Moenie onkant betrap word nie!

Gedurende die afgelope twee weke het die Pestalozzi Trust ‘n aantal noodoproepe op die noodnommer ontvang. Dit wil voorkom of die Onderwysdepartement aktief besig is om tuisskolers en klein skooltjies uit te snuffel in ‘n poging om die aantal geregistreerde tuisskolers op hul databasis ‘n hupstoot te gee.
In ‘n geval in die Noord-Kaap het die beampte die gesin se huis betree sonder om vooraf ‘n afspraak te maak, en sonder om vooraf van sy agenda kennis te gee. Hy het daarop aangedring om te weet waarom die kinders nie as tuisleerders by die Departeent geregistreer is nie.
Die tuisskoolma het die noodnommer van die Pestalozzi Trust geskakel (die gesin is ‘n lid van die Pestalozzi Trust) en binne minute het die regskonsultant van die Trust die amptenaar gekontak. Hy het aan die amptenaar verduidelik dat die onrealistiese registrasievereistes van die Departement dit vir die gesin onmoontlik gemaak het om hul kinders as tuisleerders te registreer. Daar is afgespreek dat die saak verder bespreek sal word tydens ‘n vergadering tussen die Trust en die Provinsiale Departement, wat DV volgende week sal plaasvind.
Lede word aangemoedig om toe te sien dat hulle lidmaatskap nie verval het nie, sodat die Pestalozzi Trust hul ledegesinne kan bystaan tydens hierdie onaangename ontmoetings wat so uit die bloute plaasvind.

Die Pestalozzi Trust se werksaamhede gaan voort

Na die afsterwe van Leendert van Oostrum, wat in lewe die Voorsitter en Bestuurder van die Pestalozzi Trust was, het die Trustees besluit dat die volgende drie Trustees van die leemtes wat na Leendert se afsterwe ontstaan het, sal vervul.

 

  • Bouwe van der Eems, wat die afgelope 15 jaar in die Dagbestuur van die Trust as Tesourier betrokke was, sal die rol van Voorsitter vervul.
  • Karin van Oostrum, wat saam met Leendert die Pestalozzi Trust gestig het, en sedert die stigting in 1998 aan Leendert se sy gewerk het as Sekretaris van die Trust, sal die rol van Bestuurder vervul.
  • Advokaat André Williams gaan die bestuur ondersteun as regskonsultant. Hy is geruime tyd reeds Trustee van die Pestalozzi Trust en was betrokke in verskeie gesprekke met die owerhede oor tuisonderwys.

 

Die werksaamhede van die Trust gaan dus voort. Die navraag- en inligtingfunksie, asook die 24/7-noodlyn bly onveranderd en is steeds in werking, soos altyd. (Juis op hierdie oomblik is ons landlyne ongelukkig buite werking as gevolg van ‘n storm, maar ons vertrou dit sal binnekort herstel wees. Ons kan egter ook per e-pos bereik word, en die noodnommer is onveranderd en beskikbaar.)

In Memoriam

Met leedwese moet ek meedeel dat Leendert van Oostrum, voorsitter van die Pestalozzi Trust, op 13 Oktober 2016 oorlede is, op 64-jarige ouderdom. Sedert middel Augustus was hy vir ‘n verskeidenheid komplikasies in en uit die hospitaal en is gister in die Eugene Marais hospitaal in Pretoria oorlede. Hy word oorleef deur sy vrou Karin en drie dogters, Cornelia, Uda en Katrina.

Dit is onmoontlik om te peil wat Leendert oor die laaste drie dekades beteken het vir duisende ouers wat tuisonderwys gee en gegee het, en hy gaan voorwaar ‘n groot leemte laat. Leendert is die stigter van die Pestalozzi Trust en hierdie organisasie se werk is ryklik geseën sodat dit ‘n veilige omgewing geskep het waarin tienduisende ouers met gemoedsrus kan tuisonderwys gee.

Ons is dankbaar dat hierdie nalatenskap van Leendert kan voortgaan om die vryheid van tuisonderwys te beskerm. Die Pestalozzi Trust se aktiwiteite gaan voort soos normaal, en die trustees sal in die komende weke vergader om nuwe ampsdraers aan te stel.

Intussen word u opgeroep om in julle gebede aan Karin en haar kinders en skoonkinders te dink dat hulle krag kan ontvang om die verlies te verwerk en weer te kan voortgaan met hulle take. U is ook welkom om ‘n boodskap te stuur na dievanoostrums@gmail.com of
dievanoostrums.navrae@gmail.com. Inligting in verband met ‘n gedenkdiens sal op ‘n latere stadium deurgegee word.

– Bouwe van der Eems (Trustee : Pestalozzi Trust)

Cognition.Online: die Uber en AirBnB van tutors

Soek jy ’n tutor? Probeer Cognition.Online – ontwikkel deur oud-tuisskoler Waldo Boshoff. Dit is ’n toep-gebaseerde platform in iOS en Android, wat die tutor-industrie ’n splinternuwe baadjie aantrek, en alle ander platforms wat tans beskikbaar is, verbysteek. ’n Bietjie soos Uber en AirBnB, ontmoet studente-vraag en tutor-aanbod mekaar teen ’n wedersyds ooreengekome prys.

waldo-boshoff-en-span-wen-samsung-r50000
(Waldo en sy span word as wenners van die Samsung Launching People Innovation Competition aangewys.)

Waldo het sy Honneursgraad in Ingenieurswese behaal, en staan nou aan die hoof van die maatskappy Cognition.Online. Vyf sagteware-, siviele en industriële ingenieurs van Pretoria, asook entrepreneurs met ’n verskeidenheid vaardighede, het saamgespan om die tutor-industrie met behulp van revolusionêre tegnologie deur hierdie toep soos handomkeer te verander. Die maatskappy was ’n wenner in die Samsung Launching People Innovation Competition. Gaan lees verder by http://cognition.online/.

 

 

 

 

Verslag oor die GHEC2016 Rio de Janeiro

Rio mistig

Die Global Home Education Conference (GHEC) 2016-konferensie het in Maart 2016 in Rio de Janeiro in Brasilië plaasgevind. Die Pestalozzi Trust se Raad van Trustees het drie van die trustees na die konferensie in Brasilië gestuur. Dit was ‘n groot uitgawe, maar ’n wonderlike ondervinding om met soveel tuisskolers vanoor die hele wêreld kon skakel. Dit het vir ons ook duidelik geword dat die werklike en potensiële voordele vir Suid-Afrikaanse tuisskolers weldeeglik die koste en moeite werd was.

Dit is die tweede wêreldkonferensie wat gehou is – die vorige een is vier jaar gelede in Berlyn, Duitsland, gehou. Leendert was op die organiserende komitee van albei konferensies, en hy en Karin het albei bygewoon. Hierdie keer het Bouwe van der Eems ook die konferensie bygewoon. Die enigste ander verteenwoordiger uit Afrika was Liz Gitonga van Kenia, wat ons voorheen in Berlyn en Nairobi, Kenia, ontmoet het.

Soos die vorige konferensie, is die konferensie deur meer as 200 verteenwoordigers van ongeveer 24 lande bygewoon. Hierdie konferensie was ook ‘n driedaagse konferensie, met twee dae van voor-konferensie-werkswinkels. In Berlyn is die aanbiedings gelyktydig vertaal in Engels, Duits en Russies. In Brasilië was die amptelike vertalings in Engels en Portugees, terwyl baie sessies ook fluistervertaal is in Spaans. Video’s van feitlik al die aanbiedings is gratis op die webblad van die GHEC beskikbaar.

Die hoofspreker was die bekende TED-spreker, prof Sugata Mitra, wat bekend is vir die “Hole-in-the-Wall”-tegnologie, “Self Organised Learning Environments” en “Minimally Invasive  Education”. Die ander sprekers was hoofsaaklik van Europa, en Noord- en Suid-Amerika.

Onder die sprekers was prof. Jan de Grooff van België, een van die vernaamste kenners op die gebied van onderwysreg in die Europese Unie. Die Universiteit van Pretoria het aan prof. de Grooff  ‘n ere-doktorsgraad  toegeken vir sy werk oor onderwysreg in Suid-Afrika. Die konferensie is ook toegespreek deur Sy Koninklike Hoogheid die Hertog van Braganza (die titulêre koning van Portugal), wat  aktief die beskerming van die gesin in Europa en in die Portugees-sprekende wêreld bevorder.

Namens die Suid-Afrikaanse kontingent het Leendert drie en Bouwe twee aanbiedings gedoen. Leendert was ook voorsitter by een van die paneelbesprekings.

Die hoogtepunt van die konferensie was moontlik die toevoeging van ‘n navorsingsbeen, wat baie referate  vanoor die hele wêreld ontvang het.  Die tien beste referate sal in boekformaat deur ‘n Amerikaanse akademiese uitgewer gepubliseer word. Die wenner  van die prys van ongeveer 10000 USD vir die beste referaat was prof. Ingo Richter van Berlyn. In sy referaat beredeneer hy die reg op tuisonderwys uit die perspektief van die regte van die kind, in plaas van uit die perspektief van die regte van die ouer.

Hy noem dit ‘n nuwe wyse om die reg op tuisonderwys te begrond, maar sy argumente is presies dieselfde as dié wat die Pestalozzi Trust die afgelope 20 jaar gebruik! (Die argumente vorm die basis van ‘n artikel van Leendert wat in 2014 in ‘n Britse opvoedkundetydskrif gepubliseer is.)

Dit was ‘n baie geleë tydstip om die konferensie in Brasilië te hou, want daar was toe juis ’n grondwetlike hofsaak oor tuisonderwys aan die gang. Veertien van die 26 state in Brasilië staan die grondwetlikheid van tuisonderwys teë in Brasilië.  Danksy die wye verteenwoordiging by die konferensie was dit moontlik om ‘n span van ‘n halfdosyn van die top regsbreins vanoor die wêreld bymekaar te maak om die Brasiliaanse regspan te adviseer. Suid-Afrika was ook deel van die adviserende span. Intussen het ons die goeie nuus ontvang dat die tuisskoolgesin die hofsaak gewen het, en dat hierdie saak as ’n goeie presedent in die Brasiliaanse howe kan dien vir ander tuisskoolgesinne.

Interessant genoeg was vier van die vyf BRICS-lande verteenwoordig. China was slegs verteenwoordig in die persoon van ‘n akademiese navorser, wat ‘n navorsingsreferaat voorgedra het, maar Brasilië, Rusland en Suid-Afrika was goed verteenwoordig. In al drie hierdie lande is ouers desperaat op soek na alternatiewe tot die wankelende staatsonderwysstelsel.

Een van die uitloopsels van die konferensie was die uitvaardiging van die Rio Principles , wat ’n opsomming van die internasionele reg oor tuisonderwys is. Leendert was een van die vier opstellers van die dokument, wat verkrygbaar is op die webblad van die GHEC.

Alles in ag genome het dit baie goed gegaan met die konferensie, en die gevolge daarvan sal tuisonderwys blywend beïnvloed in die toekoms. Die verteenwoordigers van die Trust kon goeie netwerke vestig, wat ons beslis nodig sal kry wanneer Suid-Afrika ook in ’n stryd gewikkel raak teen die hersiene wet en beleid oor tuisonderwys in Suid-Afrika.