Huis Tuis Mikroskole, sentrums en “cottage schools” Begin en Bedryf ‘n Mikroskool

Begin en Bedryf ‘n Mikroskool

Praktiese oorwegings. Ons aanvaar dat u nie ondersteuning nodig het met die praktiese aspekte van die vestiging van ‘n mikroskool nie (om leerders, onderwysers, ’n gebou en ’n kurrikulum in die hande te kry, en om aan munisipale regulasies te voldoen nie). As u graag wil adverteer, kan u by die facebook-groep Cottage Schools aansluit. ’n Ander manier om te adverteer is om die Learning Centre-poslys aan te sluit wat deur die Vereniging vir Tuisonderwys bedryf word. Wanneer u e-posadres by die Learning Centre Mailing List op www.sahomeschoolers.org bygevoeg is, sal u boodskappe van ouers ontvang wat op soek is na ‘n sentrum. Om tot hierdie poslys bygevoeg te kan word, moet u ’n e-pos stuur aan bouwe@tuisskolers.org. Die poslys is vertroulik en sal nie aan derdepartye bekendgemaak word nie.

Regs- en morele aspekte. Benewens die praktiese aspekte van die begin en bedryf van ‘n mikroskool is daar regsaspekte wat almal beïnvloed wat ‘n mikroskool/”cottage school”/leersentrum/tutorsentrum/klein privaatskool bedryf of bywoon, en ons verduidelik dit hieronder. Die Trust word gereeld deur die media en besorgde ouers gekontak wat onreëlmatighede in sekere sentrums/skooltjies rapporteer.  Die klagtes sluit in dat hierdie skole voorgee om “geregistreer” te wees, òf by die onderwysdepartement òf by die Pestalozzi Trust (in welke geval geen registrasiesertifikaat van die onderwysdepartement bestaan nie, en die skool ook nie lid van die Trust is nie); dat buitensporige fooie gehef word; en dat die skool die leerders glo by die onderwysdepartement “geregistreer” het as tuisleerders, wat by nadere ondersoek vals blyk te wees.

’n Mikroskool is nie tuisonderwys nie. Die wet maak voorsiening vir tuisonderwys (onderwys in die kind se eie huis) en vir staat of onafhanklike onderwys. As die leerders hul dag op ’n ander plek as tuis deurbring, woon hulle ’n privaat of onafhanklike skool by, nie ‘n “tuisskool” nie, en kan die leerders nie vir tuisonderwys geregistreer word nie. Daar is kurrikulumverskaffers wat hul leersentrums “tuisonderwys” noem, maar hierdie bewering het geen grond in die wet nie. Die feit dat ’n instelling die kurrikulummateriaal van ’n tuisonderwysverskaffer gebruik, verander die wetlike situasie geensins nie.

Registrasie by die onderwysdepartement wettig die mikroskool. Daar word nie apart voorsiening gemaak vir die registrasie van ‘n klein skooltjie of ‘n mikroskool nie. Die wet sien ’n mikroskool as ’n onafhanklike skool, en om wettig te wees moet die skool as ’n onafhanklike skool geregistreer word. Al die vereistes van die provinsiale onderwysdepartement moet nagekom word. Een van die onwettige vereistes is byvoorbeeld dat die skool aan die KABV (“CAPS”) moet voldoen. Nog ’n vereiste wat die meeste mikroskole moeilik vind om aan te voldoen, is die vereiste (in die meeste provinsies) dat  ten minste 20 leerders nodig is alvorens ‘n skooltjie as onafhanklike skool kan registreer. Dit maak dit onmoontlik om te registreer as jy nie soveel leerders het of nie beplan om soveel te hê nie.

Ongeregistreerde onafhanklike skole. Dit is onwettig om ‘n ongeregistreerde privaat (onafhanklike) skool te bedryf, en die eienaar van so ‘n skool kan vervolg word en by skuldigbevinding gevonnis word tot 3 maande tronkstraf of ‘n boete. Ouers wat skoolpligtige kinders na sulke ongeregistreerde privaatskole stuur, kan ook vervolg word en by skuldigbevinding gevonnis word to 6 maande tronkstraf of ’n boete. Let egter daarop dat, ten spyte van die regsbedreiging, daar duisende sulke “onwettige” skole bestaan, aangesien daar miljoene desperate ouers is wat goeie onderwys vir hul kinders wil hê. Sulke “onwettige” skole word dikwels ook nie deur die owerhede vervolg nie.

Regsondersteuning. Ons stel voor dat mikroskole by die Pestalozzi Trust aansluit, of die dienste van hul eie gekose regspan gebruik, of hulle by die onderwysdepartement registreer of nie. Waarom is dit nodig?

  • Omdat dit so belangrik is, herhaal ons dit wat ons hierbo gesê het: As ‘n mikroskool NIE by die onderwysdepartement geregistreer is nie, kan die eienaar van die skool vervolg word en by skuldigbevinding vir 3 maande tronkstraf of ‘n boete gevonnis word. Die ouers wat hul skoolpligtige kinders by sulke ongeregistreerde skole inskryf, kan ook vervolg word en by skuldigbevinding gevonnis word tot 6 maande tronkstraf of ‘n boete.
  • As ‘n mikroskool WEL by die onderwysdepartement geregistreer is, kan die eienaar en die ouers vind dat die vereistes van die onderwysdepartement sodanig is dat dit vir hulle onmoontlik maak om in die beste belang van die betrokke leerders op te tree.

Wat van tutors? As ‘n leerder in sy/haar eie huis getutor word, word dit beskou as tuisonderwys. As sy permanent elders getutor word, woon die leerder ‘n skool by. Die tutor behoort dan as ’n onafhanklike skool te registreer. Dit sal miskien nie moontlik wees nie, indien daar te min tutorleerders is, of indien die tutor om ander redes nie kan registreer nie. Dit is raadsaam om by die Pestalozzi Trust aan te sluit vir regsondersteuning, of die skool nou kan registreer of nie.

Soneringsbeperkings. ‘n Skool sal ook by die munisipaliteit moet vasstel of daar enige soneringsbeperkings is op die eiendom waarop die eienaar beplan om die skool te bedryf.

Lidmaatskap van die Trust. ‘n Skool is welkom om aansoek te doen om lidmaatskap van die die Pestalozzi Trust – of die skool by die onderwysdepartement geregistreer is as ‘n onafhanklike skool of nie. Lidmaatskap van die Trust sal nie die skool wettig nie, maar daar sal ten minste iemand wees om die skool te ondersteun ingeval van enige konflik met die owerhede (die onderwysdepartement, welsyn of polisie). Lidmaatskap van die Trust sal die skool, sy personeel, die leerders en hul ouers dek. ‘n Ledeskool ontvang ook ‘n 24/7 noodnommer om in noodgevalle te gebruik.