Verslag oor die GHEC2016 Rio de Janeiro

    2653
    0

    Rio mistig

    Die Global Home Education Conference (GHEC) 2016-konferensie het in Maart 2016 in Rio de Janeiro in Brasilië plaasgevind. Die Pestalozzi Trust se Raad van Trustees het drie van die trustees na die konferensie in Brasilië gestuur. Dit was ‘n groot uitgawe, maar ’n wonderlike ondervinding om met soveel tuisskolers vanoor die hele wêreld kon skakel. Dit het vir ons ook duidelik geword dat die werklike en potensiële voordele vir Suid-Afrikaanse tuisskolers weldeeglik die koste en moeite werd was.

    Dit is die tweede wêreldkonferensie wat gehou is – die vorige een is vier jaar gelede in Berlyn, Duitsland, gehou. Leendert was op die organiserende komitee van albei konferensies, en hy en Karin het albei bygewoon. Hierdie keer het Bouwe van der Eems ook die konferensie bygewoon. Die enigste ander verteenwoordiger uit Afrika was Liz Gitonga van Kenia, wat ons voorheen in Berlyn en Nairobi, Kenia, ontmoet het.

    Soos die vorige konferensie, is die konferensie deur meer as 200 verteenwoordigers van ongeveer 24 lande bygewoon. Hierdie konferensie was ook ‘n driedaagse konferensie, met twee dae van voor-konferensie-werkswinkels. In Berlyn is die aanbiedings gelyktydig vertaal in Engels, Duits en Russies. In Brasilië was die amptelike vertalings in Engels en Portugees, terwyl baie sessies ook fluistervertaal is in Spaans. Video’s van feitlik al die aanbiedings is gratis op die webblad van die GHEC beskikbaar.

    Die hoofspreker was die bekende TED-spreker, prof Sugata Mitra, wat bekend is vir die “Hole-in-the-Wall”-tegnologie, “Self Organised Learning Environments” en “Minimally Invasive  Education”. Die ander sprekers was hoofsaaklik van Europa, en Noord- en Suid-Amerika.

    Onder die sprekers was prof. Jan de Grooff van België, een van die vernaamste kenners op die gebied van onderwysreg in die Europese Unie. Die Universiteit van Pretoria het aan prof. de Grooff  ‘n ere-doktorsgraad  toegeken vir sy werk oor onderwysreg in Suid-Afrika. Die konferensie is ook toegespreek deur Sy Koninklike Hoogheid die Hertog van Braganza (die titulêre koning van Portugal), wat  aktief die beskerming van die gesin in Europa en in die Portugees-sprekende wêreld bevorder.

    Namens die Suid-Afrikaanse kontingent het Leendert drie en Bouwe twee aanbiedings gedoen. Leendert was ook voorsitter by een van die paneelbesprekings.

    Die hoogtepunt van die konferensie was moontlik die toevoeging van ‘n navorsingsbeen, wat baie referate  vanoor die hele wêreld ontvang het.  Die tien beste referate sal in boekformaat deur ‘n Amerikaanse akademiese uitgewer gepubliseer word. Die wenner  van die prys van ongeveer 10000 USD vir die beste referaat was prof. Ingo Richter van Berlyn. In sy referaat beredeneer hy die reg op tuisonderwys uit die perspektief van die regte van die kind, in plaas van uit die perspektief van die regte van die ouer.

    Hy noem dit ‘n nuwe wyse om die reg op tuisonderwys te begrond, maar sy argumente is presies dieselfde as dié wat die Pestalozzi Trust die afgelope 20 jaar gebruik! (Die argumente vorm die basis van ‘n artikel van Leendert wat in 2014 in ‘n Britse opvoedkundetydskrif gepubliseer is.)

    Dit was ‘n baie geleë tydstip om die konferensie in Brasilië te hou, want daar was toe juis ’n grondwetlike hofsaak oor tuisonderwys aan die gang. Veertien van die 26 state in Brasilië staan die grondwetlikheid van tuisonderwys teë in Brasilië.  Danksy die wye verteenwoordiging by die konferensie was dit moontlik om ‘n span van ‘n halfdosyn van die top regsbreins vanoor die wêreld bymekaar te maak om die Brasiliaanse regspan te adviseer. Suid-Afrika was ook deel van die adviserende span. Intussen het ons die goeie nuus ontvang dat die tuisskoolgesin die hofsaak gewen het, en dat hierdie saak as ’n goeie presedent in die Brasiliaanse howe kan dien vir ander tuisskoolgesinne.

    Interessant genoeg was vier van die vyf BRICS-lande verteenwoordig. China was slegs verteenwoordig in die persoon van ‘n akademiese navorser, wat ‘n navorsingsreferaat voorgedra het, maar Brasilië, Rusland en Suid-Afrika was goed verteenwoordig. In al drie hierdie lande is ouers desperaat op soek na alternatiewe tot die wankelende staatsonderwysstelsel.

    Een van die uitloopsels van die konferensie was die uitvaardiging van die Rio Principles , wat ’n opsomming van die internasionele reg oor tuisonderwys is. Leendert was een van die vier opstellers van die dokument, wat verkrygbaar is op die webblad van die GHEC.

    Alles in ag genome het dit baie goed gegaan met die konferensie, en die gevolge daarvan sal tuisonderwys blywend beïnvloed in die toekoms. Die verteenwoordigers van die Trust kon goeie netwerke vestig, wat ons beslis nodig sal kry wanneer Suid-Afrika ook in ’n stryd gewikkel raak teen die hersiene wet en beleid oor tuisonderwys in Suid-Afrika.

    'N ANTWOORD LAAT

    Please enter your comment!
    Please enter your name here