Huis Nuus #GebreekteBELA – BELA is Gebreek

#GebreekteBELA – BELA is Gebreek

82
0

Nuusbulletin: OnderwysvryheidUitgawe 6 – 9 Februarie 2026

‘n Gereelde opdatering deur die Pestalozzi Trust oor ontwikkelinge op die gebied van die reg, beleid en aktivisme, soos dit tuisonderwys in Suid-Afrika raak

Dit is nou ‘n jaar sedert die BELA-wet ‘n sperdatum opgelê het vir die registrasie van bestaande tuisskolers. Ouers wat op daardie stadium reeds besig was om te tuisskool het tot 23 Januarie 2025 gehad om te registreer. Dus was 23 Januarie 2026 presies twaalf maande sedert daardie sperdatum. ‘n Volle jaar is lank genoeg om te kan oordeel of die onderwysdepartemente kan doen wat die wet van hulle vereis, dit wil sê, aansoeke ontvang, dit verwerk binne die wetlik toegelate tydraamwerk, en sertifikate uitreik.

Die Pestalozzi Trust, sy lede en ander tuisskolers het gewaarsku dat die BELA-wet nie voldoende voorsiening maak vir tuisonderwys nie, dat navorsing nodig is voor dit geïmplementeer kan word, en dat die stelsel nie in praktyk werkbaar sal wees nie.

‘n Jaar later is hulle reg bewys. Die BELA-wet is stukkend.

Afgesien van die groot kontroversiële kwessies, soos assessering wat moet geskied “teen ’n standaard wat nie minderwaardig is teenoor die standaard in die Nasionale Kurrikulumverklaring bepaal nie”, is daar basiese kwessies wat steeds problematies is.

‘n Basiese Administratiewe Padblokkade

Na ‘n jaar kan die Departement van Basiese Onderwys (DBO) nog steeds nie sê hoeveel tuisskolers daar in Suid-Afrika is nie. Dit beteken dat hulle nie eers op die mees basiese vlak kan bepaal of die BELA-wet sy doelwitte behaal nie.

Duisende tuisskolers het tot en met 23 Januarie 2025 en sedertdien geregistreer, maar die vraag is: Watter persentasie is dit van alle tuisskolers in Suid-Afrika – 60%, 80% of 90%?

Afgesien van daardie persentasie, kan die provinsiale onderwysdepartemente nie betyds registrasiesertifikate uitreik nie. Die Pestalozzi Trust het van 27 Julie 2025 tot 27 November 2025 ‘n landswye registrasie-opname gedoen. Teen die afloop daarvan het slegs ongeveer 20% van die duisende wat aansoek gedoen het hul sertifikate ontvang, soos die uittreksels uit die peiling-resultate hieronder toon.

Peiling: Tuisonderwys-registrasie Suid-Afrika – 2025

Jou kans om ‘n sertifikaat te ontvang, hang dus blykbaar af van die provinsie waarin jy jou bevind.

Gauteng staan uit met ‘n hoër gerapporteerde goedkeuringstempo van 40.37%, maar volgens ‘n derde van die aansoekers het hulle nog geen antwoord ontvang nie.

Die Wes-Kaap toon ‘n baie hoë reaksie van ‘n “soort antwoord” (nie ‘n goedkeuring of afkeuring nie) met 77.20%. In die Wes-Kaap het die WKOD later ‘n meer intensiewe registrasie-aksie begin deur sertifikate te begin uitreik nadat die 60 dae verstryk het, en hul aantal sertifikate wat uitgereik is het hulle opgestoot het sedert die opname voltooi is.

KwaZulu-Natal se syfers steek sleg af, met slegs 1.69% goedkeurings en 40.68% wat geen reaksie gekry het nie. Dit impliseer dat aansoeke basies geïgnoreer is.

In die Oos-Kaap en Noordwes is die “geen reaksie”-syfers besonder hoog, en dit bevestig wat gesinne in die praktyk rapporteer: aansoeke verdwyn eenvoudig, in ‘n proses wat nie binne ‘n voorspelbare tydperk met ‘n sertifikaat afsluit nie.

Dit plaas die soeklig op ‘n groter probleem, naamlik dat die meeste provinsies nie die 60-dae-afsnydatum as ‘n werklike wetlike afsnydatum hanteer nie.

Die 60-dae Reël word as Opsioneel beskou

Die rede vir die agterstand is voor-die-hand-liggend. In die meeste provinsies word sertifikate nie uitgereik wanneer 60 dae verloop het nie. In plaas daarvan word daar 60 dae, 90 dae, 120 dae, of selfs ‘n jaar nadat die aansoek ingedien is, eers met die verwerking van die aansoek begin.

Dit bots met die aard van die reg wat hier ter sprake is: Die reg op basiese onderwys moet onmiddellik verwerklik word, en leerders behoort hul sertifikate te ontvang nadat die 60 dae verstryk het wat die Parlement toelaat vir die verwerking daarvan.

Assesserings en Inkennisstellings?

Die administratiewe faling het praktiese gevolge.

Die BELA-wet vereis dat tuisskolers assesserings en inkennisstellings aan die einde van elke fase indien, maar die meeste aansoekers het nog nie hul sertifikate en registrasienommers van die provinsiale onderwysdepartemente (POD’s) ontvang nie.

Afgesien daarvan dat niemand nog in kennis gestel is hoe daardie assesserings moet lyk nie, werk die stelsel nie wanneer net ongeveer een uit elke vyf gesinne ‘n sertifikaat en registrasienommer het waaraan die inkennisstelling of assessering gekoppel kan word wanneer hulle dit instuur nie, wat nog te sê van hoe die POD dit gaan liasseer.

Iets wat WEL werk: “Deemed approved after 60 days”

Daar is een beskerming in die wet wat duidelik is en wat wel werk.

As 60 dae verloop het, en ‘n ouer het ‘n bewys dat ‘n aansoek ingedien is, word die kind geag geregistreer te wees, en dan beskerm die BELA-wet die ouer en kind teen arbitrêre kansellasie van die registrasie.

Dit is hierdie deel van die wet wat as ‘n wetlike beskerming dien, selfs as die administrasie faal.

BELA is Gebreek

‘n Jaar na die sperdatum van 23 Januarie 2025 is die resultate duidelik. ‘n Sperdatum is aan die tuisskoolgesinne opgelê, maar in baie provinsies kom die staat self nie hul eie wetlike spertydperk na waarin hulle aansoeke moet goedkeur en sertifikate moet uitreik nie. Die resultate van die opname toon dat die sukses van die proses baie afhang van waar ‘n kind woon.

Waar die 60-dae-tydperk as opsioneel beskou word, kan die registrasiestelsel nie as ‘n werkbare basis dien vir verdere wetsafdwinging, soos assesserings en inkennisstellings nie, want die meeste aansoekers het nog steeds nie die sertifikate en registrasienommers wat die stelsel vereis nie.

Tot tyd en wyl die departemente daarin slaag om aansoeke binne 60 dae te verwerk en konsekwent sertifikate in al die provinsies uitreik, bly die BELA-raamwerk vir tuisonderwys steeds onbruikbaar en is dit onses insiens onwaarskynlik dat dit ooit bruikbaar sal word.

Nuusbulletin: Onderwysvryheid word deur die Pestalozzi Trust gepubliseer – sedert 1998 ‘n kampvegter vir tuisonderwys in Suid-Afrika.

'N ANTWOORD LAAT

Please enter your comment!
Please enter your name here