papierwerk in orde te hê. Ons stel voor dat jy professionele ondersteuning kry om seker te maak dat dit wel in orde is.

Die meeste departemente wat gemoeid is met tuisonderwys het te min personeel, en die personeel het ook nie die kapasiteit om die komplekse tuisonderwys-registrasiestelsel te administreer nie. Die werklikheid in die praktyk is dat jy moontlik gaan sukkel om geregistreer te kom, maar jy sal moet deurdruk.

“Gaaf…maar” – Voorwaardelike Registrasie

Navorsing oor die praktyk van tuisonderwys in Suid-Afrika dui klaarblyklik daarop dat baie tuisskolers, veral diegene wie se kinders so pas die skool verlaat het, die CAPS-kurrikulum en CAPS-kurrikulumverskaffers gebruik. Blykbaar verander hulle egter redelik gou na ‘n meer eklektiese benadering, en laat vaar hulle CAPS en die kurrikulumverskaffers, of volg dan ten minste nie die hele program nie.

Hierdie gesinne ervaar baie min probleme wanneer hulle aanvanklik registreer, omdat hulle die skooltipe stelsel gebruik waarmee die onderwysdepartemente gemaklik is. Eers wanneer assesserings plaasvind of wanneer hulle herregistreer, duik daar probleme op.

Tuisskolers wat nie CAPS volg nie en wat alternatiewe kurrikulums volg, kan egter meer probleme ondervind wanneer hulle registreer. Die versoeking hier sal wees om te registreer asof jy CAPS gaan gebruik en asof jy gewillig is om aan die assesseringsvereistes te voldoen wat met CAPS saamhang, selfs indien jy in werklikheid jou eie ding gaan doen. Die gevaar daarmee om dit te doen, is dat jy gedwing kan word om aan CAPS te voldoen of dat jou registrasie vir tuisonderwys ingetrek kan word.

Selfs as jy toegelaat sou word om te registreer terwyl jy ‘n alternatiewe kurrikulum of benadering gebruik, moet jy duidelikheid verkry oor hoe jy geassesseer sal word. Die enigste redelike wyse om diegene te assesseer wat nie CAPS gebruik nie is òf om geassesseer te word volgens die stelsel wat jy gebruik (byvoorbeeld Charlotte Mason of Montessori), òf deur ‘n opvoedkundige sielkundige òf deur middel van ‘n gestandaardiseerde assessering wat geletterdheid en gesyferdheid meet.

Tuisskolers wat nie CAPS gebruik nie, behoort dit duidelik te maak wanneer hulle registreer, en seker maak dat dit aangeteken is in hulle registrasie, sodat hulle nie later gedwing word om aan CAPS te voldoen nie. Dit word dikwels ‘n “voorwaardelike registrasie” genoem.

Jy kan nie gedwing word om aan onredelike vereistes te voldoen wat nie in jou kind se beste belang is nie, selfs as jy geregistreer is nie. Dit is egter baie makliker om jou regte te beskerm as jy dit van die begin af duidelik maak dat jy onder sekere voorwaardes registreer, byvoorbeeld dat jy nie CAPS gaan gebruik nie, en dat jy eenstemmigheid wil bereik oor die wyse waarop jou kind geassesseer gaan word.

As jy gaan registreer onder sekere voorwaardes wat jy stel, moet jy seker maak dat jy ondersteuning het wanneer jy dit doen.

Een beswaar teen “voorwaardelike registrasie” is dat ‘n ouer deur te registreer die beginsel prysgee dat dit die ouer is wat besluit om tuisonderwys te doen en nie die staat wat die ouer toestemming gee om dit te doen nie. Diegene wat glo dat die staat nie toestemming behoort te gee nie, vrees dat as jy eenmaal toegee dat die staat wel toestemming kan gee, jy dan implisiet aanvaar dat die staat ook toestemming kan weerhou. Dit is nou weer ‘n bietjie teoreties, maar dit is wel een rede waarom baie mense nie registreer nie.

Uitstel van die Registrasiebesluit

In die verlede het baie ouers die besluit om te registreer uitgestel totdat hulle deur onderwysamptenare genader word. Die Provinsiale Onderwysdepartement (POD) sal in so ‘n geval kennis gee dat jy aan die skoolpligwetgewing moet voldoen. Voor daardie kennisgewing moet die POD:

1) die redes vasstel waarom jou kind nie skool bywoon nie, en

2) gepaste stappe neem om die situasie reg te stel, en

3) slegs wanneer hierdie twee stappe misluk, die kennisgewing uitreik[1].

Tydens hierdie ondersoektydperk sal ouers dus die redes uiteensit waarom hul kind nie skool bywoon nie, asook die redes waarom hulle nie aan die registrasievereistes kan voldoen nie. Ouers sal dan redeneer dat een van die gepaste stappe is dat die departement hul kind vir tuisonderwys moet registreer op die voorwaardes waarmee daar met die ouers ooreengekom is (indien die voorwaardes in die beste belang van die kind is).

Die handelinge van departementele amptenare moet soos volg wees:

• Wettig (en dit sluit in dat hierdie besluit in die beste belang van die kind moet wees, want dit is ‘n sleutelvereiste van die Grondwet),

• Redelik, en

• Prosedureel billik (dit sluit in dat jy die geleentheid kry om jou saak ten volle te stel, dat die POD onbevooroordeeld moet wees in hulle besluite, en dat die POD redes moet gee vir hulle besluit).

Wanneer jy weet wat hulle besluit het en die redes vir hulle besluit ook het, kan jy appelleer teen daardie besluit, eers deur die interne prosesse van die departement en dan deur die howe.

Dit is ‘n ope vraag of die provinsiale onderwysdepartemente al ooit ‘n ondersoek geloods het oor waarom ‘n tuisskoler nie skool bywoon nie of nie geregistreer is nie. Tot op datum is daar nog nie so-iets gerapporteer nie. 

Die Direkteur-Generaal van die DBO het onlangs verklaar dat alhoewel hy graag ouers wie se kinders nie skool bywoon nie, sou wou vervolg, die SAPD nie die hulpbronne het om die ouers te vervolg nie. Die vraag is dan wat die doel van ‘n wet is wat die staat nie kan afdwing nie.

Die Howe sal die laaste sê hê

Die kwessie van registrasie het van tyd tot tyd al skeuringe in die tuisskoolgemeenskap veroorsaak.

In die jare 2000 was daar ‘n sterk beweging onder sekere Christengroepe wat registrasie onder alle omstandighede voorgestaan het. Hulle het beweer dat mens godsdienstig verplig is om “aan die keiser te gee wat die keiser toekom”,  en het geglo dat as hulle dit sou doen, die Staat se standpunt wonderbaarlik sou verander.

Meer onlangs is argumente voorgehou dat registrasie “wet” is. Wat dikwels ontbreek in hierdie argumente is die vraag “Kan daardie wet in werklikheid afgedwing word?”, of om dit anders te stel: as die DBO al hulle sake agtermekaar het, waarom vervolg hulle nie tuisskolers nie? Dit is immers waar tuisskolers al die afgelope 20 jaar en langer voor wag. Afgesien van die kwessie van die polisie se gewilligheid om betrokke te raak, sou die DBO of die provinsiale onderwysdepartemente die howe kon nader vir ‘n hofbevel, soos die POD’s al gedoen het in die geval van ongeregistreerde onafhanklike skole. Die basiese probleem is dat die wet, soos dit nou staan, baie moeilik is om af te dwing, indien nie onmoontlik nie. Dit is ‘n groot dryfveer agter die BELA Bill, naamlik om die DBO se regsake in orde te kry. Die BELA Bill sal ‘n wet wees wat onbuigsaam afgedwing kan word, teenoor ‘n beleid wat buigsaam toegepas moet word, wat die situasie tans is.

Wanneer en as die BELA Bill wet word, is dit meer waarskynlik dat ons hofsake sal sien en ‘n antwoord sal kry op die groot registrasiedebat.

Enigiemand wat enige praktiese ondervinding van litigasie het, weet dat ‘n mens nie vooraf kan sê wat die finale uitspraak van die hof gaan wees voor die hoogste hof uitspraak gegee het nie. (Dit het per slot van rekening nogal gelyk of jy in die tronk gaan beland as jy in besit van dagga betrap sou word.) Die kwessie van registrasie vir tuisonderwys sal eers finaal uitgesorteer wees wanneer die kwessie voor die Grondwetlike Hof gedien het. Tot dan is alle opinies daaroor, hierdie huidige een ingesluit, blote bespiegeling.

[Redaksienota van die Pestalozzi Trust: Alle regsinligting in hierdie artikel is bedoel slegs vir algemene inligtingsdoeleindes. Dit is nie ‘n plaasvervanger vir regsadvies van ‘n prokureur wat gelisensieer is om in jou jurisdiksie te praktiseer nie, en wat kennis dra van jou spesifieke regskwessie nie, en jy behoort nie staat te maak op sulke regsinligting nie. Lede van die Pestalozzi Trust word aangeraai om die Trust te kontak, wat julle sal bystaan, en julle, waar nodig en waar van toepassing, in aanraking sal bring met ‘n geregistreerde lid van die regsprofessie. Hou in gedagte dat die koste van Trustlede deur die Trust gedek word.]


[1] South African Schools Act 1996.

s3(5) If a learner who is subject to compulsory attendance in terms of subsection (1) is not enrolled at or fails to attend a school, the Head of Department may—

(a) investigate the circumstances of the learner’s absence from school;

(b) take appropriate measures to remedy the situation; and

(c) failing such a remedy, issue a written notice to the parent of the learner requiring compliance with subsection (1).

'N ANTWOORD LAAT

Please enter your comment!
Please enter your name here