Gesprekke met Wetgewers oor Tuisonderwys: Registrasie, Assessering en Nie-konvensionele Onderwysopsies
In die afgelope Juniemaand het die Pestalozzi Trust ‘n reeks konstruktiewe gesprekke gevoer met openbare verteenwoordigers in Gauteng, die Wes-Kaap en op nasionale vlak. Hierdie gesprekke het deel uitgemaak van die Trust se voortgaande werk om te verseker dat tuisonderwys op ‘n wettige, praktiese en kind-gesentreerde en gesinsvriendelike wyse gereguleer word.
Die Trust het met Agbare Sergio Dos Santos (DA MPL en Skadu-Minister van Onderwys in Gauteng) gesels en met Agbare Bishop Dalton Adams (ACDP MPL en “Chair of Chairs” in the Gautengse Provinsiale Wetgewer. In die Wes-Kaap het ons met Agbare Ferlon Christians (ACDP MPP) en Agbare Grant Marais MPP (Vryheidsfront Plus) van die Wes-Kaapse Provinsiale Parlement gesels, asook met Agbare Steve Swart MP en Agbare Wayne Thring MP (Vise-President van die ACDP op nasionale vlak). Ons is dankbaar dat hierdie publieke verteenwoordigers die tyd afgestaan het om ons te ontmoet en aandagtig aan die gesprekke kon deelneem.
Die Pestalozzi Trust tree in gesprek met publieke verteenwoordigers oor die hele politieke spektruem. Tuisonderwys raak kinders, gesinne, ouerlike verantwoordelikheid, onderwysvryheid, administratiefreg en die reg op basiese onderwys. Ons is dus dankbaar wanneer enige publieke verteenwoordiger bereid is om fyn te luister, vrae te stel en te help verseker dat die werklike ondervindinge van tuisonderwysgesinne gehoor word.
Ons is veral dankbaar teenoor voormalige MP Marie Sukers, tans van Voice to Parliament, wat konsekwent gesorg het dat tuisskolers se stemme in publieke en wetgewende gesprekke gehoor word. Danksy haar ondersteuning is deure geopen vir hierdie vergaderings, wat die geleentheid help skep het dat tuisskoolgesinne se stemme gehoor word daar waar besluite geneem word.
Die vergaderings het aan ons die geleentheid gebied om die praktiese probleme te verduidelik wat baie tuisskoolgesinne ervaar sedert die inwerkingtreding van die BELA-wysigings aan die SA Skolewet. Dit het die Trust ook in staat gestel om breër beleidsvrae te stel oor hoe tuisonderwys, saamwerkende tuisonderwys, tussentydse tuisonderwys en onafhanklike mikroskole tot die Suid-Afrikaanse onderwyslandskap kan bydra.

Karin van Oostrum (Pestalozzi Trust); Agbare Bishop Dalton Adams, ACDP MPL en “Chair of Chairs” in die Gautengse Provinsiale Wetgewer; voormalige MP Marie Sukers, nou van Voice to Parliament; Christopher Cordeiro (Pestalozzi Trust).
Registrasie
Die dringendste probleem is steeds registrasie.
Die BELA-wet het op 25 Desember 2024 in werking getree. Dit het beteken dat die aanvanklike 30-dae-aansoektydperk oor die feesseisoen geval het, wanneer Provinsiale Onderwysdepartemente heeltemal of gedeeltelik gesluit was, en dus nie teen volle kapasiteit kon funksioneer nie. Baie gesinne het desnieteenstaande probeer om aan die wet te voldoen en te registreer. Die probleem is dat die administratiewe stelsels in verskeie provinsies nie gereed was daarvoor nie, en die provinsies het gevolglik gesukkel om by te bly met die registrasieproses. Meer as ‘n jaar later wag baie gesinne nog steeds vir registrasienommers en -sertifikate.
Dis presies om hierdie rede dat die 60-dae-registrasie-klousule so belangrik is. Wanneer ‘n ouer aansoek gedoen het, en die Departement nie binne die wetlike tydperk antwoord nie, behoort die aansoek deur regswerking hanteer te word as ‘n aanvaarde aansoek, mits die ouer kan bewys dat die aansoek wel ingedien is. Die doel van hierdie klousule is om te voorkom dat kinders en gesinne benadeel word deur administratiewe vertraging. Dit is nie bedoel as ‘n nuwe obstruksie of ‘n rede om met ’n nuwe aansoek te begin nie.
Die Trust het dus klem gelê daarop dat aansoeke wat ouer as 60 dae is nie hanteer behoort te word as nuwe aansoeke nie. Gesinne behoort nie versoek te word om die proses van vooraf te begin, net omdat ’n departement nie die papierwerk verwerk het nie. Waar daar bewys kan word dat ’n aansoek ingedien is, behoort die leerder aangeteken te word as ’n geregistreerde leerder, en behoort ’n registrasiesertifikaat of -nommer onmiddellik uitgereik te word.
In ons 2025-registrasie-opname het dit geblyk dat baie gesinne nog steeds nie ‘n duidelike goedkeuring ontvang het nie. Landswyd het slegs 19.51% van die respondente rapporteer dat hulle kennis gekry het dat hulle aansoeke aanvaar is, terwyl 34.45% gerapporteer het dat hulle geen antwoord van die Provinsiale Onderwysdepartement ontvang het nie. ’n Verdere 45.87% het gerapporteer dat hulle “’n ander antwoord” ontvang het, en omdat sulke gesinne nooit ’n duidelike finale antwoord ontvang het nie, het dit hulle dikwels steeds in onsekerheid gelaat het oor hul registrasiestatus.
Die Trust het hierdie navorsing met die publieke verteenwoordigers gedeel met wie ons vergader het. Ons het verduidelik dat die syfers beduidend is en dat daar metodologiese beperkings is, maar dat dit meer as voldoende is om te toon dat daar ’n ernstige probleem met die implementasie van die registrasie-wetgewing is, wat toesig en behoorlike departementele rapportering noodsaak. Ons het dit ook duidelik gemaak dat die Trust beplan om verdere navorsing in Julie/Augustus te doen, wanneer ’n nuwe registrasietydperk begin. Hierdie opvolg-navorsing sal ons help om vas te stel of die provinsiale departemente al vordering gemaak het, of sertifikate al uitgereik word, of die leerders wat geag word geregistreer te wees wel as sulks erken word, en of daar ouers is wat steeds nie geholpe is nie. Die Trust het dus die behoefte geopper dat daar gereeld oor tuisonderwys gerapporteer moet word. As daar nie behoorlike syfers beskikbaar is nie, is dit moeilik vir Wetgewers, Komitees of die publiek om vas te stel of die stelsel regtig werk.

Christopher Cordeiro (Pestalozzi Trust); voormalige MP Marie Sukers, nou van Voice to Parliament; Agbare Grant Marais MPP (Freedom Front Plus) van die Wes-Kaapse Provinsiale Parlement; Karin van Oostrum (Pestalozzi Trust)
Assessering
Die volgende dringende kwessie is assessering.
Baie gesinne nader nou die einde van fases. Sommige leerders gebruik internasionale kurrikula, soos Cambridge, wat belangrike oorgange op verskillende tye van die jaar bereik. Ander leerders sal nader aan die einde van die jaar die einde van hul fase bereik. Gesinne het duidelike, geskrewe, publieke riglyne nodig oor wat van hulle verwag word.
Die Trust het dit beklemtoon dat riglyne vir assessering nie uitsluitlik verskaf kan word in informele vergaderings, individuele e-posse of mondelinge verduidelikings nie. Ouers het amptelike geskrewe riglyne van die Departemente nodig, sodat alle gesinne dieselfde inligting kan ontvang en hul onderwys op ‘n verantwoordelike wyse kan beplan. Die Trust het ook hul besorgdheid uitgespreek dat notifikasie en assessering onwettiglik in ’n herregistrasieproses omskep word. Gesinne wat reeds geregistreer is, of geag word geregistreer te wees, behoort nie in ‘n posisie geplaas te word waar onduidelike assesseringsvereistes gebruik word om wettige tuisonderwys in die wiele te ry nie.

Agbare Wayne Thring MP (Vise-President van die ACDP op nasionale vlak)
Tussentydse tuisonderwys
Die besprekings het ook aan tussentydse tuisonderwysgeraak.
Tussentydse tuisonderwys verwys na situasies waar ‘n kind tydelik by die huis geleer word omdat daar glad nie of tydelik nie plek in ‘n geskikte skool gevind word kan word nie. Hierdie gesinne tuisskool nie uit eie keuse nie. Hulle reageer op ‘n gebrek aan plasing of kapasiteit in ‘n skool. Daarom behoort tussentydse tuisonderwys as ‘n afsonderlike kategorie behandel te word, en behoort die gesinne ondersteun te word en die kinders so gou moontlik in ‘n publieke skool geplaas te word.
Hierdie leerders behoort nie onsigbaar te word nie. Departemente behoort te weet hoeveel leerders tydelik tuis is as gevolg van plasingsprobleme, hoe lank hulle al tuis is, watter ondersteuning hulle ontvang, en watter verdere stappe geneem word om hulle in ’n skool te plaas of om die gesin te ondersteun, indien hulle kies om wettiglik met tuisonderwys voort te gaan. Tussentydse tuisonderwys behoort nie gebruik te word om skoolplasingstekorte te verbloem nie, maar dit kan ’n noodsaaklike tydelike meganisme wees om ’n kind se reg op onderwys te beskerm terwyl ’n plasingskwessie opgelos word.
Indien tussentydse tuisonderwys soos tuisonderwys hanteer word, bestaan die risiko dat baie skool-eienskappe, wat van pas is as jy wag om jou kind in die skool geplaas te kry, uiteindelik ook ontoepaslik op langtermyn tuisskolers toegepas kan word.

Agbare Steve Swart MP
Saamwerkende tuisonderwys
Saamwerkende tuisonderwyswas nog ‘n belangrike tema in ons gesprekke.
Tuisskoolgesinne funksioneer nie in isolasie nie. Ouers werk byvoorbeeld saam vir uitstappies, wetenskap-aktiwiteite, debat, sport, musiek, tale, wiskunde, koöperatiewe leer-dae, praktiese vakke en sosiale aktiwiteite. Party gesinne organiseer tutors of spesialis-ondersteuning saam, maar elke ouer bly steeds verantwoordelik vir die onderwys van sy of haar eie kind.
Die Trust se posisie is dat saamwerkende tuisonderwys as ‘n wettige en positiewe eienskap van tuisonderwys erken moet word. Dit kan onderwys bevorder, isolasie verminder, ouers ondersteun en kinders meer geleenthede bied. Tegelykertyd moet dit duidelik van onafhanklike skole en kommersiële mikroskole onderskei word. Die sleutel is ouerlike verantwoordelikheid: in egte samewerkende tuisonderwys word die verantwoordelikheid vir die onderwys nie van ‘n ouer na ‘n skool, sentrum, organiseerder of ander besigheid oorgedra nie.
Behoorlike erkenning van saamwerkende tuisonderwys sal gesinne en ook amptenare help. Dit sal die wanopvatting voorkom dat ouers nie saam mag werk nie. ‘n Gebalanseerde raamwerk behoort gesinne toe te laat om saam te werk, hulpbronne te deel, tutors vir spesifieke vakke te gebruik en mekaar te ondersteun, sonder om in ontoepaslike regulatoriese raamwerke ingedruk hoef te word.

Agbare Sergio Dos Santos (DA MPL en Skadu-Minister van Onderwys in Gauteng)
Onafhanklike mikroskole
Tydens die vergaderings is onafhanklike mikroskoleook bespreek.
Onafhanklike mikroskole is nie dieselfde as tuisonderwys nie. Dit is klein, gemeenskapsgebaseerde onderwysomgewings, wat nog ‘n wettige opsie kan verskaf in gevalle waar daar te min plekke op skool beskikbaar is, of waar ’n gesin ’n kleiner, meer buigsame leeromgewing nodig het. Die Trust glo dat hierdie modelle versigtig, met gepaste regulasie, ondersoek kan word.
Hulle maak deel uit van ‘n breër onderwys-ekostelsel, veral waar gemeenskappe, ouers, afgetrede opvoeders, tutors of vakspesialiste gewillig is om te help om toegang tot kwaliteit onderwys uit te brei. In sommige gebiede sou afgetrede wiskunde- en wetenskaponderwysers ’n waardevolle rol kon speel as hulle saamwerkende groepe, mikroskole, rehabiliterende leerprogramme of vakklinieke kon ondersteun.

Agbare Ferlon Christians (ACDP MPP)
Voortgaande skakeling
As mens na die geheelprentjie kyk, is dit duidelik dat tuisonderwys nie meer ‘n bysaak is nie.
Die Trust sal steeds voortgaan om konstruktief met publieke verteenwoordigers, departemente en amptenare te skakel. Ons fokus bly duidelik: gesinne behoort nie in administratiewe onsekerheid vasgevang te word nie; die 60-dae-geag-geregistreer-te-wees-klousule behoort geïmplementeer te word; assesseringsvereistes moet duidelik, wettig en aan die publiek gekommunikeer te word; en Suid-Afrika behoort praktiese raamwerke te ontwikkel vir tuisonderwys, saamwerkende tuisonderwys, tussentydse tuisonderwys, asook kleinskaalse onafhanklike onderwyssituasies.












