Huis Uncategorized Nuusbulletin: Onderwysvryheid

Nuusbulletin: Onderwysvryheid

520
0

Uitgawe 1 – 31 Julie 2025

‘n Gereelde opdatering van die Pestalozzi Trust oor ontwikkelings op die gebied van die regte, beleid en aktivisme, soos dit tuisonderwys in Suid-Afrika raak.


1. Toekomende Regulasies Neem Vorm Aan: ‘n Kritieke DBO-kontaksessie

Op Maandag 28 Julie 2025 het die Departement van Basiese Onderwys (DBO) ‘n gesamentlike vergadering byeengeroep van die Nasionale Taakspan (National Task Team) en ‘n forum van belanghebbendes. Tydens die forum vir belanghebbendes is teenwoordiges opgedateer oor die ontwikkeling van regulasies onder die BELA-wet wat onlangs van krag geword het. Die Nasionale Taakspan het sy werk voortgesit met die opstel van regulasies.

Die Pestalozzi Trust het albei vergaderings bygewoon, en het beklemtoon dat die kwaliteit en werkbaarheid van die regulasies van kritieke belang sal wees en sal bepaal of die BELA-wet op ‘n wettige en praktiese wyse geïmplementeer kan word.

Daar is opgemerk dat een van die primêre redes waarom daar sulke groot getalle voorleggings tydens vorige rondes openbare kommentaar was die feit is dat onpraktiese, onwettige of onwerkbare voorstelle gemaak is. Om ‘n herhaling hiervan te voorkom, het die Trust versoek dat regulasies in samewerking met alle belanghebbendes ontwikkel moet word en dat dit die geleefde werklikheid van tuisonderwys in Suid-Afrika moet weerspieël.

‘n Positiewe voorbeeld van so ‘n samewerking is die 2025 DBO-riglyne, wat — alhoewel dit nie volmaak is nie —85% van die 21 voorstelle ingesluit het wat die Pestalozzi Trust gemaak het. Hierdie voorstelle was die resultaat van konsultasie met ons lede en met die wyer tuisskoolgemeenskap.

Die Trust het verder aanbeveel dat die DBO nie tydens jaareindeksamens of oor die Desembervakansie openbare kommentaar versoek nie – ‘n praktyk wat in die verlede onnodige druk op ouers en kinders geplaas het, en veroorsaak het dat baie gesinne nie ten volle kdeelon neem nie.

Daar is nie ‘n duidelike tydlyn gegee vir die publikasie van konsepregulasies nie. Alhoewel die regulasies ver van voltooi is, beteken dit egter nie dat die DBO dit nie nog steeds skielike gaan publiseer nie. Die Trust sal aktief betrokke bly in die proses.


2. Wes-Kaapse Aanlyn Stelsel: van Geel na Groen Alarm

Op 24 Julie 2025 het die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys (PCBE) ingelig dat die provinsie besig was om ‘n geoutomatiseerde aanlyn registrasiestelsel vir tuisonderwys te finaliseer.  

Hulle het aangedui dat die stelsel die volgende sou doen:

  • Aansoeke verwys vir kurrikulumhersiening
  • Die kwalifikasies van ouers nagaan
  • Gesinne willekeurig kies vir tuisbesoeke

Hierdie stellings het gelei tot ‘n Geel Alarm van die Trust, aangesien elk van die bogenoemde elemente potensiële grondwetlike en regsprobleme skep – veral in die lig van die bestaande bepalings in die SA Skolewet.

Na ‘n opvolgvergadering op 31 Julie het die WKOD egter sy posisie verduidelik. Mnr Alan J Meyer, Adjunk Direkteur-Generaal: Institusionele Ontwikkeling en Koördinasie, het verskoning gevra vir die foutiewe kommunikasie en die volgende bevestig:

  • Die stelsel sal nie inligting oor ouers se kwalifikasies versoek nie.
  • Die stelsel sal nie lukrake tuisbesoeke doen nie.
  • Die WKOD bly toegewy daaraan om die stelsel in lyn te bring met dit wat volgens hulle ten volle aan die BELA-wet voldoen.

Die Pestalozzi Trust het verskillende ander bekommernisse aangespreek tydens hierdie vergadering. Dit sluit die volgende in:

  1. Die feit dat aansoekers moet kan bewys dat hulle die aansoeke ingedien het om sodoende die 60-dae-klousule te aktiveer, ingevolge waarvan hulle geag word geregistreer te wees. Dit was nie duidelik dat dit moontlik sal wees in die weergawe van die stelsel wat aan ons vertoon is nie.
  2. Bevestiging dat vorms wat per hand ingevul en ingedien word steeds geldig en aanvaarbaar sal wees.
  3. Die feit dat die voorgestelde stelsel gebaseer is op die huidige aansoekvorm gebaseer is, het die Trust problematies gevind – veral wat betref leerders met spesiale leerbehoeftes.

Die WKOD het onderneem om hierdie probleme te eskaleer na die span wat die stelsel ontwikkel, en het aangedui dat ‘n formele geskrewe kommunikasie sal volg. Die Trust sal die verwikkelinge noukeurig monitor.


3. BELA-Wet Saak in die Nasionale Media

Die Pestalozzi Trust se Grondwetlike Hofsaak teen die BELA-wet het wye reaksie uitgelok in die nasionale media. Ons moedig lede en die publiek aan om hierdie berigte en onderhoude te deel. Dit sal help om broodnodige publieke aandag te help vestig op die grondwetlike en prosedurele kwessies in die Wet.

  • News24: “Home-schooling organisation challenges BELA Act in Constitutional Court”
    Lees artikel
  • Netwerk24 (Afrikaans): “Rubberstempel: Organisasie vir tuisonderrig daag BELA-wet in hoogste hof uit”
    Lees artikel
  • SalaaMedia Interview: “Did Government Just Break the Constitution? Parents Say YES – BELA Act in Hot Water!”
    Kyk na die onderhoud met die woordvoerder van die Pestalozzi Trust, Christopher Cordeiro.
    Kyk op YouTube
  • First Take SA Podcast: “Pestalozzi Trust filed ConCourt challenge against the BELA Act”
    Luister hier

Baie dankie aan al die mediamaatskappye wat die stemme van gesinne hoorbaar gemaak het, en ook die kritieke regskwessies rondom die BELA-wet belig het.


4. Nasionale Nie-Registrasie-Meningspeiling: Sê jou Sê

Vroeër vanjaar het die Trust ‘n loodspeiling gedoen om te verstaan waarom baie gesinne verkies om nie te registreer vir tuisonderwys nie. Die resultate wys op diepgaande en ernstige besorgdhede:

  • 58% glo dat die Staat geen rol speel in die onderwys van hul kinders nie
  • 47% vertrou nie die onderwysdepartement nie
  • 34% wil nie hul kurrikulumvryheid verloor nie
  • 32% is gekant teen staatsassesserings
  • 26% was besorg oor hoe hul data gebruik sou word

‘n Volledige meningspeiling word nou nasionaal geloods en ons moedig gesinne wat nie geregistreer het nie aan om hul redes te deel.

Dit is ‘n belangrike geleentheid om aan die publiek en die staat te demonstreer hoe ontevrede tuisskolers is en wat die werklike struikelblokke ten opsigte van registrasie is.

As jy nog nie jou tuisleerders geregistreer het nie, en graag jou redes wil laat tel, kan jy die peiling hier voltooi:
Doen die peiling


Laaste Gedagtes

Die maande nadat die BELA-wet van krag geword het, het getoon hoe belangrik dit is dat tuisonderwysgesinne waaksaam, ingelig en verenig bly, en ook regsondersteuning geniet. Die Pestalozzi Trust is gereed om jou regte te verdedig, of dit nou in die hof, in regulasievergaderings of in konsultasies oor regeringstelsels is.

Ons is dankbaar dat die WKOD gewillig is om in gesprek te tree, en vir die duisende gesinne wat steeds deur hul lidmaatskap, deelname en aktivisme ons werk ondersteun.

As jy moontlik nog nie ‘n lid van die Pestalozzi Trust is nie, of ‘n tuisskoolgesin ken wat nog nie lid is nie, is dit nou die tyd om aan te sluit. Lidmaatskap verseker dat ‘n tuisskoolgesin se regte beskerm word en dat die gesin se stem verteenwoordig word waar dit die meeste saak maak.

Om aan te sluit, kyk op: www.pestalozzi.org


Nuusbulletin: Onderwysvryheid word deur die Pestalozzi Trust gepubliseer – sedert 1998 ‘n kampvegter vir tuisonderwys in Suid-Afrika.

'N ANTWOORD LAAT

Please enter your comment!
Please enter your name here