Huis Nuus Vyf Baie Besige Jare

Vyf Baie Besige Jare

2788
0

Die tuisonderwysbeweging het die afgelope vyf jaar groot vooruitgang gemaak. Dit bou op die meer as 25 jaar se harde werk van die verlede. Die Pestalozzi Trust het daarin geslaag om ‘n leidende rol in te neem en kon die tuisonderwysbeweging ondersteun in ‘n hele aantal suksesverhale. Ons kan dit slegs doen danksy die ondersteuning wat ons van u, ons lede, ontvang. Elke liewe lid en elkeen wat betrokke was in hierdie bedrywighede en veldtogte het ‘n kardinale rol gespeel in die suksesverhale. Vryheid word nie oornag verwerf nie, en die vryheid word slegs bereik na talle botsings en klein treetjies in die regte rigting. Ons som die gebeure kortliks op hieronder.


* 2017 – BELA Bill-veldtog:  Nadat die Basic Education Laws Amendment (BELA) Bill sonder enige vooraf waarskuwing in Oktober 2017 gepubliseer is, het die Trust die Adjunk-Minister om uitstel gevra sodat die voorleggings nog later ingedien kon word. Ons argument was dat tuisskolers benadeel is omdat daar nie vooraf met tuisskolers gekonsulteer is nie. Ons het ‘n brief van die Adjunk-Minister ontvang dat alhoewel daar nie algemene uitstel verleen kan word nie, alle voorleggings wat laat deur die Trust ingedien word, wel oorweeg sou word. Tuisskolers het meer as ‘n 1000 voorleggings gedoen. Die Trust het ook ‘n innoverende regsoplossing ontwikkel, en van die DBO die versekering verkry dat alle tuisskolers wat ‘n anonieme voorlegging wou maak dit kon doen deur middel van ‘n anonieme proses wat die Trust geadministreer het. In die verlede was dit nie moontlik om anonieme voorleggings te doen nie, maar danksy die Trust kon die stemme van anonieme tuisskolers ook gehoor word. Tuisskolers, wat minder as 1% van die skoolbevolking uitmaak, was verantwoordelik vir 20% van die voorleggings oor die BELA Bill! Dit het die DBO langer as twee jaar geneem om die voorleggings te oorweeg. Kyk hier vir die reaksie van die DBO.

*28 November 2017. Die Trust het met die Cape Home Educators (CHE) saamgewerk om te verseker dat ‘n aantal tuisskolers die vergadering van die Portefeuljekomitee vir Basiese Onderwys van die parlement (die “Portfolio Committee for Basic Education”  of PCBE) oor die BELA Bill kon bywoon.  Bouwe van der Eems en Christopher Cordeiro het die Adjunk-Minister van Onderwys kortliks ontmoet. Die Trust het bestaande verhoudinge met parlementariërs versterk, en nuwe verhoudinge gesmee. Gedurende die PCBE-vergadering het die Direkteur-Generaal van die DBO, Mnr Mathanzima Mweli, gesê: “…the word avalanche would not describe” die voorleggings wat hulle ontvang het nie, en “he had never seen it in his career in public service”. Die Adjunk-Minister het die sluitingsdatum vir voorleggings deur die publiek uitgestel tot 10Januarie 2018.

* Julie 2018 CEM-veldtog: ‘n Hooggeplaaste, goedgesinde bron het die Trust op Vrydag die 13de Julie, 2018 ingelig dat die Beleid op Tuisonderwys die volgende week op die 19de Julie aan die MEC’s voorgehou sou word. Oor die naweek het die Trust ‘n geoutomatiseerde briefskryfveldtog ontwikkel om die CEM (Council of Education Ministers) te bearbei oor die Beleid. Die stelsel is soortgelyk aan die stelsel wat deur groepe soos Dear SA gebruik word. Die kantoor van die Minister het in die loop van die week honderded oproepe en briewe ontvang. Die DBO het die tuisskolers as rommelstrooiers (“spammers”) bestempel, maar Cheryllyn Dudley (MP) het ‘n openbare verklaring gemaak waarin sy die DBO tot orde roep omdat hulle besorgde burgers as “spammers” bestempel.

* Oktober 2018: Die Trust het tuisskolers aangemoedig om die kiesafdelinghoofde te ontmoet, en te verduidelik waarom hulle besorg is oor die BELA Bill en die Beleid oor Tuisonderwys. Lees oor die vergaderings wat gehou is hier, hier en hier. As julle self so ‘n vergadering wil organiseer, veral in die oploop na die plaaslike verkiesings, kan julle hier oplees hoe om dit te doen.

* 3 November 2018: Victor Sabbe van die Cape Home Educators en Bouwe van der Eems van die Pestalozzi Trust het ‘n vergadering met die Wes-Kaapse MEC vir Onderwys, die Agbare Debbie Schäfer, bygewoon. Die vergadering is ervaar as ‘n vrugbare eerste stap in skakeling tussen die regering en die tuisonderwysbeweging.

* 30 April 2019: DA-leier Mmusi Maimane het tyd afgeknyp uit sy dol voor-verkiesingskedule om tuisskolers te ontmoet en te luister na hul besorgdhede oor die Beleid oor Tuisonderwys en die BELA Bill, en om die DA se posisie oor tuisonderwys duidelik te maak. Hierdie vergadering was die vrug op die harde werk van tuisskoolma Chrisna Brand. Chrisna het gereageer op die Pestalozzi Trust se oproep aan alle tuisskolers om met hul politieke partye te skakel voor die verkiesings, en sy het deurgedruk totdat sy deur die bemiddeling van DA MP Sonja Boshoff ‘n afspraak met die partyleier gekry het!

*2019: Aangesien die insette van klein skooltjies nie in ag geneem is toe nòg die BELA Bill nòg die Beleid op Tuisonderwys opgestel is nie, het die Pestalozzi Trust die inisiatief geneem om klein skooltjies, mikroskole en leersentrums te help om ‘n vereniging vir alternatiewe onderwys te vestig, naamlik die Association for Alternative Education. Die vereniging groei steeds.

* 17-19 Oktober 2019: Die eerste African Home Education Indaba is in Pretoria gehou, met verteenwoordigers van Suid-Afrika, Kenia, Uganda, Tanzania, Namibia, die VSA, Kanada en Rusland as deelnemers. Amptenare van die WKOD was ook teenwoordig.

* November 2019: Die Trust het ‘n kollokwium by die Centre for the Book in Kaapstad geborg wat deur die vooraanstaande internasionale akademikus, Prof Dr Jan De Groof, toegespreek is oor vryheid in en van die onderwys. Die geleentheid is bygewoon deur leidende NGO’s in die onderwyssektor. Tuisonderwys is sodoende op die radar van hierdie NGO’s geplaas. Die Trust bou steeds aan sy verhouding met hierdie groepe.

* Desember 2019: Die Minister van Basiese Onderwys het die Trust uitgenooi om bykomende kommentaar op die BELA Bill te lewer. Die Trust het ‘n gedetailleerde voorlegging gedoen, ondersteun deur ‘n regsopinie oor drie kwessies, naamlik die twyfelagtige grondwetlikheid van tuisbesoeke, die ontoepaslikheid van die strafbedinge in die Beleid en die onwettigheid van die herregistrasieproses. Ons regspan het geargumenteer dat om registrasie elke drie jaar af te dwing op ‘n kansellasie van registrasie neerkom, sonder ‘n behoorlike regsproses. Die DBO het dit toegegee en die BELA Bill aangepas om toe te laat vir eenmalige registrasie en kennisgewing slegs per fase. Dit is ‘n belangrike wins vir tuisskolers, aangesien ouers wanneer die BELA Bill gepromulgeer is nie meer elke fase sal hoef aansoek te doen om registrasie nie. Die Pestalozzi Trust het ook betoog dat tuisonderwys nie onder die SA Skolewet gereguleer behoort te word nie, aangesien tuisonderwys buite die skoolstelsel plaasvind. Die DBO het erken dat hierdie idee meriete het en in die toekoms aangespreek kan word.

* Januarie 2020: Op 27 Januarie 2020 het die Pestalozzi Trust ‘n vergadering met die Minister van Basiese Onderwys, Mev. Angie Motshekga, bygewoon. Die Pestalozzi Trust is een van die belanghebbendes wat deur die Minister uitgenooi is om die jongste 2019-konsepweergawe van die BELA Bill te bespreek. Die Minister het ‘n uur daaraan gewy om tuisonderwys te bespreek en na die insette van die Trust, asook haar senior amptenare se kommentaar oor ons voorlegging, te luister. Die vergadering het in ‘n positiewe en konstruktiewe gees plaasgevind. Die DBO het terugvoer gegee oor ‘n paar pertinente purnte in ons voorlegging, waarmee hulle saamgestem het, en het versoek dat die Trust bykomende kommentaar en alternatiewe formulerings voorstel, in die lig van die terugvoer wat gegee is.

* 28 Februarie 2020: Die Pestalozzi Trust het ‘n Roundtable bygewoon oor die implementering van die Beleid oor Tuisonderwys, en ‘n memorandum oorhandig met lede se besorgdhede en vrae.

* Kwartaal 2 – 2020: Die Trust het met tuisonderwysverenigings saamgewerk om die Liberty in Learning Coalition te vestig. Die Liberty in Learning Coalition is ‘n groep verenigings, individue en tuisonderwysverskaffers in Suid-Afrika, wat almal ‘n gemeenskaplike doel najaag en streef na groter vryheid in die onderwys.

* 20 Oktober 2020: Die DBO het terugvoer gegee aan die Portefeuljekomitee vir Basiese Onderwys (PCBE) oor die vordering van die BELA Bill. Die laaste keer wat die DBO aan die PCBE terugvoer gegee het oor die BELA Bill was in November 2018, en tydens daardie vergadering is daar baie druk op die DBO geplaas om met belanghebbendes te konsulteer. Volgens die terugvoer in die onlangse vergadering het die pogings van die Pestalozzi Trust tot meer veranderinge aan die BELA Bill gelei as wat enige ander belanghebbende kon regkry.

* 9-13 November 2020: Die Global Home Education Conference 2020 het aanlyn plaasgevind. Karin van Oostrum, Uitvoerende Bestuurder van die Trust, dien op die Raad van die GHEX, the Global Home Education Exchange. Karin het daartoe bygedra dat daar die grootste bydrae ooit in die geskiedenis van die GHEX deur verteenwoordigers van Suid-Afrika en Afrika was. Kyk gerus by die opnames van die konferensie op die webblad na die sessie van die Afrika-Alumni. Ons alumni is ons heel beste verdediging vir tuisonderwys.

2021 voorspel om ‘n weer eens ‘n jaar van intense bedrywigheid te wees. In ons volgende nuusbrokkie deel ons van die nuus van die eerste paar maande van 2021.

'N ANTWOORD LAAT

Please enter your comment!
Please enter your name here