Huis Nuus Ons wil SAAM besluit oor ons toekoms: Gun ons die Reg op...

Ons wil SAAM besluit oor ons toekoms: Gun ons die Reg op Verteenwoordiging

458
0

Betekenisvolle openbare konsultasie behoort ‘n integrale deel van die regskeppende proses te wees. Openbare konsultasie kan slegs betekenisvol wees as daar ‘n gewilligheid is om alle sienings van die publiek te oorweeg. Ongelukkig het die DBO nie daarin geslaag om op betekenisvolle wyse met tuisskolers te konsulteer nie.  

 

Sedert die BELA Bill in 2017 vir publieke kommentaar gepubliseer is, het die Pestalozzi Trust gepoog om met die DBO in gesprek te tree oor die inhoud van die BELA Bill. In die loop van 2018 het die Pestalozzi Trust aan die DBO geskryf om ‘n geleentheid te versoek om met die taakspan te ontmoet wat besig was om die publieke kommentaar oor die BELA Bill te oorweeg. Ten spyte daarvan dat daar op ‘n stadium ingestem is om te ontmoet, het die DBO nooit daardie onderneming gestand gedoen nie.

 

In die amper 5 jaar sedert die BELA Bill vir openbare kommentaar gepubliseer is, is daar slegs by die volgende geleenthede met verteenwoordigers van die tuisskoolbeweging gekonsulteer:

 

  • ‘n Vergadering tussen die Pestalozzi Trust en die destydse opsteller van die BELA Bill, Adv. Rudman (spesiale adviseur aan die destydse Adjunk-Minister) en Mnr Chris Leukes in 2017.
  • Een vergadering waarin die Minister van Basiese Onderwys in Januarie 2020 met verteenwoordigers van die Pestalozzi Trust vergader het.
  • ‘n Enkele Rondetafel-vergadering in Februarie 2020, waar die BELA Bill nie op die agenda was nie.
  • ‘n Vergadering met Adv. Ledwaba op 29 Januarie 2021 oor die Sosio-Ekonomiese Impak-Assessering van die BELA Bill. ‘n Resultaat van die vergadering was dat die Pestalozzi Trust sy eie navorsing aan die DBO voorgelê het. Hierdie navorsing is egter nie in die SEIA gebruik nie.

 

Tydens ‘n terugvoer-sessie aan die Portefeuljekomitee vir Basiese Onderwys (Portfolio Committee on Basic Education of PCBE) op 8 Februarie 2022 het die Minister gemeld: “I met the homeschooling associations more than three times. We know what their business is. We know what their thinking is…” Die tuisonderwysbeweging is slegs bewus van bogenoemde ontmoetings en die Minister was teenwoordig slegs by twee van hierdie geleenthede. Dis moeilik om te glo dat die DBO ‘knows the business’ of ‘thinking’ van tuisonderwys as hulle so min met tuisskolers geskakel het.

 

Die Pestalozzi Trust het ook gereeld aan die DBO geskryf, en hulle daarop gewys dat indien hulle nie betekenisvol met tuisskolers konsulteer nie dit daartoe kan lei dat die BELA Bill in die hof teengestaan gaan word.

 

Uiteindelik het die DBO op hierdie versoeke gereageer, op ‘n beperkte wyse, deur aan die provinsies opdrag te gee om “Joint Liaison Committees (JLCs)” te stig as skakel tussen die provinsiale onderwysdepartemente en die tuisskolers. Hierdie JLC’s ontmoet egter net in Gauteng en die Wes-Kaap op ‘n redelik gereelde basis, en die meeste provinsies het nie ‘n JLC wat funksioneer nie. Selfs die JLC’s van Gauteng en die Wes-Kaap het nie ‘n behoorlike regstatus nie.

 

Die BELA Bill word nie by hierdie JLC’s bespreek nie en hulle kan geen insette lewer in die Bill nie. Daar kan dus nie deur middel van hierdie strukture betekenisvol oor die BELA Bill gekonsulteer word nie. 

 

Sekere lede van hierdie JLC’s dien op die nasionale taakspan wat adviseer oor die tuisonderwysregulasies wat die DBO wil uitvaardig sodra die BELA Bill wet geword het. Die DBO gebruik die huidige BELA Bill as basis vir hierdie regulasies, en die tuisskolers is van mening dat alternatiewe weergawes van die Bill in berekening gebring behoort te word, aangesien die BELA Bill moontlik nie in sy huidige formaat as wet aanvaar sal word nie.

 

Ouers in staatskole word deur Skoolbeheerliggame en Skoolbeheerliggaam-verenigings verteenwoordig op verskillende strukture wat in terme van die National Education Policy Act (NEPA) ingestel is.  Wanneer die Minister beleid of wet maak, vereis NEPA dat die Minister liggame soos die Council of Education Ministers, die National Education and Training Council en die Education Labour Relations Council moet raadpleeg. Die tuisonderwyssektor word egter nie in enigeen van hierdie liggame verteenwoordig nie.

 

Ter opsomming kan daar gesê word dat daar om die volgende redes dus geen betekenisvolle konsultasie met tuisskolers was nie:

 

  • Versoeke om met die taakspan te ontmoet wat die BELA Bill hersien is nie toegestaan nie.
  • Die DBO het by uiters min geleenthede met ‘n paar tuisskolers ontmoet.
  • Tuisskolers word nie verteenwoordig in formele strukture waar hulle sienings aangehoor kan word nie.

 

Wanneer jy ‘n mondelinge of geskrewe voorlegging maak aan die PCBE of in die tweede fase wat deur die NCOP (National Council of Provinces) gelei sal word, kan jy hierdie komitees versoek om betekenisvol met tuisskolers te konsulteer deur van hulle voorleggings kennis te neem.

 

Jy kan ook vir die volgende vra:

 

  • As daar nie ‘n funksionerende JLC in jou provinsie is, vra dat ‘n JLC in jou provinsie gestig word. Stel by jou provinsiale vereniging vas wat die toedrag van sake in jou provinsie is.
  • Vra dat lede van die JLC in jou provinsie op die National Task Team moet dien, wat aan die regulasies werk.
  • Versoek dat die BELA Bill of die National Education Policy Act gewysig word sodat tuisskolers dieselfde reg op verteenwoordiging het soos wat almal anders in die onderwyssektor het.

 

Tydens die verhore is daar genoem dat tuisskolers aan die provinsiale onderwysdepartement onderhorig moet wees. As so ‘n stelling in ‘n verhoor gemaak word wat jy bywoon, kan jy daarop wys dat dit onregverdig is dat tuisskolers aan die provinsiale onderwysdepartement onderhorig moet wees, terwyl hulle nie dieselfde reg op verteenwoordiging het wat Beheerliggame, studente en vakbonde het nie. Klousule 37 van die BELA Bill behoort nie deur te gaan tensy die wet verander word sodat tuisskolers gelyke reg op verteenwoordiging verkry nie. Dit behoort in die National Education Policy Act (NEPA) gedoen te word, wat tans nie onder bespreking is nie. Jy kan redeneeer dat dit beter sou wees om Klousule 37 te verwyder, en ‘n tweede BELA Bill te skryf, waarin NEPA ook gewysig word.

 

'N ANTWOORD LAAT

Please enter your comment!
Please enter your name here