
Uitgawe 2 – 15 Augustus 2025
‘n Gereelde opdatering deur die Pestalozzi Trust oor ontwikkelinge op die gebied van die reg, beleid en aktivisme, soos dit tuisonderwys in Suid-Afrika raak.
Hervorm die Fondamente: Pestalozzi Trust versoek ‘n Nuwe Regsraamwerk by SAELA-konferensie
By die 29ste jaarlikse Internasionale Onderwysregkonferensie van SAELA, die Suid-Afrikaanse Onderwysregvereniging (South African Education Law Association) van 3–6 Augustus 2025 in die Tuinroete het die Pestalozzi Trust ‘n formele voorlegging ingedien, waarin ‘n radikale transformasie van Suid-Afrika se regsargitektuur bepleit word.
Die konferensietema hierdie jaar — “Edvolution and the Law: Empowering Change, Embracing the Future” — kom op ‘n kritieke tydstip wanneer daar baie gedebatteer oor Suid-Afrika se onderwysbeleid. Die inwerkingtreding van die BELA-wet, asook die gebrek aan inklusiwiteit en aanpasbaarheid van ons onderwysregsraamwerk, was die dryfveer agter die Trust se wekroep.
Die regslandskap is verouderd
In sy voorlegging wys die Trust daarop dat Suid-Afrika se onderwyswetgewing nie in lyn met ons grondwetlike en internasionale verpligtinge ontwikkel het nie, en ook nie in lyn is met die ontwikkelinge oor die afgelope twee dekades op die gebied van kinderregte en onderwysdiversiteit nie.
Die Suid-Afrikaanse Skolewet (SASA) is in 1996 aanvaar en is deur die BELA-wet gewysig. Dit sluit egter nie onderwysmodaliteite soos aanlyn skole en onafhanklike mikroskole in nie. Dit is ook voor die Kinderwet (2005) en die Child Justice Act (2008) gepubliseer. Hierdie wette bevat albei kind-gesentreerde beginsels, wat duidelik nie in SASA en die BELA-wet voorkom nie.
Professor Mariëtte Reyneke (wat ‘n spreker was by die Trust se konferensie vroeër vanjaar, en wat herkies is as die President van SAELA) het dit so uitgedruk: “In contrast to the explicit child-centred requirement of the Constitution, the Schools Act does not have an explicit child focus.” Dit is ‘n fundamentele gebrek, en dit ondermyn die wetlike beskerming wat vir leerders beskikbaar is, veral vir diegene wat buite die hoofstroom publieke skole hul onderwys ontvang.
‘n Nuwe Regsargitektuur
In die Trust se voorstel word SAELA en die regsnavorsingsgemeenskap opgeroep om voorspraak te maak vir die ontwikkeling van ‘n nuwe, kindgesentreerde regsraamwerk wat alle vorme van onderwys akkommodeer — nie slegs skoolonderwys nie.
Die voorlegging bevat drie sleutelaanbevelings:
- ‘n Nuwe oorkoepelende Onderwyswet is nodig, wat ‘n breë opvatting van onderwys weerspieël, en wat Suid-Afrika se verbintenisse onder die Grondwet, Kinderwet en internasionale reg inkorporeer.
- Maak afsonderlik voorsiening vir onkonvensionele onderwysmodaliteite— soos tuisonderwys, aanlyn onderwys en onafhanklike mikroskole — òf as ‘n afsonderlike hoofstuk van die oorkoepelende Wet òf as ‘n aparte Wet, gewy aan onkonvensionele onderwys.
- Verseker regserkenning van kurrikulum- en assesseringsvryheid in alle onafhanklike onderwys, en die erkenning dat hierdie vryhede sentraal staan in onderwyskeuse en -pluralisme.
Die Trust glo dat “We are currently trying to crowd too much law under one roof,” en “We need a new architecture that accommodates education, not just schooling, in all its diversity.”
‘n Gulde Geleentheid
Ons voorlegging kom op ‘n tydstip wanneer die nasionale diskoers oor onderwysreg besig is om te verskuif.
Tydens die opening van die SAELA-konferensie het die Minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, in haar openingstoespraak gevra vir regshervorming sodat sistemiese ongelykheid aangevat kan word. Soos op 5 Augustus 2025 berig deur The Citizen, het die Minister erken dat die huidige regsraamwerk onvoldoende is en nie aan die behoeftes van alle leerders kan voldoen nie.
Die feit dat die staatsretoriek en die behoeftes van die burgerlike samelewing in hierdie geval so ooreenstem, skep ‘n gulde geleentheid vir hervorming. Die Trust maak dit egter in sy voorlegging duidelik dat hervorming verder moet gaan as die wysiging van bestaande wette, en dat daar eerder dieper vrae gevra moet word oor die verhouding tussen die staat, die leerder en die gesin.
Die Pad Vorentoe
Die Pestalozzi Trust is steeds toegewy daaraan om met navorsers, beleidmakers en onderwysspesialiste saam te werk om ‘n regsraamwerk tot stand te bring wat aan die volgende vereistes voldoen:
(1) Plaas die beste belange van die kind in die sentrum.
(2) Erken die volle diversiteit van opvoedkundige benaderings in Suid-Afrika.
(3) Beskerm die regte van gesinne en leerders in alle opvoedkundige modaliteite.
(4) Integreer die insigte van regsontwikkelinge van die afgelope drie dekades.
Die Trust hoop dat ons voorlegging tot debat en samewerking in die onderwysreg-gemeenskap in 2025 en vorentoe sal lei.
Die BELA-wet en die regulasies wat daaruit spruit is besig om die regsraamwerk in Suid-Afrika ‘n nuwe vorm te laat aanneem. Slegs volgehoue publieke deelname sal verseker dat onderwysvryheid steeds in die toekoms beskerm word.
Jy hoef nie ‘n tuisskoler te wees om standpunt te kan inneem nie. As jy ouerregte ondersteun, asook die reg van ‘n gesin om self te besluit hoe hul kinders opgevoed moet word, is jy welkom om as ‘n Assosiaatlid by die Pestalozzi Trust aan te sluit. Assosiaatlidmaatskap is oop vir almal wat ons missie deel. Die jaarlikse bydrae is R560 per gesin.
Deur aan te sluit help jy ons om voorbrand te maak vir ‘n regstelsel wat onderwysdiversiteit erken en respekteer. Sluit hier https://pestalozzi.org/sluit-aan/.
Nuusbulletin: Onderwysvryheid word deur die Pestalozzi Trust uitgegee – sedert 1998 ‘n kampvegter vir tuisonderwys in Suid-Afrika.
Op die foto: Karin van Oostrum (Pestalozzi Trust), Prof Mariëtte Reyneke (President: SAELA), Christopher Cordeiro (Pestalozzi Trust)



