Huis Nuus SASA (en die BELA Bill) is nie die regte tuiste vir tuisonderwys...

SASA (en die BELA Bill) is nie die regte tuiste vir tuisonderwys nie

1269
0

[Hier is ‘n skakel na die Word-templaat en die aanlyntemplaat wat jy in jou kommentaar kan gebruik.]

Shakespeare vra “What’s in a name? That which we call a rose by any other name would smell just as sweet.”[1] Mens wil nie graag van hom verskil nie, maar wat die BELA Bill betref, kan ons eerder sê: “Something is rotten in the state of Denmark.”[2]

Die kernprobleem met die BELA Bill is die naam. Die BELA Bill se naam dui aan dat dit ‘n “Basic Education Laws Amendment Bill” is, maar eintlik is dit nie wat dit is nie. Dit is ‘n “Schools Amendment Bill”, want dit wysig die SASA, die SA Skolewet. Alles daarin, insluitend die deel oor tuisonderwys, word hanteer uit die perspektief van “skool”. Dit skep ʼn ernstige probleem vir jou, as jy een van die ongeveer 54% tuisskolers is wat meen dat die staat ʼn rol moet speel in die regulering van tuisonderwys, mits dit die regte rol is.

Tuisskolers weet dat tuisonderwys verskil van skool, maar die fundamentele probleem is dat die DBO nie die nodige kundigheid oor en begrip van tuisonderwys het nie. Die kernbegrip van tuisonderwys is dat die onderwys by die kind aangepas word, en nie dat die kind in ʼn massa-onderwysstelsel ingedruk word nie. Dit is baie moeilik vir die DBO om dit by hulle siening van die onderwysstelsel in te pas. Tuisonderwys gebruik ʼn veelvoud van benaderings en ʼn oneindige kombinasie van daardie benaderings. Hiervan is amptenare normaalweg nie bewus nie. Die DBO het ʼn volkome burokratiese benadering tot tuisonderwys en probeer dit in inpas in hul skool-gebaseerde denke. 

Gevolglik is die proses waartydens die BELA Bill ontwikkel is vol growwe foute en is die Bill geensins gereed vir die parlement nie.

Die redes daarvoor is die volgende:

Geen sinvolle konsultasie nie

Die DBO het nie op ʼn sinvolle wyse gekonsulteer nie. Diegene wat by die taakspan sou aansluit om die Bill voor te berei, is met die hand uitgesoek. Hulle is hoofsaaklik DBO- en POD-amptenare, wat baie ander pligte ook het en wat die grondbeginsels van tuisonderwys nie verstaan nie. Daar was slegs een tuisskoler in die taakspan, asook een kurrikulumverskaffer, en hulle albei het ʼn CAPS-benadering sterk ondersteun. Die baie ander kurrikula en benaderings is nie verteenwoordig nie, en vanselfsprekend het ons dus ʼn CAPS- of skool-gebaseerde Bill. Die feit dat die DBO so ʼn verwronge konsep geïmplementeer het, het die BELA Bill van meet af aan verdoem.

Teen die tyd dat die BELA Bill gepubliseer is, was die DBO vas oortuig van hulle benadering, en wou hulle geen fundamentele wysigings in hulle benadering aanbring nie. Die DBO het wel ʼn paar klein maar beduidende toegewings gemaak (soos eenmalige registrasie, en kennisgewing per fase daarna; die strenge ooreenkoms met CAPS is ook verslap). In die geheel het die struktuur egter nie verander nie.   

Geen navorsing nie

Wanneer amptenare nie veel begryp van ʼn obskure onderwerp soos tuisonderwys nie, behoort daar onafhanklike navorsing gedoen te word. Maar soos die Minister in die PCBE toegegee het, het die DBO nog geen navorsing oor tuisonderwys gedoen nie.

Daar is in werklikheid geen sinvolle, onlangse navorsing gedoen nie, selfs nadat daar in 2008 opdrag gegee is dat daar navorsing gedoen moes word. Dit is kommerwekkend dat die Minister nie geweet het daarvan nie, maar dit is nog baie meer kommerwekkend dat sy bereid is om die BELA Bill die duisternis in te stuur sonder enige navorsing wat die pad vorentoe verhelder. Hierdie gebrek aan navorsing is reeds so vroeg as 2015 in interne DBO-dokumente aangetoon. Die DBO weet nie eers hoeveel tuisskolers daar is nie, en het met wilde syfers, soos 500 000, na vore gekom. (Hierdie syfer is meer as die hele sektor van die onafhanklike skole.[3])

Geen geloofwaardige SEIA nie

Sonder navorsing kan die DBO nie ʼn geloofwaardige SEIA (Sosio-ekonomiese Impak-assessering) produseer nie. Die SEIA wat die DBO ontwikkel het, is in wese defektief. Sonder ʼn SEIA weet niemand wat die impak van die Bill gaan wees nie. Die BELA Bill behoort dus nie voort te gaan sonder ʼn deeglike evaluering van die impak en van moontlike onbedoelde gevolge daarvan nie.

Veranderinge sedert COVID nie in ag geneem nie

Nog ʼn algemene probleem is dat grondige veranderinge in die onderwyssektor plaasgevind het in die 10 jaar sedert die werk aan hierdie Bill begin het (werk oor die tuisonderwys-afdelings het reeds in 2012/13 begin) en hierdie veranderinge het boonop versnel tydens COVID. Aanlyn-onderwys word al hoe meer gebruik, en daarmee saam het ʼn hele nuwe groep verskaffers en ouers gekom. Die DBO glo dat daar ʼn aparte beleid vir Virtuele Onderwys geskep moet word.

Ook mikroskole en sentrums het geweldig uitgebrei. Dit is ʼn belangrike sektor, wat hul eie regsprobleme in die gesig staar omdat die beleid en prosedures vir die registrasie van groot skole nie van pas is vir hierdie instellings nie. Wetgewing wat spesifiek vir hulle geskik is, is dringend nodig. Hieroor swyg die BELA Bill.

Daar is ook ʼn aantal regstegniese redes waarom dit nie van pas is om tuisonderwys by die BELA Bill in te sluit nie. Dit is te lank om hier te bespreek, maar dit is in ʼn vorige Nuusbrokkie aan lede gestuur.

Wat jy kan sê en versoek:

  1. Die heel belangrikste: Versoek dat die tuisonderwys-artikels in die BELA Bill uit die huidige SASA verwyder word en dat toepaslike nuwe wetgewing vir tuisonderwys ontwikkel word.
  2. Versoek die Portefeuljekomitee vir Basiese Onderwys (PCBE) om ʼn deeglike Sosio-Ekonomiese Impak-Assessering te doen, wat ontwikkel is deur met tuisskolers te skakel, sodat parlementslede te wete kan kom wat die impak van die Bill gaan wees.
  3. Versoek die PCBE om met tuisonderwys-organisasies, -navorsers en -ouers te ontmoet sodat die PCBE die nodige agtergrondinligting oor tuisonderwys kan inwin.
  4. Verduidelik watter kurrikulum en benadering jy gebruik, waarom jy dit gekies het en waarom dit werk vir jou gesin.
  5. Vertel van enige negatiewe ondervindinge wat jy met CAPS en met skole gehad het.
  6. Verduidelik waarom jy nie wil hê jou kind moet CAPS volg of volgens CAPS geassesseer moet word nie.

[Hier is ‘n skakel na die Word-templaat en die aanlyntemplaat wat jy in jou kommentaar kan gebruik.]


[1] Romeo and Juliet, Act 2, Scene 2

[2] Hamlet, Act I, Scene 4 

[3] https://www.news24.com/truelove/lifestyle/parenting/truelove-edu-the-rise-of-private-schools-in-sa-20210824

'N ANTWOORD LAAT

Please enter your comment!
Please enter your name here