Huis Nuus BELA Bill: Voorleggings is in!

BELA Bill: Voorleggings is in!

4909
2

BELA Bill gepubliseer vir kommentaar

Die Pestalozzi Trust het op 10 Januarie 2018 ‘n tweede, meer omvattende voorlegging oor die BELA Bill aan Adv Deon Rudman van die DBO gestuur. Hierdie voorlegging vervang die oorspronklike voorlegging van die Pestalozzi Trust.

Op 13 Oktober 2017 is die Konsepwysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette, die “Draft Basic Education Laws Amendment Bill (BELA Bill)gepubliseer vir publieke kommentaar. Die publiek is slegs 4 weke gegun om kommentaar te lewer oor die wetsontwerp, en tuisskoolorganisasies is nie vooraf oor die publikasie van die wetsontwerp gewaarsku nie.  Die BELA Bill stel wysigings aan hoofsaaklik die SA Skolewet (84/1996) voor. Dit kom neer op ‘n streng toename in beheer oor tuisskolers, deur onder andere verpligte jaarlikse assesserings deur “kompetente” assessors. Verder word die kurrikulum beperk tot ‘n kurrikulum wat ten opsigte van inhoud en vaardighede met die nasionale kurrikulum ooreenstem, en word die skoolverlaterskwalifikasies vir tuisskolers beperk tot die Suid-Afrikaanse matriek. Die straf vir nie-skoolbywoning/nie-registrasie word verhoog van 6 maande tot 6 jaar tronkstraf.

Die tuisonderwysgemeenskap in Suid-Afrika het op hierdie uitdaging gereageer deur ‘n oorweldigende aantal voorleggings in te stuur: die beste belange van hul kinders is immers op die spel. Met die BELA Fact Sheet Feiteblad, asook die riglyne en template wat die Pestalozzi Trust verskaf het, het lede en ondersteuners van die Pestalozzi Trust ‘n indrukwekkende aantal voorleggings teen 10 November 2017, die sluitingsdatum, ingestuur. Die Pestalozzi Trust, asook die onderskeie Tuisskoolverenigings, het ook hulle voorleggings ingestuur. ‘n Groot aantal cottage schools of mikroskole het ook hul kommentaar oor die BELA Bill ingestuur. Daar word geen voorsiening gemaak vir word gemaak vir cottage schools, mikroskole of leersentrums in die BELA Bill nie.

Konsepbeleid oor Tuisonderwys gepubliseer

‘n Week na die sluitingsdatum vir kommentaar oor die BELA Bill het nog ‘n storm die tuisonderwysgemeenskap in Suid-Afrika getref: die Konsepbeleid oor Tuisonderwys  is op 17 November 2017 vir kommentaar gepubliseer. Mnr Christopher Cordeiro, konsultant van die Pestalozzi Trust, som die beleid soos volg op: “The policy is based on sound principles, but the practical provisions are unworkable and in fact violate the very principles the DBE articulates in the policy document itself.”  Weer eens is ‘n baie kort tydjie vir kommentaar gegun, naamlik slegs 3 weke, tot 8 Desember 2017. Baie versoeke om uitstel is aan Me Phindile Ngcobo gerig. Sy is die DBO-amptenaar verantwoordelik vir die kommentaar oor die Konsepbeleid. Alhoewel baie kommentaar teen die sluitingsdatum ingestuur is, het die Minister uiteindelik die sluitingsdatum vir kommentaar uitgestel na 31 Januarie 2018. Soos adv  Rudman, met wie die Pestalozzi Trust ooreengekom het dat diegene wat anonieme voorleggings wil doen , dit deur die Pestalozzi Trust kan doen, het Me Ngcobo ook ingestem om anonieme voorleggings oor die Konsepbeleid oor Tuisonderwys deur die Pestalozzi Trust te aanvaar.

Uitstel verleen by Portefeuljekomiteevergadering

By die Portefeuljekomiteevergadering in die Parlement op 28 November 2017 het die Direkteur-Generaal van die DBO, mnr Mathanzima Mweli, die kommentaar wat oor die BELA Bill ingedien is as ‘n vloedgolf (“an avalanche”) beskryf, wat hy volgens hom nog nooit tevore in sy loopbaan in die staatsdiens ervaar het nie. ‘n Aantal tuisskolers het die vergadering bygewoon. Op dieselfde dag het die Adjunk-Minister van Basiese Onderwys, mnr Enver Surty, die sluitingsdatum vir kommentaar oor die BELA Bill uitgestel na 10 Januarie 2018.

Anonieme voorleggings afgelewer

Die DBO het ingestem dat besorgde ouers hul voorleggings oor die BELA Bill aan die DBO anoniem, deur die Pestalozzi Trust, kon voorlê. Volgens die ooreenkoms met advokaat Rudman is hierdie anonieme voorleggings op 15 Desember 2017 aan hom oorhandig. Dit was die enigste datum wat hy beskikbaar was vir die oorhandiging daarvan. Mev Karin van Oostrum, Uitvoerende Bestuurder van die Pestalozzi Trust, is na die vergadering vergesel deur haar dogter en skoonseun, Cornelia en Cilliers Marais, asook deur mev Elsabe Coertze, die prokureur wat die Pestalozzi Trust in die anonimiseringsproses bygestaan het. ‘n Kleiner aantal anonieme voorleggings wat na die sluitingsdatum ingestuur is, is later afgelewer.

Op die foto’s is oud-tuisskolers Cilliers en Cornelia Marais, en Joanette le Cornu. Hulle het gehelp om die briewe te anonimiseer, en hierdie proses het verbasend baie ure opgeneem. Ook Karin van Oostrum en haar dogter, Cornelia Marais, toe hulle die anonieme voorleggings aan adv Rudman van die DBO gaan aflewer het.

‘n Uiters suksesvolle veldtog!

Mnr Bouwe van der Eems, Voorsitter van die Pestalozzi Trust, het die volgende kommentaar gelewer oor die aantal briewe wat die BELA Bill en die Konsepbeleid gegenereer het:

As ‘n mens die briewe wat aan homeschoolfreedom1996@gmail.com gestuur is as maatstaf neem, het die tuisonderwysgemeenskap die volgende aantal briewe gegenereer:

  • 280 briewe wat uitstel vra vir die sluitingsdatum van kommentaar oor die BELA Bill
  • 990 briewe, waarvan 440 anoniem, met kommentaar oor die BELA Bill
  • 110 briewe wat uitstel vra vir die sluitingsdatum vir kommentaar oor die Konsepbeleid
  • 700 briewe met kommentaar oor die Konsepbeleid

Daar word bereken dat daar ongeveer 100 000 tuisskoolgesinne in Suid-Afrika is. Hierdie beweging het ongeveer 2200 briewe aan die DBO gegenereer. Dit lewer ‘n ouerdeelnamekoers van ongeveer 2.2%.

FEDSAS is die liggaam wat Skoolbeheerliggame (“School Governing Bodies of SGBs) verteenwoordig, en het ongeveer 2070 lede. As ons aanvaar dat elke lid ongeveer 300 ouers verteenwoordig, verteenwoordig FEDSAS ongeveer 621 000 ouers. Volgens die DBO het hulle ongeveer 6000 besware teen die BELA Bill ontvang, waarvan ongeveer 1000 van tuisskolers gekom het. Dit lewer ‘n ouerdeelnamekoers van ongeveer 0.8%.

Om ‘n idee te kry van die beduidenheid van die persentasie ouerdeelname, is dit nuttig om die deelname aan hierdie veldtog te vergelyk met die volgende.

Die Stadsraad van Kaapstad (City of Cape Town, COCT) het deelname deur die publiek versoek oor ‘n voorgestelde droogteheffing. Om die Kapenaars te mobiliseer, is die Facebookgroep “Stop COCT”geskep. Dit het belastingbetalers gemobiliseer om ongeveer 50 000 besware in te stuur. As daar ongeveer 700 000 belastingbetalers is, gee dit ‘n huishoudingsdeelnamekoers van 7%. As daar egter aanvaar word dat die gemiddelde huishouding uit 3 volwassenes bestaan, is die inwonersdeelnamekoers 2.3%.

Alhoewel die Kaapstadveldtog op die oog af net so suksesvol soos die tuisonderwysveldtog is, moet ‘n mens die volgende faktore in gedagte hou:

  • Tuisonderwysgesinne moes hul eie briewe skryf en dit aan die DBO stuur, terwyl die webblad van die Kaapstadveldtog dit baie maklik gemaak het om ‘n e-pos te genereer.
  • Baie tuisonderwysgesinne was onwillig om ‘n e-pos aan die DBO te stuur, en hulleself sodoende aan vervolging deur die DBO bloot te stel. Daarom is ongeveer 45% van die voorleggings anoniem gestuur. Daar is waarskynlik ook ‘n aansienlike aantal ouers wat nie kans gesien het om enigsins kommentaar in te stuur nie, as gevolg van die risiko’s daaraan verbonde.
  • Tuisonderwyswetgewing is ‘n baie meer komplekse onderwerp as droogteheffings.

 Aangesien tuisskoolouers aan meer risiko’s en kompleksiteite blootgestel was as die Kapenare, kan die tuisskolers se veldtog ten gunste van positiewe tuisonderwyswetgewing beskou word as een van die mees suksesvolle en geseënde deelnemingsveldtogte in die geskiedenis van Suid-Afrika.

2 KOMMENTAAR

  1. Ek is n opgeleide werklose onderwyseres. n Ouer het my genader om tuisonderrig aan haar kind te gee. Help ons asseblief om handboeke, leesboeke te kry. Die dbo wil mens nie eintlik van hulp wees nie. Hoe doen ek assessering. Moet ek aansluit by n skool?

'N ANTWOORD LAAT

Please enter your comment!
Please enter your name here