Huis Nuus Ses Opsies vir Matriek: Hoe om die Regte Keuse te Maak

Ses Opsies vir Matriek: Hoe om die Regte Keuse te Maak

4422
0

(deur Marita Green, Tuisskoolma en Inhoudsredakteur by Deepstash)

Vir ons as ouers kan die laaste jare van tuisonderwys moeilik wees om te navigeer. Saam met ons kinders moet ons ‘n geskikte opsie vir matriek kies, wat vir ons kinders tot voordeel sal wees in die toekoms. Dit maak die besluit baie makliker as ‘n mens weet watter opsies beskikbaar is en hoe hierdie opsies waarskynlik in die toekoms gaan inpas.

Die doel van ‘n matrieksertifikaat

Party tuisskoolouers meen dat die doel van onderwys is om matriek te behaal. Ouers volg dikwels ‘n spesifieke kurrikulum met hul kind deur al die skooljare om ‘n matriekkwalifikasie aan die einde daarvan te kan verkry. Die kind word dan deel van die werksmag of studeer verder.

Matriekopsies vir tuisskolers verander gereeld

Ander ouers beskou ‘n matrieksertifikaat of sy ekwivalent net as ‘n sleutel tot geleenthede. Vir hierdie ouers is onderwys self nie die sleutel nie. Hulle beskou onderwys as ‘n wye begrip met ‘n groot verskeidenheid benaderings, wat nie beperk is tot skool, matriekvakke en sertifikate nie.

Matriekopsies vir Suid-Afrikaanse tuisskolers kan verander en dit gebeur dan ook. Dit wast vanjaar beskikbaar is, kan moontlik nie volgende jaar beskikbaar wees nie.

Tot 2007 kon enige persoon van 18 jaar en ouer byvoorbeeld die ou Suid-Afrikaanse matriek skryf sonder bewys van vorige onderwys. Maar teen die einde van 2007 is die ou Suid-Afrikaanse Senior Sertifikaat afgeskaf, en skielik kon Suid-Afrikaanse tuisskolers nie meer matriek skryf sonder om by ‘n kurrikulumverskaffer ingeskryf te wees  nie. Die matriek het ook verander van ‘n eenjaar-sertifikaat na ‘n driejaar-sertifikaatprogram.

Op ongeveer dieselfde tyd het tuisskolers bewus geword van die Amerikaanse General Education Diploma (GED) as ‘n opsie vir ‘n alternatiewe “matriek”. Die GED kon toegang verleen tot ‘n Suid-Afrikaanse universiteit, saam met ‘n SAT of ‘n aanvaardingsbrief van ‘n Amerikaanse universiteit. Maar sedert 2019 het Universities South Africa (USAf) – ‘n lede-organisasie wat Suid-Afrikaanse universiteite verteenwoordig – nie meer GED-aansoeke om “Foreign Conditional Exemption” aanvaar nie. Dit beteken dat jy nie vir graadstudie aan ‘n Suid-Afrikaanse universiteit kan aansoek net met die GED nie. Die GED word steeds beskou as ‘n graad 12-ekwivalent, maar as ‘n matriek sonder vrystelling.

Sedert 2020 het EdExcel (‘n eksamenraad wat alternatief is tot Cambridge) het ook ‘n Graad 12-opsie in Suid-Afrika geword. Die Tegniese Matriek N3 word ook in 2021 uitgefaseer. Die National Senior Certificate for Adults (NASCA) is veronderstel om beide die Tegniese Matriek N3 en die Amended CAPS te vervang. Geen bewys van vorige onderwys is nodig nie, en dit kan afgelê word op 18. Dit kan ook weer ‘n opsie word vir tuisskolers.

Dit beteken dat dit wat as matriek gekies word aan die begin van die tuisonderwysreis moontlik nie meer aan die einde van die reis beskikbaar sal wees nie.

Verskillende benamings vir ‘n skoolverlatingsertifikaat

Skoolverlatingsertifikate staan onder verskillende benamings bekend in verskillende lande. In Suid-Afrika word ‘n Graad 12-sertifikaat gewoonlik ‘n Matrieksertifikaat genoem. Amptelik is die kwalifikasie die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS). In Engeland word die skoolverlatingsertifikaat wat ons ken die General Certificate of Secondary Education (GCSE) genoem. In die VSA gebruik die meeste skole ‘n kwalifikasie wat bekend staan as ‘n hoërskooldiploma.

Matriekopsies

1. Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)

Die NSS is ‘n driejaar-sertifikaat. ‘n Tuisskoolkind moet vir graad 10-12 van ‘n erkende diensverskaffer gebruik maak. ‘n Graad 9-sertifikaat word dikwels (maar nie altyd nie) deur ‘n diensverskaffer vereis om toelating tot die kursus te kan verkry. Die NSS word erken vir verdere studie deur alle Suid-Afrikaanse universiteite en werkgewers. Dit word egter dikwels plaaslik as onvoldoende beskou en kan dikwels nie deure internasionaal open nie.

2. Cambridge International (International General Certificate of Secondary Education – IGCSE/AS/A level)

Cambridge is ‘n internasionaal erkende sertifikaat van die Verenigde Koninkryk. ‘n Mens het nie bewys van vorige onderwys nodig nie en kan die eksamen op enige ouderdom skryf. ‘n Student bepaal self die pas, maar dit neem tipies drie jaar om te voltooi. Voorbereiding daarvoor kan self gedoen word of deur ‘n diensverskaffer. Die eksamens word by erkende eksamensentrums in Suid-Afrika afgeneem. Cambridge is ‘n beproefde stelsel wat kreatiewe en kritiese denke bevorder. Dit word erken vir verdere studie in Suid-Afrika en internasionaal. Dit kan tydrowend wees en is nie die beste passing vir elke kind nie.

3. Edexcel (IGCSE)

Edexcel is nog ‘n eksamenraad van die Verenigde Koninkryk, soortgelyk aan Cambridge, en ‘n redelik nuwe opsie in Suid-Afrika. Hulle bied hul eie weergawes van die IGCSE aan en is inhoudsgewys soortgelyk aan Cambridge. Edexcel het tans net ‘n paar eksamensentrums in Suid-Afrika, en ten spyte van tandekryprobleme, blyk dit ‘n belowende alternatief te wees.

4. Amerikaanse General Education Diploma (GED)

Die GED is ‘n volwasse skoolverlatingsertifikaat. In Suid-Afrika kan dit van ouderdom 17 af geskryf word. Geen vorige grade is nodig nie. Die GED veronderstel egter ‘n wye algemene kennis en toets kritiese denke. Die GED word teen jou eie pas gedoen, en neem gewoonlik een tot twee jaar om voor voor te berei. Voorbereiding vir die GED kan op jou eie of deur ‘n diensverskaffer gedoen word.

Die eksamens kan enige tyd van die jaar by toetssentrums van die Boston City Campus gedoen word. Die GED is aantreklik vir mense wat verkies om uit ‘n wye verskeidenheid nie-tradisionele bronne te studeer. Dit word beskou as ‘n “foreign school-leaver certificate” en erken as ‘n ekwivalent vir matriek sonder vrystelling. Baie universiteite in die VSA en elders aanvaar dit egter alleen of tesame met ‘n Standard Achievement Test (SAT) as voldoende vir universiteitstoelating. In Suid-Afrika kan ‘n GED plus ‘n sertifikaatkursus wat gelykstaande is aan vlak 5 op die Nasionale Kwalifikasieraamwerk (NQF 5) geskik wees vir universiteitstoelating.

5. American High School Diploma

Geen voorafgaande programme of grade word vereis vir hierdie diploma nie, maar graad 1-8 sal ‘n raamwerk verskaf om op te bou. Die diploma word tipies in 4 jaar voltooi maar kan ook vinniger afgehandel word. Dit kan vanaf ouderdom 16 verwerf word. In Suid-Afrika moet ‘n mens by ‘n geakkrediteerde aanlynskool, virtuele skool of sambreelskool  inskryf. Die American High School Diploma vied ‘n wye verskeidenheid vakke aan, en studente kan universiteitsvlak-kursusse reeds op hoërskool doen. Die diploma kan gebruik word vir universiteitstoelating in Suid-Afrika, tesame met ‘n SAT of ‘n aanvaardingsbrief van ‘n Amerikaanse universiteit.

6. Geen skoolverlatingsertifikaat nie

Baie werkgewers is deesdae meer begaan oor “beroepsgereedheid” as met “waar-het-jy -studeer”. Met so baie geleenthede beskikbaar deur aanlynkursusse, soos Massively Open Online Courses (MOOC’s), twyfel baie mense aan die nodigheid vir ‘n skoolverlatingsertifikaat. In plaas daarvan ontvang kinders ‘n pasgemaakte opvoeding, begin dikwels van jongs af met ‘n eie besigheid, en gaan die volwasse lewe in as ‘n lewenslange leerders. Dit kan so iemand ‘n beduidende voorsprong gee. Vir verdere studie vereis universiteite soos The Open University en MIT nie enige skoolverlatingsertifikate as toelating tot hul graadkursusse nie.

Wat tuisskolers van USAf en SAQA behoort te weet

Die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid (South African Qualification Authority of SAQA) hou toesig oor die ontwikkeling en implementering van die NQF, die Nasionale Kwalifikasieraamwerk, of National Qualifications Framework. Tuisskoolgraduandi met ‘n internasionale of buitelandse matriek kan by SAQA aansoek doen om ‘n Sertifikaat van Evaluering (“Certificate of Evaluation”) om die kwalifikasie in ‘n Suid-Afrikaanse matriek te omskep. Dit is egter slegs nodig indien die toelatingsdepartement van ‘n kollege of ‘n werkgewer dit vereis. Veronderstel jou kind wil aan ‘n Suid-Afrikaanse universiteit studeer, en het ‘n internasionale matriek, soos Cambridge. In so ‘n geval sal hy/sy by Universities South Africa (USAf) moet aansoek doen vir ‘n Suid-Afrikaanse Matriekvrystellingsertifikaat.

Watter matriek om te kies

Tuisskoolkinders oorweeg gewoonlik matriekopsies wanneer hulle om en by 15 jaar oud is. Om ‘n geskikte matriek te kies, is dit dikwels raadsaam om agteruit te probeer werk, met die einddoel in sig.

As ‘n kind aan ‘n  Suid-Afrikaanse universiteit wil studeer, is dit die beste om die fakulteit by die verkose universiteit te kontak en vas te stel wat die toelatingsvereistes vir die spesifieke kursus is. Kies dan ‘n matriek wat daardie vereistes die beste sal pas. As ‘n kind in die Verenigde Koninkryk wil studeer, kan ‘n Cambridge- of Edexcel-matriek raadsaam wees. ‘n Entrepreneur sal moontlik ‘n matrieksertifikaat onnodig vind, en sal in plaas daarvan ondervinding opdoen en kortkursusse doen.

Geen matriek nie beteken nie die einde van jou opvoeding nie

Mens kan altyd op ‘n later stadium matriek skryf, indien nodig. Dit neem slegs een of twee jaar, nie twaalf jaar nie. Dit beteken dat ‘n kind jong jare benut kan word vir ‘n breër opvoeding. Later, wanneer die kind meer duidelikheid oor die toekoms het, kan daar besluit word watter sleutel die regte deure sal oopsluit.

Die waarde van ondervinding en ‘n portefeulje

Om ‘n skoolverlatingsertifikaat te verwerf waarborg nie toelating tot ‘n Suid-Afrikaanse universiteit nie. Feitlik alle fakulteite vereis ‘n applikant ook om ‘n keuringstoets te skryf, om vir onderhoude te kom, en om ‘n portefeulje van werk in te dien. Dit is dus belangrik om te onthou om nie die opvoeding na te laat terwyl jy fokus daarop om ‘n kwalifikasie te kry nie.

Slotsom

Daar is baie eindeksamens waaruit ons kan kies. Die opsie wat jy kies sal uniek van pas wees vir jou kind en jou omstandighede.

'N ANTWOORD LAAT

Please enter your comment!
Please enter your name here