Huis Nuus Pestalozzi Trust: Hersieningsaansoek ingedien

Pestalozzi Trust: Hersieningsaansoek ingedien

3203
0

Die Pestalozzi Trust kondig met genoeë aan dat die Trust gister, op 14 Mei 2019, prosesstukke op die Minister van Basiese Onderwys en die Direkteur-Generaal in die Departement van Basiese Onderwys bedien het met die doel om die regsproses te inisieer om die Beleid op Tuisonderwys (2018) tersyde te stel.

Ons prosesstukke is bedien binne die tydperk van 180 dae wat ingevolge die PAJA-wet (die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid, of die “Promotion of Administrative Justice Act”) toegelaat word vir die hersiening van ‘n administratiewe handeling. Hierdie tydperk verstryk vandag, die 15de Mei, aangesien die Beleid op Tuisonderwys op 16 November 2018 aangekondig is.

Hierdie aansoek is die uiteinde van ‘n projek wat die Trust begin het die oomblik toe die Beleid in November 2017 vir openbare kommentaar gepubliseer is. Ons wil ‘n ieder en ‘n elk bedank wat aan die Departement van Basiese Onderwys (DBO) geskryf het om uitstel te vra vir kommentaar, wat ‘n voorlegging gemaak het, wat dringend geskryf of gebel het om die minister te vra om die besluit oor die Beleid uit te stel, en elkeen wat die Trust lojaal deur dik en dun ondersteun het. Elkeen van julle handelinge word in ons openingsverklaring vervat, en sodoende is elkeen van julle deel van hierdie saak. Daarvoor sê ons uit die hart uit baie, baie dankie. Baie dankie ook aan die Verenigings wat die Trust ondersteun het in hierdie werk, asook aan diegene wat so hard gewerk het om tuisonderwys in die media te verteenwoordig.

Hierbenewens is die Trust sedert 2017 deurgaans betrokke in ‘n voortgaande proses van kommunikasie met die Departement van Basiese Onderwys. As deel daarvan probeer ons om die saak van tuisskolers te stel en om so ver moontlik konflik te vermy. Ongelukkig het die Departement nie hul weg oopgesien om konstruktief met ons te kommunikeer nie, en daarom het die Trust hierdie aksie geloods. Die rekord van hierdie kommunikasie maak ook deel uit van ons saak. 

Die wetlike aspekte van die besluit om die Beleid regtens te bevraagteken is baie kompleks, en so ook die proses om so ‘n aksie te loods. Om ons in hierdie proses te begelei, kon ons van die dienste van die land se top kundiges in administratief- en grondwetlike reg gebruik maak.

 
Ons is in ‘n posisie om hierdie regsaksie te loods danksy die lojale en toegewyde ondersteuning van ons lede oor die jare. Die Trust word vanjaar 21, en kyk met nederigheid terug op die ondersteuning wat ons ontvang het en die vertroue wat julle oor al daardie jare in ons gestel het. Ons wil ook graag al die nuwe lede bedank wat in sulke groot getalle by die Trust aangesluit het die afgelope jaar. Die stryd vir tuisonderwys sal nog baie jare lank voortduur, en julle bou nou op die fondament wat 21 jaar gelede gelê is. 

Die aansoek om die Beleid tersyde te stel, is egter slegs ‘n voorloper van ‘n potensiële lang en duur geveg oor die voorgestelde BELA Bill. Hierdie geveg sal in die media, in die parlement, in die provinsiale wetgewers en die howe plaasvind. Die BELA Bill is steeds ons grootste strategiese bedreiging. Indien die BELA Bill in sy voorgestelde formaat aanvaar word, sal dit in die hoogste hof bestry moet word. Dit is ‘n bedreiging wat nie geïgnoreer of gering geag kan word nie. Daarom gaan ons voort met ons regsvoorbereiding, met ons veldtogte en met ons werk met die politici van verskillende partye op provinsiale en nasionale vlak. 

Om die BELA Bill te verslaan, gaan ons ons kragte moet saamsnoer, en ons is seker dat ons steeds op julle ondersteuning sal kan staat maak in die stryd om vryheid in die onderwys in Suid-Afrika.

NS: Kontak gerus die Trust by defensor@pestalozzi.org ingeval julle enige vrae het. Indien dit regstegnies ‘n komplekse vraag is, kan ons nie beloof om dadelik ‘n antwoord te verskaf nie. Hierdie saak is nou onderhewig aan ‘n formele regsproses, en ons regspan sal alle kommunikasie wat die saak kan beïnvloed, moet keur. 

'N ANTWOORD LAAT

Please enter your comment!
Please enter your name here